Spring na inhoud

Die einde van valse godsdiens is op hande!

Die einde van valse godsdiens is op hande!

Koninkryksnuus nr. 37

’n Boodskap vir die hele wêreld

Die einde van valse godsdiens is op hande!

▪ Wat is valse godsdiens?

▪ Hoe sal dit tot ’n einde kom?

▪ Hoe sal dit jou raak?

Wat is valse godsdiens?

Ontstel dit jou wanneer misdade in die naam van godsdiens gepleeg word? Druis dit in teen jou sin vir reg en geregtigheid wanneer mense wat beweer dat hulle God dien, hulle skuldig maak aan oorlogvoering, terrorisme en korrupsie? Waarom lyk dit of godsdiens die oorsaak van soveel probleme is?

Die fout lê nie by alle godsdiens nie, maar by valse godsdiens. ’n Hooggeagte godsdiensfiguur, Jesus Christus, het daarop gewys dat valse godsdiens slegte werke voortbring, net soos ’n ‘slegte boom waardelose vrugte voortbring’ (Matteus 7:15-17). Watter vrugte bring valse godsdiens voort?

Valse godsdiens . . . 

MENG IN MET OORLOG EN DIE POLITIEK: “Regoor Asië en in ander plekke”, sê die tydskrif Asiaweek, “maak magshonger leiers hulle skuldig aan skaamtelose manipulasie van mense se godsdiensgevoel om hulle eie belange te bevorder.” Gevolglik waarsku die tydskrif: “Dit lyk of die wêreld op die punt staan om waansinnig te raak.” ’n Vooraanstaande godsdiensleier in die Verenigde State het gesê: “Die terroriste moet eers doodgemaak word voordat die bloedvergieting tot ’n einde sal kom.” Sy oplossing? “Skiet hulle almal dood in die naam van die Here.” In teenstelling hiermee sê die Bybel: “As iemand die bewering maak: ‘Ek het God lief’, en tog sy broer haat, is hy ’n leuenaar” (1 Johannes 4:20). Jesus het selfs gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê” (Matteus 5:44). Aan hoeveel godsdienste kan jy dink waarvan die lidmate aan oorlog deelneem?

VERKONDIG VALSE LEERSTELLINGS: Die meeste godsdienste leer dat die siel of gees ’n onsigbare deel van die mens is wat ná die dood van die fisiese liggaam voortleef. Baie van hierdie godsdienste gebruik hierdie lering om hulle lidmate uit te buit deur van hulle geld te vra om vir heengegane siele te bid. Maar die Bybel leer iets anders. “Die siel wat sondig—dié sal sterf” (Esegiël 18:4). “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks” (Prediker 9:5). Jesus het geleer dat die dooies opgewek sal word—wat onnodig sal wees as mense ’n onsterflike siel gehad het (Johannes 11:11-25). Leer jou godsdiens dat die siel nie sterf nie?

LAAT GESLAGSONSEDELIKHEID TOE: In Westerse lande is daar kerkgroepe wat toelaat dat homoseksuele mans en vroue geestelikes word, en hulle spoor regerings aan om huwelike tussen persone van dieselfde geslag te erken. Selfs kerke wat onsedelikheid veroordeel, het godsdiensleiers wat kinders seksueel gemolesteer het, in hulle amp laat aanbly. Maar wat leer die Bybel? Dit sê duidelik: “Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê . . . , sal God se koninkryk beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). Weet jy van godsdienste wat geslagsonsedelikheid vergoelik?

Wat hou die toekoms in vir godsdienste wat slegte vrugte voortbring? Jesus het gewaarsku: “Elke boom wat nie goeie vrugte voortbring nie, word afgekap en in die vuur gegooi” (Matteus 7:19). Ja, valse godsdiens sal afgekap en vernietig word! Maar hoe en wanneer sal dit gebeur? ’n Profetiese visioen wat in die Bybelboek Openbaring, hoofstukke 17 en 18, opgeteken staan, voorsien die antwoord.

Hoe sal valse godsdiens tot ’n einde kom?

Stel jou die toneel voor. ’n Hoer sit op die rug van ’n vreeswekkende dier. Die dier het sewe koppe en tien horings (Openbaring 17:1-4). Wie word deur die hoer afgebeeld? Sy oefen invloed uit op “die konings van die aarde”. Sy is geklee in purper, gebruik reukwerk en is skatryk. Verder word “al die nasies mislei” deur haar spiritistiese gebruike (Openbaring 17:18; 18:12, 13, 23). Die Bybel help ons om te sien dat hierdie hoer ’n wêreldwye godsdiensorganisasie is. Sy stel nie net een godsdiens voor nie, maar alle godsdienste wat slegte vrugte voortbring.

Die dier waarop die hoer ry, stel die wêreld se politieke magte voor (Openbaring 17:10-13). * Valse godsdiens ry op die rug van hierdie politieke dier en probeer om die besluite wat dit maak, te beïnvloed en die koers wat dit inslaan, te beheer.

Maar binnekort sal iets verbasends plaasvind. “Die tien horings wat jy gesien het, en die wilde dier, hulle sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand” (Openbaring 17:16). Dit sal beslis ’n skielike, skokkende verwikkeling wees wanneer die wêreld se politieke magte valse godsdiens aanval en haar heeltemal vernietig! Wat sal hiertoe aanleiding gee? Die Bybelboek Openbaring antwoord: “God het dit in hulle harte gesit om sy gedagte uit te voer” (Openbaring 17:17). Ja, God sal valse godsdiens tot verantwoording roep vir al die veragtelike dade wat sy in Sy naam gepleeg het. Hy sal sy volmaakte geregtigheid openbaar wanneer hy haar politieke minnaars as sy teregstellingsinstrument gebruik.

Wat moet jy doen as jy nie valse godsdiens se lot wil deel nie? “Gaan uit haar uit, my volk”, maan God se boodskapper (Openbaring 18:4). Ja, dit is nou die tyd om uit valse godsdiens te vlug! Maar waarheen kan jy vlug? Nie na ateïsme nie, want dit het ook ’n donker toekoms (2 Tessalonisense 1:6-9). Die enigste toevlug is ware godsdiens. Hoe kan jy die ware godsdiens identifiseer?

Hoe om die ware godsdiens te identifiseer

Watter goeie vrugte moet die ware godsdiens voortbring?—Matteus 7:17.

Die ware godsdiens . . .

BEOEFEN LIEFDE: Ware aanbidders is “geen deel van die wêreld nie”, hulle word nie deur ras of kultuur verdeel nie en hulle het “liefde onder mekaar” (Johannes 13:35; 17:16; Handelinge 10:34, 35). Hulle maak mekaar ook nie dood nie, maar is eerder bereid om vir mekaar te sterf.—1 Johannes 3:16.

VERTROU OP GOD SE WOORD: Die ware godsdiens baseer sy leringe, nie op “oorlewering” en “gebooie van mense as leerstellings” nie, maar op God se Woord, die Bybel (Matteus 15:6-9). Waarom? Want “die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel”.—2 Timoteus 3:16.

BOU GESINNE OP EN HOU BY HOË SEDELIKE STANDAARDE: Die ware godsdiens leer mans om “hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam”, help vrouens om ‘diep respek vir hulle mans’ te ontwikkel en leer kinders om ‘gehoorsaam aan hulle ouers te wees’ (Efesiërs 5:28, 33; 6:1). Daarbenewens moet diegene aan wie gesagsposisies toevertrou is, ’n voorbeeld stel wat sedes betref.—1 Timoteus 3:1-10.

Voldoen enige godsdiens aan hierdie standaarde? Die boek Holocaust Politics, wat in 2001 uitgegee is, sê: “As meer mense die leringe gevolg het wat Jehovah se Getuies verkondig en toepas, kon die Slagting verhoed gewees het en sou volksmoorde die wêreld nie meer teister nie.”

Trouens, in 235 lande verkondig Jehovah se Getuies nie net die Bybel se sedelike standaarde nie—hulle lewe in ooreenstemming daarmee. Ons spoor jou aan om Jehovah se Getuies te vra om jou te help om uit te vind wat God van jou vereis sodat jy hom op aanneemlike wyse kan aanbid. Dit is nou die tyd om op te tree. Moenie uitstel nie. Die einde van valse godsdiens is op hande!—Sefanja 2:2, 3.

As jy meer inligting wil hê oor die Bybelse boodskap wat Jehovah se Getuies verkondig, kan jy gerus met hulle in aanraking kom by die adres hieronder.

□ Lewer asseblief die brosjure Hou aan waak! by my af, sonder enige verpligting.

□ Tree asseblief met my in verbinding in verband met ’n gratis tuisbybelstudie.

[Voetnoot]

^ Vir ’n breedvoerige bespreking van hierdie onderwerp, sien die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Lokteks op bladsy 3]

Valse godsdiens oefen invloed uit op “die konings van die aarde”

[Lokteks op bladsy 3]

“Gaan uit haar uit, my volk”