Jeremia 35:1-19

  • Regabiete se gehoorsaamheid (1-19)

35  Jeremia het in die tyd van Jojaʹkim,+ die seun van Josiʹa, die koning van Juda, die volgende boodskap van Jehovah ontvang:  “Gaan na die huis van die Regabiete+ en praat met hulle en bring hulle na die huis van Jehovah, na een van die eetkamers. Bied dan vir hulle wyn aan om te drink.”  Toe het ek Jaäsanʹja, die seun van Jeremia, die seun van Habassinʹja, sowel as sy broers, al sy seuns en die hele huis van die Regabiete  in die huis van Jehovah ingebring. Ek het hulle gebring na die eetkamer van die seuns van Hanan, die seun van Jigdalʹja, ’n man van die ware God. Daardie eetkamer was langs die eetkamer van die leiers, wat bo die eetkamer van Maäseʹja, die seun van Sallum, die deurwagter, was.  Toe het ek koppies en bekers vol wyn voor die manne van die huis van die Regabiete gesit en vir hulle gesê: “Drink wyn.”  Maar hulle het gesê: “Ons sal nie wyn drink nie, want Joʹnadab,+ die seun van Regab, ons voorvader, het ons die volgende bevel gegee: ‘Nie julle of julle kinders mag ooit wyn drink nie.  En julle mag nie ’n huis bou, saad saai, plant of ’n wingerd verkry nie. Julle moet eerder altyd in tente woon, sodat julle lank kan lewe in die land waar julle as uitlanders woon.’  Ons bly dus gehoorsaam aan die stem van Joʹnadab, die seun van ons voorvader Regab, in alles wat hy ons beveel het deur nooit enige wyn te drink nie – nie ons, ons vrouens, ons seuns of ons dogters nie.  En ons bou nie huise om in te woon nie, en ons het ook nie wingerde of landerye of saad nie. 10  Ons hou aan om in tente te woon, en ons bly gehoorsaam aan alles wat Joʹnadab, ons voorvader, ons beveel het. 11  Maar toe koning Nebukadneʹsar* van Babilon teen die land opgetrek het,+ het ons gesê: ‘Kom, laat ons in Jerusalem ingaan om van die leërmag van die Galdeërs en van die Siriërs af weg te kom.’ En nou woon ons in Jerusalem.” 12  En Jehovah het met Jeremia gepraat en gesê: 13  “Dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê: ‘Gaan en sê vir die manne van Juda en vir die inwoners van Jerusalem: “Was julle nie heeltyd aangespoor om my woorde te gehoorsaam nie?”+ sê Jehovah. 14  “Joʹnadab, die seun van Regab, het sy nakomelinge beveel om nie wyn te drink nie, en hulle het gedoen wat hy gesê het deur tot vandag toe geen wyn te drink nie. Op hierdie manier het hulle die bevel van hulle voorvader gehoorsaam.+ Maar ek het keer op keer met julle gepraat,* en tog het julle my nie gehoorsaam nie.+ 15  En ek het al my knegte, die profete, na julle toe bly stuur. Ek het hulle keer op keer gestuur*+ en gesê: ‘Keer asseblief terug van julle goddelose weë,+ elkeen van julle, en doen wat reg is! Moenie agter ander gode aanloop en hulle dien nie. Dan sal julle bly woon in die land wat ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het.’+ Maar julle het nie aandag geskenk of na my geluister nie. 16  Die nakomelinge van Joʹnadab, die seun van Regab, was gehoorsaam aan die bevel wat hulle voorvader hulle gegee het,+ maar hierdie volk het nie na my geluister nie.”’” 17  “Daarom is dít wat Jehovah, die God van die leërmagte, die God van Israel, sê: ‘Ek bring al die rampspoed oor Juda en oor al die inwoners van Jerusalem waarteen ek hulle gewaarsku het,+ want ek het met hulle gepraat, maar hulle het nie geluister nie, en ek het hulle bly roep, maar hulle het nie geantwoord nie.’”+ 18  En Jeremia het vir die huis van die Regabiete gesê: “Dít is wat Jehovah van die leërmagte, die God van Israel, sê: ‘Julle het die bevel van julle voorvader Joʹnadab gehoorsaam, en julle hou aan om al sy bevele te gehoorsaam en doen presies wat hy julle beveel het, en daarom 19  sê Jehovah van die leërmagte, die God van Israel: “Daar sal altyd ’n nakomeling van Joʹnadab, die seun van Regab, wees wat in my teenwoordigheid dien.”’”

Voetnote

Lett. “Nebukadresar”, ’n wisselvorm van die naam.
Lett. “vroeg opgestaan en gepraat”.
Lett. “vroeg opgestaan en gestuur”.