Spring na inhoud

 Jongmense vra

Hoe moet ek my inkomtyd beskou?

Hoe moet ek my inkomtyd beskou?

Jy kom by die huis ná ’n aand saam met vriende. Dis laat. Jou inkomtyd is lankal verby, en nou moet jy jou ouers in die oë kyk. Jy aarsel voordat jy instap. ‘Dalk het Pa en Ma al gaan slaap’, hoop jy. Jy maak die deur stadig oop, en daar staan hulle—met hulle oog op die horlosie wag hulle vir ’n verduideliking.

KLINK die scenario hierbo vir jou bekend? Verskil jy en jou ouers ooit oor wat ’n redelike inkomtyd is? “Ons woon in ’n redelik veilige gebied”, sê die 17-jarige Debora, “maar ek kan nie ná middernag uitbly sonder dat my ouers paniekerig raak nie.” *

Waarom kan dit so moeilik wees om ’n inkomtyd te hê? Is dit verkeerd om meer vryheid te wil hê? Hoe kan jy by ’n streng inkomtyd hou?

Die geskille

Inkomtye kan baie frustrerend wees, veral wanneer dit voel asof hulle jou sosiale lewe beperk. “My inkomtyd maak my mal”, sê Natasha, 17. “Eenkeer het my ouers geweet ek kyk ’n fliek saam met ’n paar vriende net ’n paar huise van ons huis af. Maar toe ek net twee minute laat was, het hulle gebel om te vra hoekom ek nog nie by die huis is nie!”

’n Meisie met die naam Stacy noem nog ’n probleem. “My ma en pa het verwag dat ek by die huis moet wees voordat hulle gaan slaap”, sê sy. “As hulle moes wakker bly totdat ek by die huis kom, was hulle doodmoeg en geïrriteerd.” Die gevolg? “Dan het hulle my so skuldig laat voel”, sê Stacy en voeg by: “Dit was baie frustrerend. Ek kon nie verstaan hoekom hulle nie eenvoudig kon gaan slaap nie!” Sulke konflikte kan jou dalk soos die 18-jarige Katie laat  voel, wat sê: “Ek wens my ouers wil leer om my meer vryheid te gee sodat ek nie voel dat ek hulle wegstoot nie.”

Miskien voel jy ook soos die jongmense wat hier aangehaal word. Indien wel, vra jou af:

Waarom geniet ek dit om tyd weg van die huis af deur te bring? (Merk een.)

  • Dit laat my onafhanklik voel.

  • Dit help om stres te verlig.

  • Dit gee my ’n kans om saam met my vriende te wees.

Hierdie redes is heeltemal verstaanbaar. Dit is net natuurlik om meer vryheid te wil hê namate jy volwasse word, en heilsame vermaak kan ontspannend wees. Bowendien moedig die Bybel jou aan om vriende te maak met persone wat ’n positiewe invloed op jou sal hê (Psalm 119:63; 2 Timoteus 2:22). Dit kan moeilik wees as jy die hele tyd by die huis is!

Maar hoe kan jy sulke vryheid geniet as jy voel dat jou inkomtyd te beperkend is? Oorweeg die volgende.

Uitdaging #1: Jou inkomtyd laat jou soos ’n baba voel.

“Ek het soos ’n regte baba gevoel wanneer ek almal se aand moes onderbreek sodat iemand my vroeg huis toe kon neem”, sê Andrea, nou 21.

Soos ’n leerlinglisensie, is jou inkomtyd ’n teken van vooruitgang

Wat jou kan help:

Stel jou voor dat jy jou leerlinglisensie kry. Op sekere plekke is daar wette wat beperk waar, wanneer, of saam met wie jy mag bestuur—ten minste tot op ’n sekere ouderdom. Sou jy weier om die lisensie te kry en redeneer: “As ek nie onbeperkte vryheid kan hê nie, wil ek eerder glad nie bestuur nie”? Natuurlik nie! Jy sal dit as ’n groot prestasie beskou om die lisensie te kry.

Net so moet jy probeer om jou inkomtyd as ’n teken van vooruitgang te beskou—’n tree in die regte rigting. Fokus eerder op die vryheid wat dit jou gee as op die beperkings. Het jy nie nou meer vryheid as toe jy jonger was nie?

Waarom dit werk:

As jy jou inkomtyd as ’n geleentheid beskou en nie ’n struikelblok nie, kan dit makliker wees om dit te aanvaar. As jy jou ouers nou gehoorsaam, sal hulle jou waarskynlik later meer vryheid gee.—Lukas 16:10.

Uitdaging #2: Jy verstaan nie waarom jy so vroeg by die huis moet wees nie.

Nikki, wat voorheen ook nie met haar inkomtyd tevrede was nie, sê: “Ek kan onthou dat ek gedink  het my ma maak net reëls omdat sy dit geniet.”

Wat jou kan help:

Pas die beginsel in Spreuke 15:22 toe, wat sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand.” Bespreek die saak op ’n kalm manier met jou ouers. Probeer uitvind waarom hulle op ’n sekere tyd besluit het. *

Waarom dit werk:

Dit kan insiggewend wees om te hoor hoe jou ouers redeneer. “My pa het vir my gesê dat my ma nie aan die slaap kan raak voordat ek veilig in die huis is nie”, sê Stephen. “Ek het nog nooit tevore daaraan gedink nie.”

Onthou: Dit is altyd beter om dinge op ’n kalm manier te bespreek as om teen jou ouers uit te vaar—wat ongetwyfeld negatiewe gevolge sal hê. Natasha, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek het gevind dat as ek ’n uitval met my ouers het, ek gewoonlik die volgende paar keer nie kan doen wat ek wil nie.”

Uitdaging #3: Jy voel asof jou lewe beheer word.

Soms sê ouers dat huisreëls—wat dalk ’n inkomtyd insluit—vir jou eie beswil is. “Wanneer my ouers dít sê”, sê Brandi, 20, “laat dit my voel asof hulle nie wil hê dat ek my eie besluite moet neem of enige sê moet hê nie.”

Wat jou kan help:

Jy kan kies om Jesus se raad te volg, soos opgeteken in Matteus 5:41: “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom.” Ashley en haar broer het ’n praktiese manier gevind om hierdie beginsel toe te pas. “Ons probeer gewoonlik om 15 minute voor die tyd by die huis te wees”, sê sy. Kan jy ’n soortgelyke doelwit stel?

Waarom dit werk:

Ons geniet dit meer om dinge te doen wanneer ons dit wil doen, nie net omdat ons moet nie! En dink daaraan: As jy besluit om ’n bietjie vroeër by die huis te kom, is  jy in beheer van jou tyd. Dit sal jou dalk ook aan die volgende beginsel herinner: ‘Jou goeie daad sal nie onder dwang wees nie, maar uit vrye wil.’—Filemon 14.

As jy vroeg by die huis kom, bou dit ook jou ouers se vertroue in jou op, wat dikwels tot meer vryheid lei. Wade, 18, sê: “As jy jou ouers se vertroue wen, sal hulle jou meer skiet gee.”

Skryf neer wat dit nog vir jou moeilik maak om jou inkomtyd te aanvaar.

․․․․․

Wat kan jou help om dit te bowe te kom?

․․․․․

Hoekom dink jy dat dit kan werk?

․․․․․

Eendag sal jy waarskynlik uit jou ouerhuis uittrek en aansienlike vryheid geniet. Intussen moet jy geduldig wees. “Jy het dalk nie al die vryhede wat jy graag wil hê nie”, sê Tiffany, nou 20, “maar as jy kan leer hoe om beperkings te hanteer, hoef jy nie dwarsdeur jou tienerjare ongelukkig te wees nie.”

^ par. 4 Name in hierdie artikel is verander.

^ par. 21 Vir wenke, sien die artikel “Jongmense vra . . . Waarom is daar soveel reëls?” in die Ontwaak! vir Desember 2006.

IETS OM OOR TE DINK

  • Hoe toon jou inkomtyd dat jou ouers besorg is oor jou?

  • Hoe kan jy die skade herstel as jy reeds ’n inkomtyd oorskry het?