Jeremia 36:1-32

  • Jeremia dikteer inhoud van boekrol (1-7)

  • Barug lees hardop uit boekrol (8-19)

  • Jojakim verbrand boekrol (20-26)

  • Boodskap oorgeskryf in nuwe boekrol (27-32)

36  In die vierde jaar van Jojaʹkim,+ die seun van Josiʹa, die koning van Juda, het Jeremia die volgende boodskap van Jehovah ontvang:  “Neem ’n boekrol en skryf al die woorde daarin wat ek teen Israel en Juda+ en teen al die nasies vir jou gesê het,+ van die eerste dag dat ek met jou in Josiʹa se tyd gepraat het tot vandag toe.+  Miskien, wanneer dié van die huis van Juda hoor van al die rampspoed wat ek oor hulle wil bring, sal hulle hulle goddelose weë los, sodat ek hulle oortreding en hulle sonde kan vergewe.”+  Jeremia het toe vir Barug,+ die seun van Neriʹa, geroep, en Jeremia het al die woorde wat Jehovah vir hom gesê het, gedikteer, en Barug het dit in die boekrol geskryf.+  Toe het Jeremia vir Barug gesê: “Ek kan nie in die huis van Jehovah ingaan nie.  Daarom sal jý moet ingaan en die woorde van Jehovah hardop uit die boekrol moet lees wat jy geskryf het en wat ek gedikteer het. Lees dit in die huis van Jehovah in die teenwoordigheid van die volk op ’n dag wanneer almal vas. Dan sal jy dit kan lees vir die hele volk van Juda wat uit hulle stede kom.  Miskien sal Jehovah hulle versoek om genade hoor en sal elkeen van sy goddelose weë terugkeer, want Jehovah het groot woede teen hierdie volk verkondig.”  Barug, die seun van Neriʹa, het dus alles gedoen wat die profeet Jeremia hom beveel het. Hy het die woorde van Jehovah in die huis van Jehovah hardop uit die boekrol gelees.+  En in die vyfde jaar van Jojaʹkim,+ die seun van Josiʹa, die koning van Juda, in die negende maand, het almal in Jerusalem en almal wat uit die stede van Juda na Jerusalem gekom het, ’n vas voor Jehovah afgekondig.+ 10  Barug het toe die woorde van Jeremia hardop uit die boekrol gelees. Hy het dit in die teenwoordigheid van die hele volk gedoen by die huis van Jehovah, in die eetkamer van Gemarʹja,+ die seun van Safan,+ die kopiis,* in die boonste voorhof, by die ingang van die nuwe poort van die huis van Jehovah.+ 11  Toe Migaʹja, die seun van Gemarʹja, die seun van Safan, al die woorde van Jehovah in die boekrol gehoor het, 12  het hy afgegaan na die paleis* van die koning, na die sekretaris se kantoor. Al die leiers* het daar gesit: die sekretaris Elisaʹma,+ Delaʹja, die seun van Semaʹja, Elʹnatan,+ die seun van Agbor,+ Gemarʹja, die seun van Safan, Sedekiʹa, die seun van Hananʹja, en al die ander leiers. 13  Migaʹja het hulle al die woorde vertel wat hy gehoor het toe Barug in die teenwoordigheid van die volk uit die boekrol gelees het. 14  Toe het al die leiers Jehuʹdi, die seun van Netanʹja, die seun van Selemʹja, die seun van Kusi, na Barug toe gestuur om te sê: “Kom, en bring die boekrol saam met jou waaruit jy in die teenwoordigheid van die volk gelees het.” Barug, die seun van Neriʹa, het die boekrol in sy hand geneem en na hulle toe gegaan. 15  Hulle het vir hom gesê: “Sit asseblief en lees dit hardop vir ons.” Toe het Barug dit vir hulle gelees. 16  En toe hulle al die woorde hoor, het hulle bang na mekaar gekyk en vir Barug gesê: “Ons moet beslis al hierdie woorde vir die koning vertel.” 17  En hulle het vir Barug gesê: “Vertel ons asseblief hoe jy al hierdie woorde neergeskryf het. Het hy dit aan jou gedikteer?” 18  Barug het hulle geantwoord: “Hy het al hierdie woorde aan my gedikteer, en ek het dit met ink in hierdie boekrol neergeskryf.” 19  Die leiers het vir Barug gesê: “Gaan kruip weg, jy en Jeremia, en moenie dat enigiemand uitvind waar julle is nie.”+ 20  Toe het hulle na die koning gegaan, na die voorhof, en hulle het die boekrol in die kantoor van die sekretaris Elisaʹma neergesit, en hulle het die koning alles vertel wat hulle gehoor het. 21  Toe het die koning Jehuʹdi+ gestuur om die boekrol te gaan haal, en hy het dit uit die kantoor van die sekretaris Elisaʹma gebring. Jehuʹdi het dit begin lees in die teenwoordigheid van die koning en al die leiers wat by die koning gestaan het. 22  Die koning het in die winterhuis gesit, in die negende maand,* met ’n vuur wat in die kolebak voor hom gebrand het. 23  Nadat Jehuʹdi drie of vier kolomme gelees het, het die koning daardie stuk met die sekretaris se mes afgesny en dit in die vuur gegooi wat in die kolebak gebrand het, totdat die hele boekrol in die vuur beland het wat in die kolebak was. 24  En hulle was nie bang nie. Nie die koning of enige van sy knegte wat al hierdie woorde gehoor het, het hulle klere geskeur nie. 25  Al het Elʹnatan,+ Delaʹja+ en Gemarʹja+ die koning gesmeek om nie die boekrol te verbrand nie, het hy nie na hulle geluister nie. 26  Verder het die koning Jeragʹmeël, die seun van die koning, Seraʹja, die seun van Asʹriël, en Selemʹja, die seun van Abʹdeël, beveel om die sekretaris Barug en die profeet Jeremia te gaan haal, maar Jehovah het hulle weggesteek.+ 27  Nadat die koning die boekrol verbrand het waarin die woorde was wat Jeremia aan Barug gedikteer het, het Jeremia weer ’n boodskap van Jehovah ontvang,+ wat gesê het: 28  “Neem ’n ander boekrol, en skryf daarin al die woorde wat in die eerste boekrol was, wat koning Jojaʹkim van Juda verbrand het.+ 29  En jy moet teen koning Jojaʹkim van Juda sê: ‘Dít is wat Jehovah sê: “Jy het hierdie boekrol verbrand en gesê: ‘Hoekom het jy daarin geskryf: “Die koning van Babilon sal beslis kom en hierdie land vernietig en mens en dier daaruit verwyder”?’+ 30  Daarom is dít wat Jehovah teen koning Jojaʹkim van Juda sê: ‘Hy sal niemand hê wat op die troon van Dawid sit nie,+ en sy lyk sal in die dag oop lê in die hitte en in die nag oop lê in die ryp.+ 31  Ek sal hom en sy nakomelinge* en sy knegte straf vir hulle oortreding, en ek sal oor hulle en oor die inwoners van Jerusalem en oor die manne van Juda al die rampspoed bring wat ek teen hulle gespreek het,+ want hulle het nie geluister nie.’”’”+ 32  Jeremia het toe ’n ander boekrol geneem en dit vir die sekretaris Barug,+ die seun van Neriʹa, gegee, en Jeremia het vir Barug gedikteer, en hy het al die woorde van die boekrol wat koning Jojaʹkim van Juda in die vuur verbrand het, daarin geskryf.+ En nog baie soortgelyke woorde is bygevoeg.

Voetnote

Of “oorskrywer”.
Of “hofbeamptes”.
Lett. “huis”.
Die laaste helfte van November en die eerste helfte van Desember. Sien Aanh. B15.
Lett. “saad”.