Spring na inhoud

Instruksies vir Ons Christelike Lewe en Bediening-vergadering

Instruksies vir Ons Christelike Lewe en Bediening-vergadering

Inhoudsopgawe

1. Die instruksies in hierdie dokument sal almal help wat ’n deel het op die Ons Christelike Lewe en Bediening-vergadering. Hierdie persone moet eers kyk na die instruksies in die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek en in hierdie dokument voordat hulle hulle deel voorberei. Alle verkondigers moet genooi word om hulle beskikbaar te stel om studentetoewysings aan te bied. Ander wat aktief met die gemeente assosieer, kan deelneem as hulle met Bybelleringe saamstem en in ooreenstemming met Christelike beginsels lewe. Die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering moet die vereistes bespreek met enige iemand wat nie ’n verkondiger is nie, maar wat graag wil deelneem en dan moet hy vir die persoon laat weet of hy kwalifiseer. Dit moet in die teenwoordigheid van die persoon se Bybelstudiehouer gedoen word (of in die teenwoordigheid van ’n ouer wat ’n Getuie is). Die vereistes is dieselfde as dié van iemand wat ’n ongedoopte verkondiger wil word. – od hfst. 8 par. 8.

INLEIDENDE KOMMENTAAR

2. Een minuut. Elke week, ná die openingslied en -gebed, moet die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering afwagting vir die program wek. Die voorsitter moet fokus op punte waarby die gemeente die meeste sal baat vind.

SKATTE UIT GOD SE WOORD

3. Toespraak: Tien minute. Die tema en ’n skets met twee of drie hoofpunte verskyn in die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek. Hierdie toespraak moet aan ’n ouerman of ’n bekwame bedieningskneg toegewys word. Wanneer die weeklikse Bybelleesgedeelte uit ’n nuwe Bybelboek geneem word, sal ’n video gespeel word om die boek in te lei. Die spreker kan wys hoe die video met die tema verband hou. Maar hy moet seker maak dat hy al die punte in die werkboek dek. Afhangende van die tyd moet hy goed gebruik maak van die prente wat ontwerp is om die materiaal te komplimenteer wat gedek moet word. Hy kan ook ander verwysingsmateriaal gebruik, solank dit daartoe bydra dat die punte in die skets goed verduidelik word.

4. Geestelike skatte: Tien minute. Dit is ’n vraag-en-antwoord-bespreking sonder ’n inleiding of ’n slot. Dit moet deur ’n ouerman of ’n bekwame bedieningskneg gedoen word. Die spreker moet albei vrae vra. Hy moet ook besluit of dit nodig is om die teksverwysings te lees. Elke kommentaar uit die gehoor moet 30 sekondes of minder wees.

5. Bybelleesgedeelte: Vier minute. Hierdie deel moet aan ’n man toegewys word. Die student moet die toegewese materiaal lees sonder enige inleiding of slot. Die voorsitter van die vergadering sal veral daarin belangstel om studente te help om akkuraat en vlot te lees, sowel as met begrip, die regte beklemtoning, modulasie, gepaste pousering en natuurlikheid. Omdat party Bybelleestoewysings langer as ander is, moet die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering die vermoëns van die studente in ag neem wanneer hy besluit wie hierdie toewysings gaan doen.

LÊ JOU TOE OP DIE VELDBEDIENING

6. Vyftien minute. Hierdie deel van die vergadering is ontwerp om almal die geleentheid te gee om vir die bediening te oefen sodat hulle hulle vaardighede verbeter om gesprekke te voer en om beter te preek en te onderrig. Wanneer dit nodig is, sal ouermanne dalk studentetoewysings ontvang. Elke student moet op die studiepunt werk wat in die brosjures Onderrig of Wees lief vir mense is wat tussen hakies langs die toewysing in die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek verskyn. Soms sal daar ’n deel wees wat as ’n bespreking geskeduleer word. Hierdie deel moet deur ’n ouerman of bekwame bedieningskneg gedoen word. – Sien paragraaf 15 wat gaan oor hoe om ’n bespreking te hou.

7. Begin ’n gesprek: Hierdie studentetoewysing kan deur ’n man of ’n vrou gedoen word. Die assistent moet van dieselfde geslag of ’n gesinslid wees. Die student en die assistent kan sit of staan. – Vir meer inligting oor die inhoud en agtergrond van hierdie toewysing, sien paragraaf 12 en 13.

8. Volg op: Hierdie studentetoewysing kan deur ’n man of ’n vrou gedoen word. Die assistent moet van dieselfde geslag wees (km 5/97 bl. 3). Die student en die assistent kan sit of staan. Die student moet demonstreer wat gesê kan word wanneer hy of sy teruggaan om op te volg op ’n vorige gesprek. – Vir meer inligting oor die inhoud en agtergrond van hierdie toewysing, sien paragraaf 12 en 13.

9. Maak dissipels: Hierdie studentetoewysing kan deur ’n man of ’n vrou gedoen word. Die assistent moet van dieselfde geslag wees (km 5/97 bl. 3). Die student en die assistent kan sit of staan. Hierdie toewysing moet ’n deel van ’n Bybelstudie demonstreer wat reeds aan die gang is. ’n Inleiding of slot is nie nodig nie, tensy die student spesifiek aan een van hierdie studiepunte werk. Dit is nie nodig om al die toegewese materiaal hardop te lees nie, maar dit kan gedoen word.

10. Verduidelik wat jy glo: Wanneer hierdie deel ’n toespraak is, moet dit deur ’n man gedoen word. Wanneer hierdie deel ’n demonstrasie is, kan dit deur ’n man of ’n vrou gedoen word. Die assistent moet van dieselfde geslag of ’n gesinslid wees. Die student moet die inligting in die verwysings gebruik om ’n duidelike en taktvolle antwoord op die vraag te gee. Die student kan besluit of hy gedurende sy deel wil verwys na die publikasie wat genoem word.

11. Toespraak: Hierdie studentetoewysing moet deur ’n man gedoen word en moet as ’n toespraak aan die gemeente gegee word. Wanneer die toespraak gebaseer is op ’n punt uit Aanhangsel A van die brosjure Wees lief vir mense, moet die student wys hoe om die vers(e) in die bediening te gebruik. Byvoorbeeld, hy kan verduidelik wanneer ’n vers gebruik kan word, wat die vers beteken en hoe om met iemand daaroor te redeneer. Wanneer die toespraak gebaseer is op ’n punt uit een van die lesse in die brosjure Wees lief vir mense, moet die student fokus op hoe om dié punt in die bediening toe te pas. As dit hom sal help, kan hy die voorbeeld noem wat in punt 1 van die les is, of hy kan enige van die bykomende verse noem wat by die les ingesluit is.

12. Inhoud: Die materiaal in hierdie paragraaf en die volgende een is van toepassing op die toewysings “Begin ’n gesprek” en “Volg op”. Tensy anders aangedui, is die student se doel om ’n eenvoudige Bybelwaarheid te deel met die persoon met wie hy praat oor iets waarin die persoon belangstel en om die grondslag te lê vir nog ’n gesprek. Die student moet ’n onderwerp kies wat in hulle area tydig en effektief is. Hy kan besluit of hy ’n publikasie of video uit ons Gereedskapskissie vir Onderrigting wil gebruik. In plaas daarvan om ’n gememoriseerde aanbieding te doen, moet studente leer om hulle vaardighede om gesprekke te voer te verbeter, soos om natuurlik te wees en om persoonlike belangstelling te wys.

13. Agtergrond: Die student moet die agtergrond wat hy kry op plaaslike omstandighede toepas. Byvoorbeeld:

  1. (1) Huis tot Huis: Hierdie agtergrond sluit in om van deur tot deur te preek – of dit nou in persoon, oor die foon of deur middel van briewe is – en om op te volg op ’n vorige gesprek met ’n persoon wat in die huis-tot-huis-bediening gekontak was.

  2. (2) Informele getuieniswerk: Hierdie agtergrond wys hoe om van geleenthede gebruik te maak om ’n gewone gesprek in ’n getuienis te verander. Dit kan ’n gedagte uit die Bybel insluit wat jy deel met iemand by die werk, by die skool, in jou buurt, op openbare vervoer of iewers anders terwyl jy besig is met jou daaglikse takies.

  3. (3) Openbare getuieniswerk: Hierdie agtergrond kan insluit, trollie-getuieniswerk, om mense by besighede te besoek, straatgetuieniswerk, getuieniswerk in parke, parkeerterreine of waar daar ook al mense is.

14. Gebruik van video’s en lektuur: Afhangende van die omstandighede kan die student besluit om ’n video of lektuur te gebruik. As ’n studentetoewysing ’n video insluit, of as die student besluit om een te gebruik, moet hy dit noem en bespreek maar nie speel nie.

DIE CHRISTELIKE LEWENSWYSE

15. Ná ’n lied sal die volgende 15 minute van hierdie deel bestaan uit een of twee dele wat bedoel is om die gehoor te help om God se Woord toe te pas. Tensy anders aangedui, kan hierdie dele aan ouermanne of bekwame bedieningsknegte toegewys word, behalwe die deel oor plaaslike behoeftes, wat aan ’n ouerman toegewys moet word. Wanneer ’n deel ’n bespreking is, kan die spreker gedurende sy deel ekstra vrae vra by dié wat alreeds gegee is. Hy moet sy inleiding kort hou om genoeg tyd toe te laat om die hoofpunte te dek en vir die gehoor om deel te neem. As daar ’n onderhoud is, moet die persoon met wie die onderhoud gevoer word dit van die verhoog af doen in plaas van sy sitplek, as dit moontlik is.

16. Gemeentelike Bybelstudie: Dertig minute. Hierdie deel moet aan ’n bekwame ouerman toegewys word. (Gemeentes met min ouermanne mag bekwame bedieningsknegte gebruik, wanneer dit nodig is.) Die liggaam van ouermanne moet bepaal wie kwalifiseer om die Gemeentelike Bybelstudie te hou. Die broers wat goedgekeur word, moet op ’n betekenisvolle manier die leiding kan neem om die studie op tyd te hou, die sleuteltekste te beklemtoon en almal te help om die praktiese waarde van die materiaal te sien. Dié wat goedgekeur is, sal baat vind deur te kyk na gepubliseerde riglyne oor hoe om vraag-en-antwoord-dele te hou (w23.04 bl. 24, venster). Nadat die toegewese materiaal vir die week goed gedek is, is dit nie nodig om die studie uit te rek nie. Waar moontlik moet daar elke week verskillende studiehouers en lesers gebruik word. As die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering sê dat die studie verkort moet word, sal die studiehouer moet besluit hoe om die studie te verkort. Hy kan besluit om party paragrawe nie te laat lees nie.

SLOTKOMMENTAAR

17. Drie minute. Die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering sal nuttige punte van die vergadering hersien. Hy moet ook ’n oorsig gee van die materiaal wat die volgende week bespreek sal word. As daar tyd is, kan hy die name lees van die studente wat die volgende week toewysings het. Tensy anders aangedui, moet die voorsitter gedurende sy slotkommentaar enige nodige aankondigings maak of nodige briewe vir die gemeente lees. Algemene inligting, soos normale velddiensreëlings en skoonmaakroosters, moenie van die verhoog af aangekondig word nie, maar moet op die kennisgewingbord geplaas word. As daar nie genoeg tyd gedurende die slotkommentaar sal wees om hierdie aankondigings te maak of briewe te lees nie, moet die voorsitter die broers wat dele op die Christelike Lewenswyse-deel van die vergadering het, vra om hulle dele te verkort, soos nodig. (Sien paragraaf 16 en 19.) Die vergadering sal met ’n lied en gebed afgesluit word.

AANMOEDIGING EN RAAD

18. Ná elke studentetoewysing het die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering ongeveer een minuut om die student te prys en raad te gee wat gebaseer is op die toegewese studiepunt. Wanneer die voorsitter ’n student se deel inlei, sal hy nie die studiepunt noem nie. Maar nadat die student sy toewysing voltooi het en die voorsitter hom op gepaste wyse geprys het, kan die voorsitter sê op watter studiepunt die student werk en hoekom die student goed gedoen het, of hy kan liefdevol verduidelik hoekom en hoe die student verdere aandag aan hierdie spesifieke punt moet gee. Die voorsitter kan ook kommentaar lewer oor ander aspekte van die demonstrasie as hy dink dat die student of die gehoor daarby sal baat vind. Bykomende opbouende raad wat op die Wees lief vir mense-brosjure, Onderrig-brosjure of die Bedieningskool-boek gebaseer is, kan ná die vergadering of by ’n ander geleentheid privaat aan die student gegee word, of dit nou oor die toegewese studiepunt of oor ’n ander studiepunt is. – Vir meer inligting oor die rol van die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering en die rol van die bykomende raadgewer, sien paragraaf 19, 24 en 25.

TYDREËLING

19. Geen deel moet oortyd gaan nie, insluitende die opmerkings van die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering. Alhoewel die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek sê hoe lank elke deel moet wees, is dit nie nodig om nog inligting by te sit om al die tyd te gebruik as die materiaal goed gedek is nie. As dele oortyd gaan, moet die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering of die bykomende raadgewer die broer wat die deel gedoen het, privaat raad gee. (Sien paragraaf 24 en 25.) Die hele vergadering, insluitende die liedere en gebede, moet 1 uur en 45 minute wees.

BESOEK VAN DIE KRINGOPSIENER

20. Wanneer die kringopsiener die gemeente besoek, moet die program in die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek gevolg word, maar met die volgende aanpassings: Die Gemeentelike Bybelstudie in die Christelike Lewenswyse-deel sal vervang word met ’n dienstoespraak van 30 minute deur die kringopsiener. Voor die dienstoespraak sal die voorsitter van die Lewe en Bediening-vergadering die vergadering hersien, ’n oorsig gee van die volgende week se program, enige nodige aankondigings maak en briewe lees en dan die kringopsiener na die verhoog nooi. Ná die dienstoespraak sal die kringopsiener die vergadering afsluit met ’n lied van sy keuse. As hy wil, kan hy ’n ander broer nooi om die slotgebed te doen. Geen bykomende klasse in die taal van die gemeente moet gedurende die besoek van die kringopsiener gehou word nie. ’n Groep kan vergaderinge hou selfs wanneer die kringopsiener die gasheergemeente besoek. Die groep moet egter vir die kringopsiener se dienstoespraak by die gasheergemeente aansluit.

WEEK VAN ’N BYEENKOMS

21. Gedurende die week van ’n byeenkoms word geen gemeentelike vergaderinge gehou nie. Die gemeente moet daaraan herinner word dat die materiaal wat gedurende hierdie week by die vergadering bespreek sou word, tydens persoonlike of gesinstudie gedek moet word.

WEEK VAN DIE GEDENKMAAL

22. Wanneer die Gedenkmaal op ’n weeksdag val, word geen Lewe en Bediening-vergadering gehou nie.

OPSIENER VAN DIE LEWE EN BEDIENING-VERGADERING

23. ’n Ouerman wat deur die liggaam van ouermanne gekies is, sal as die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering dien. Dit is sy verantwoordelikheid om te verseker dat hierdie vergadering goed georganiseer is en volgens hierdie instruksies gehou word. Hy en die bykomende raadgewer moet goed met mekaar kommunikeer. Sodra die Lewe en Bediening-vergaderingwerkboek beskikbaar is, sal die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering al die dele toewys vir die Lewe en Bediening-vergadering vir die twee maande lange tydperk. Dit sluit in die nie-studentetoewysings en die voorsitter vir die Lewe en Bediening-vergadering wat deur die liggaam van ouermanne goedgekeur is, sowel as die studentetoewysings. (Sien paragraaf 3-16 en 24.) Wanneer hy vir die studente toewysings gee, moet hy die student se ouderdom, ondervinding en vryheid van spraak oor die onderwerp in ag neem. Hy moet hierdie dinge ook in gedagte hou wanneer hy ander dele van die vergadering toewys. Elke toewysing moet ten minste drie weke voor die datum van die toewysing aan die student gegee word. Die vorm Toewysing vir Ons Christelike Lewe en Bediening-vergadering (S-89) moet vir die studentetoewysings gebruik word. Die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering moet seker maak dat ’n kopie van die rooster vir die toewysings vir die hele vergadering op die gemeente se kennisgewingbord gesit word. Die liggaam van ouermanne kan ’n ander ouerman of ’n bedieningskneg toewys om hom te help. Maar net ouermanne moet gebruik word om nie-studentetoewysings toe te wys.

VOORSITTER VAN DIE LEWE EN BEDIENING-VERGADERING

24. Elke week sal een ouerman die voorsitter van die hele Lewe en Bediening-vergadering wees. (Waar daar min ouermanne is, kan bekwame bedieningsknegte gebruik word, soos nodig.) Dit sal sy verantwoordelikheid wees om die inleidende en slotkommentaar voor te berei. Hy sal ook al die dele inlei en hy sal, afhangende van die grootte van die liggaam van ouermanne, moontlik ook sekere ander vergaderingdele doen, veral dele wat net vereis dat ’n video gewys moet word sonder enige bespreking. Kommentare tussen vergaderingdele moet baie kort wees. Die liggaam van ouermanne sal besluit watter ouermanne kwalifiseer om voorsitters te wees. Hierdie ouermanne sal gewoonlik beurte kry om as voorsitter te dien. Afhangende van plaaslike omstandighede kan die opsiener van die Lewe en Bediening-vergadering meer as die ander ouermanne as voorsitter gebruik word. As ’n ouerman kwalifiseer om die Gemeentelike Bybelstudie te hou, kwalifiseer hy waarskynlik ook om die voorsitter van die vergadering te wees. Maar hou asseblief in gedagte dat dit die voorsitter se verantwoordelikheid is om diegene wat studentetoewysings het, liefdevol te prys en nuttige raad te gee, soos nodig. Dit is ook sy verantwoordelikheid om seker te maak dat die vergadering op tyd eindig. (Sien paragraaf 17 en 19.) As die voorsitter wil en daar genoeg plek is, kan ’n staanmikrofoon op die verhoog opgestel word sodat hy elke deel kan inlei terwyl die broer wat die deel gaan doen, by die rostrum gaan staan. Of die voorsitter kan by ’n tafel op die verhoog sit gedurende die Bybellees-studentetoewysing en die “Lê jou toe op die veldbediening”-deel van die vergadering. Dit kan tyd spaar.

BYKOMENDE RAADGEWER

25. Indien moontlik moet ’n ouerman wat ’n ervare spreker is, hierdie rol vervul. Die bykomende raadgewer se verantwoordelikheid is om, indien nodig, privaat aan ouermanne en bedieningsknegte raad te gee oor enige toewysing wat hulle doen. Dit sluit dele op die Lewe en Bediening-vergadering en openbare toesprake in, sowel as die toewysing om die Wagtoring-studie of Gemeentelike Bybelstudie te hou of die paragrawe te lees. (Sien paragraaf 19.) As ’n paar ouermanne in die gemeente bekwame sprekers en onderrigters is, kan daar elke jaar ’n ander bekwame ouerman as bykomende raadgewer aangewys word. Die bykomende raadgewer hoef nie ná elke toewysing raad te gee nie.

BYKOMENDE KLASSE

26. Afhangende van die aantal studente kan gemeentes bykomende klasse vir die studentetoewysings hê. Elke bykomende klas moet ’n bekwame raadgewer hê, verkieslik ’n ouerman. Indien nodig kan dit deur ’n baie bekwame bedieningskneg gedoen word. Die liggaam van ouermanne moet besluit wie as raadgewers vir bykomende klasse kan dien en of die broers beurte sal neem om dit te doen. Die raadgewer moet die prosedure in paragraaf 18 volg. As ’n bykomende klas gehou word, moet die studente gevra word om na die bykomende klas te gaan ná die “Geestelike skatte”-gedeelte van die “Skatte uit God se Woord”-deel van die vergadering. Hulle moet weer by die res van die gemeente aansluit ná die laaste studentetoewysing van die vergadering.

VIDEO’S

27. Spesifieke video’s sal gedurende hierdie vergadering gebruik word. Die video’s vir die Lewe en Bediening-vergadering sal op die JW Library®-app beskikbaar wees en verskillende toestelle kan gebruik word om toegang te verkry.

© 2023 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania

S-38-AF 11/23