Jeremia 40:1-16

  • Nebusaradan bevry Jeremia (1-6)

  • Gedalja oor land aangestel (7-12)

  • Komplot teen Gedalja (13-16)

40  Jeremia het ’n boodskap van Jehovah ontvang nadat Nebusaraʹdan,+ die hoof van die wagte, hom uit Rama+ vrygelaat het. Jeremia is in handboeie deur Nebusaraʹdan soontoe geneem, en hy was onder al die ballinge* van Jerusalem en van Juda wat na Babilon gedeporteer sou word.  Toe het die hoof van die wagte Jeremia geneem en vir hom gesê: “Jehovah jou God het hierdie rampspoed teen hierdie plek voorspel,  en Jehovah het dit laat gebeur net soos hy gesê het, omdat julle teen Jehovah gesondig het en sy stem nie gehoorsaam het nie. Daarom het dit met julle gebeur.+  Vandag haal ek die boeie van jou hande af. As dit goed is in jou oë om saam met my na Babilon te kom, kom, en ek sal vir jou sorg. Maar as jy nie saam met my na Babilon wil kom nie, moenie kom nie. Die hele land is voor jou. Gaan net waar jy wil.”+  En voordat Jeremia teruggedraai het, het Nebusaraʹdan gesê: “Gaan terug na Gedalʹja,+ die seun van Ahiʹkam,+ die seun van Safan,+ wat die koning van Babilon oor die stede van Juda aangestel het, en bly by hom onder die volk, of gaan net waar jy wil.” Die hoof van die wagte het toe vir hom kos en ’n geskenk gegee en hom laat gaan.  Toe het Jeremia na Gedalʹja, die seun van Ahiʹkam, in Mispa+ gegaan en by hom gaan bly onder die volk wat in die land oorgebly het.  Met verloop van tyd het al die hoofde van die leërmag wat saam met hulle manne in die veld was, gehoor dat die koning van Babilon Gedalʹja, die seun van Ahiʹkam, oor die land aangestel het en dat hy hom aangestel het oor die arm mense van die land, die mans, vrouens en kinders wat nie na Babilon gedeporteer is nie.+  Toe het hulle na Gedalʹja toe gegaan in Mispa.+ Hulle name was Isʹmael,+ die seun van Netanʹja, Johaʹnan+ en Joʹnatan, die seuns van Kareʹag, Seraʹja, die seun van Tanʹhumet, die seuns van Efai, die Netofatiet, en Jesanʹja,+ die seun van die Maägatiet. Hulle het saam met hulle manne daar aangekom.  Gedalʹja, die seun van Ahiʹkam, die seun van Safan, het hulle en hulle manne met ’n eed verseker: “Moenie bang wees om die Galdeërs te dien nie. Woon in die land en dien die koning van Babilon, en dit sal goed gaan met julle.+ 10  Ek sal in Mispa bly om julle te verteenwoordig* voor die Galdeërs wat na ons toe kom. Maar julle moet wyn, somervrugte en olie bymekaarmaak en dit in julle houers bêre, en julle moet in die stede woon wat julle oorgeneem het.”+ 11  En al die Jode wat in Moab, Ammon en Edom was, sowel as dié wat in al die ander lande was, het ook gehoor dat die koning van Babilon ’n oorblyfsel in Juda laat agterbly het en dat hy Gedalʹja, die seun van Ahiʹkam, die seun van Safan, oor hulle aangestel het. 12  Al die Jode het dus begin terugkeer uit al die plekke waarheen hulle verstrooi was, en hulle het na die land van Juda gekom, na Gedalʹja in Mispa. En hulle het ’n baie groot hoeveelheid wyn en somervrugte bymekaargemaak. 13  Johaʹnan, die seun van Kareʹag, en al die hoofde van die leërmag wat in die veld was, het na Gedalʹja toe gekom in Mispa. 14  Hulle het vir hom gevra: “Weet u nie dat Baʹälis, die koning van die Ammoniete,+ Isʹmael, die seun van Netanʹja, gestuur het om u dood te maak nie?”+ Maar Gedalʹja, die seun van Ahiʹkam, het hulle nie geglo nie. 15  Toe het Johaʹnan, die seun van Kareʹag, in die geheim vir Gedalʹja in Mispa gesê: “Ek wil Isʹmael, die seun van Netanʹja, gaan doodmaak, en niemand sal daarvan weet nie. Hoekom moet hy u doodmaak? Hoekom moet almal in Juda wat by u bymekaargekom het, verstrooi word, en hoekom moet die oorblyfsel van Juda verdwyn?” 16  Maar Gedalʹja,+ die seun van Ahiʹkam, het vir Johaʹnan, die seun van Kareʹag, gesê: “Moet dit nie doen nie, want wat jy oor Isʹmael sê, is ’n leuen.”

Voetnote

D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Lett. “om te staan”.