Spring na inhoud

 Jongmense vra

Hoe kan ek my gebede verbeter?

Hoe kan ek my gebede verbeter?

“Wanneer ’n mens soveel druk het op skool, by die werk of van vriende en familie, vergeet jy soms wie die belangrikste is—God.”—Faviola, 15, Verenigde State.

“BID onophoudelik” (1 Tessalonisense 5:17). “Hou vol met gebed” (Romeine 12:12). “Laat julle versoeke . . . by God bekend word” (Filippense 4:6). As jy ’n Christen is, ken jy hierdie tekste heel moontlik goed. Jy besef waarskynlik ook dat gebed die wonderlikste vorm van kommunikasie denkbaar is. Dink net—jy kan enige tyd van die dag of nag met God die Almagtige praat! En die Bybel sê: ‘Hy hoor ons.’ *1 Johannes 5:14.

Maar soos met die jong persoon wat aan die begin aangehaal word, is gebed dalk ook vir jou ’n uitdaging. Indien wel, wat kan jy daaromtrent doen? Hierdie artikel sal jou help om (1) die probleem te identifiseer, (2) ’n doelwit in verband met jou gebede te stel en (3) die “deur” oop te sluit sodat jy jou doelwit kan bereik.

Kom ons identifiseer eers die probleem. Watter spesifieke aspek van gebed is vir jou die moeilikste? Skryf jou antwoord hieronder neer.

․․․․․

Jou volgende stap is om ’n doelwit te stel. Merk hieronder watter doelwit jy graag wil bereik of skryf een neer op die reël langs “Ander”.

  • Ek wil meer dikwels bid.

  • Ek wil oor meer verskillende dinge bid.

  • Ek wil my gebede inniger maak.

  • Ander ․․․․․

Sluit die “deur” oop

As dit lyk of die deur van gebed gesluit is, gebruik die sleutels in God se Woord, die Bybel

Gebed is soos ’n deur wat jy te eniger tyd kan oopmaak. Maar baie jongmense sal sê dat hulle nie die deur so gereeld of so vryelik oopmaak as wat hulle eintlik moet nie. As dit met jou die geval is, moenie moed opgee nie! Jy het alreeds die uitdaging geïdentifiseer en ’n doelwit gestel. Nou het jy net ’n sleutel nodig om die slot in die deur oop te sluit. Kyk na ’n  paar probleme wat jy dalk sal teëkom, asook wenke oor hoe om dit te bowe te kom.

Die slot: VERSUIM.

“Omdat ek so besig is, bid ek soms nie.”—Preeti, 20, Brittanje.

Die sleutel: “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae boos is.”—Efesiërs 5:15, 16.

Wenk: Besluit vooraf wat ’n geleë tyd sal wees om elke dag te bid. Jy kan dit selfs op papier neerskryf, soos jy ’n herinnering aan ’n afspraak sal neerskryf. “As ek nie ’n spesifieke tyd opsysit om te bid nie, raak ek besig met ander dinge”, sê die 18-jarige Josjiko van Japan.

Die slot: AFLEIDING.

“My gedagtes begin dwaal en dit voel asof ek dink aan alles behalwe wat ek sê.”—Pamela, 17, Mexiko.

Die sleutel: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond.”—Matteus 12:34.

Wenk: As jou gedagtes nog steeds geneig is om te dwaal, probeer jou gebede korter maak—ten minste totdat jou konsentrasie verbeter. ’n Ander idee: Bid oor dinge wat jou na aan die hart lê. “Toe ek my tienerjare bereik het”, sê die 14-jarige Marina van Rusland, “het ek begin peins oor die feit dat gebed werklike kommunikasie met God is. Dit het my gemotiveer om my hart in gebed aan hom uit te stort.”

Die slot: ROETINE.

“Wanneer ek bid, sê ek dikwels dieselfde dinge oor en oor.”—Dupe, 17, Benin.

Die sleutel: “Ek sal beslis oor al u dade peins, en u handelinge sal ek oordink.”—Psalm 77:12.

Wenk: As jy gereeld bid sonder om te konsentreer op wat jy sê, skryf elke dag een spesifieke seëning in jou lewe neer. Dank Jehovah dan vir daardie seëning. Doen dit vir ’n week, en jy sal oor sewe nuwe onderwerpe gebid het sonder om jou te herhaal. Doen dieselfde met daaglikse gebeure. “Wanneer ek bid, probeer ek fokus op dinge wat daardie dag gebeur het”, sê die 21-jarige Bruno van Brasilië. Die 18-jarige Samantha van die Verenigde State doen dieselfde. “Ek probeer alles onthou wat vandag anders was as ander dae, en dan bid ek daaroor”, sê sy. “Dit help my om nie dieselfde dinge oor en oor te sê nie.” *

Die slot: TWYFEL.

“Toe ek eenkeer oor ’n probleem by die skool gebid het, het dit nie weggegaan nie. Om die waarheid te sê, meer probleme het ontstaan. Ek het gedink: ‘Hoekom hou ek aan bid? Jehovah luister in elk geval nie!’”—Minori, 15, Japan.

Die sleutel: “Saam met die versoeking sal hy [Jehovah God] ook die uitweg gee, sodat julle dit kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13.

Wenk: Een ding is seker: Jehovah is die “Hoorder van die gebed” (Psalm 65:2). Probeer dus om, nadat jy oor ’n saak gebid het, die geheelbeeld te sien. In plaas van te wag op die antwoord wat jy wil hê, wees op die uitkyk na een wat jy dalk alreeds gekry het. Die feit dat jy steeds volhard as ’n Christen, beteken heel waarskynlik dat Jehovah wel jou gebed verhoor het—nie deur die probleem weg te neem nie, maar deur jou die krag te gee om dit te verduur.—Filippense 4:13.

Die slot: VERLEENTHEID.

“Wanneer ek dink aan wat my skoolmaats sal sê as hulle my pouse sien bid voor ek eet, raak ek skaam.”—Hikaroe, 17, Japan.

 Die sleutel: “Daar is . . . ’n gepaste tyd vir alles wat ons wil doen.”—Prediker 3:1, Beck.

Wenk: ’n Beskeie, stille gebed kan dalk positiewe resultate lewer, maar jy hoef nie ’n openbare spektakel van jou gebede te maak nie. Die skietgebed wat getroue Nehemia byvoorbeeld in koning Artasasta se teenwoordigheid gedoen het, was blykbaar ’n stille gebed, en die verslag toon nêrens dat die koning eens daarvan bewus was dat Nehemia gebid het nie (Nehemia 2:1-5). Jy kan ook ’n stille gebed tot Jehovah doen sonder om aandag te trek.—Filippense 4:5.

Die slot: GEVOEL VAN ONWAARDIGHEID.

“Jehovah weet alreeds wat my probleme is. En as ek moeg is daarvoor, is hy seker ook! Ek voel partykeer net so onwaardig om met hom te praat.”—Elizabeth, 20, Ierland.

Die sleutel: “[Werp] al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle.”—1 Petrus 5:7.

Wenk: As ’n projek vir persoonlike studie kan jy navorsing doen en peins oor die volgende tekste: Lukas 12:6, 7; Johannes 6:44; Hebreërs 4:16; 6:10; 2 Petrus 3:9. Hierdie verse sal jou help besef dat Jehovah wil hoor wat jy op jou hart het en dat jy nie ’n geestelike reus hoef te wees sodat hy na jou sal luister nie. Die psalmis Dawid—wat self baie angs en benoudheid ondervind het—het hierdie vertroue uitgespreek: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.” *Psalm 34:18.

Die blote feit dat Jehovah self na jou gebede luister, sê iets omtrent sy belangstelling in jou. “Jehovah het nie die verantwoordelikheid om na gebede te luister, aan die engele gegee nie”, sê die 17-jarige Nicole van Italië. “Aangesien hy persoonlik na ons gebede luister, beskou hy dit beslis as belangrik.”

^ par. 4 Omdat die Skepper se gehoor nie afhanklik is van klankgolwe nie, kan hy selfs “hoor” wat ons in ons hart sê.—Psalm 19:14.

^ par. 23 Sien “Die Bybel se beskouing: Hoe beskou God die gebruik van hulpmiddele in aanbidding?” op bladsy 18.

^ par. 32 As jy voel dat jou gebede verhinder word omdat jy ’n ernstige sonde begaan het, moet jy met jou ouers daaroor praat. Jy kan ook “die ouer manne van die gemeente . . . roep” om jou te help (Jakobus 5:14). Die ouer manne kan jou help om jou verhouding met God te herstel.

IETS OM OOR TE DINK

  • Oor watter dinge wat vir Jehovah belangrik is, kan jy bid?

  • Oor watter dinge met betrekking tot ander kan jy tot Jehovah bid?