Spring na inhoud

Jongmense vra

Hoe kan ek ’n goeie eerste indruk maak?

Hoe kan ek ’n goeie eerste indruk maak?

“Hierdie onderhoud verloop baie goed! Dit behoort vir my toekomstige baas duidelik te wees dat ek ontspanne is; ek noem hom op sy naam al vandat ek by die deur ingestap het. Ek weet sommer hy gaan my aanstel!”

“Is dit dieselfde jong man wat daardie indrukwekkende CV ingestuur het? Ek sal hom beslis nie kan aanstel nie! As hy so optree voordat hy die werk kry, hoe sal hy ná die tyd wees?”

Kyk na die prent en lees die woorde hierbo. Kan jy drie maniere identifiseer waarop die aansoeker ’n slegte indruk skep?

  1. ․․․․․

  2. ․․․․․

  3. ․․․․․

Antwoorde hieronder

1. Die jong man se kleredrag is te informeel vir ’n onderhoud. 2. Sy spraak (om die werkgewer op sy naam te noem) is voorbarig. 3. Sy liggaamstaal weerspieël ’n gebrek aan respek.

STEL jou voor dat jy ’n sekere kossoort vir die eerste keer proe. Hoe lank neem dit jou om te weet of jy daarvan hou of nie? Een happie is dalk al wat nodig is vir jou om te weet of jy ooit weer daardie kossoort sal eet—of selfs die porsie voor jou sal klaarmaak.

Iets soortgelyks gebeur wanneer jy iemand vir die eerste keer ontmoet. Jy vorm onmiddellik ’n indruk van daardie persoon. En dink ’n bietjie hieraan: Daardie persoon vorm net so gou ’n indruk van jou.

Soek jy ’n werk? ’n vriend? ’n huweliksmaat? Jou sukses kan afhang van die eerste indruk wat jy maak. Kom ons kyk na drie gebiede waarop jy moontlik jou sosiale vaardighede sal moet verfyn sodat jy ’n goeie indruk op ander kan maak.

1. Hoe jy lyk

Of dit nou regverdig is of nie, die eerste indruk wat mense van jou kry, is moontlik gebaseer op die eerste ding wat hulle sien, jou voorkoms. Mense vergeet dikwels hiervan wanneer hulle ’n goeie eerste indruk wil maak. ’n Jong vrou met die naam Clarissa * sê: “As ’n mens deesdae na ’n restaurant toe gaan, weet jy nie of mense in ’n aandrok of in hulle slaapklere sal opdaag nie!”

Jou klere moet natuurlik by die geleentheid pas. Jy sal byvoorbeeld nie dieselfde klere vir ’n onderhoud dra as wat jy by die strand sal dra nie! Maar sê nou jy is nie seker wat gepas is nie? Die sleutel is om goeie oordeel aan die dag te lê deur uiterstes te vermy. As jy onseker is, kan jy eerder konserwatiewer aantrek.

ONTHOU! Soos ’n X-straalbeeld kan jou kleredrag en persoonsversorging openbaar wie jy innerlik is.

“Wanneer ek mense by ’n geselligheid sien wat uitspattig aangetrek is, probeer ek hulle vermy. Op daardie stadium is al wat ek van hulle weet, hoe hulle lyk, en hulle kleredrag skep ’n slegte indruk.”—Diane.

Die Bybel beveel “goed versorgde kleredrag” aan wat getuig van “beskeidenheid en gesonde verstand”.—1 Timoteus 2:9

Vra jou af: ‘Lyk my klere goed versorg of is dit slordig? Sal ’n potensiële werkgewer, vriend of huweliksmaat dink dat ek ’n gebrek aan “gesonde verstand” het weens die manier waarop ek aantrek?’

Wenk: Vra raad by iemand wat jy vir sy of haar goeie smaak in kleredrag respekteer.

2. Wat jy sê

Jou spraak toon of jy nederig of hoogmoedig, gemaklik of desperaat is. Hou dit in gedagte as jy probeer om ’n goeie indruk op iemand van die teenoorgestelde geslag te maak. “Dit irriteer my regtig as ek met ’n jong man gesels en hy net oor homself praat”, sê ’n meisie met die naam Valerie. “Aan die ander kant”, sê sy, “wil party seuns onmiddellik alles omtrent jou weet. Dis oorweldigend en laat ’n meisie voel asof sy wil weghardloop.”

ONTHOU! Jou woorde voorsien ’n venster waardeur ander kan sien watter soort persoon jy werklik is—maak dus seker dat die uitsig aangenaam is!

“Wanneer ek ’n jong man ontmoet, hou ek daarvan as hy net natuurlik optree. Die eerste ontmoeting is belangrik. As ’n ou te hard moet dink oor wat hy gaan sê, moet hy dit dalk liewer nie sê nie.”—Selena.

Die Bybel sê: “Jy sal die verkeerde ding sê as jy te veel praat—wees dus verstandig en let op jou woorde.”—Spreuke 10:19, Contemporary English Version.

Vra jou af: ‘Hoe kan ek ’n balans vind sodat ek nie te veel of te min praat nie? Is daar enigiets omtrent my manier van praat wat ander kan skok of aanstoot kan gee?’

Wenk: Leer by dié wat lyk asof hulle weet hoe om ’n gesprek te voer. Watter tegnieke gebruik hulle om die gesprek aan die gang te hou? Kan jy ’n soortgelyke metode gebruik?

3. Hoe jy optree

Daar is ’n gesegde dat dade meer tel as woorde. As jy byvoorbeeld goeie maniere aan die dag lê, “sê” jou dade dat jy ander respekteer. Dit is nog ’n wenk wat jy in gedagte kan hou as jy gereed is om ’n huweliksmaat te soek. “Om klein dingetjies te doen, soos om die deur oop te hou, toon respek”, sê ’n meisie met die naam Carrie. “’n Groot deel daarvan is net goeie maniere.”

ONTHOU! Jou dade is soos ’n advertensie wat jou innerlike eienskappe vertoon (Spreuke 20:11). Wat “adverteer” jou dade omtrent jou?

“Ek dink dat dit belangrik is om goed te luister. Dit toon ook goeie maniere om nie die persoon wat praat, in die rede te val tensy dit nodig is nie.”—Natalia.

Die Bybel sê: “Behandel ander soos jy behandel wil word.”—Lukas 6:31, CEV.

Vra jou af: ‘Het ek goeie maniere? Toon ek opregte belangstelling in ander? Is ek betroubaar? Is ek stiptelik?’

Wenk: Beplan om ten minste tien minute vroeg te wees vir ’n afspraak sodat jy nog steeds stiptelik kan wees as iets onverwags opduik. Moenie toelaat dat die eerste indruk van jou dié van ’n laatkommer is nie!

’n Woordjie van waarskuwing: Om ’n goeie indruk te skep, beteken nie dat jy voorgee om iemand te wees wat jy nie is nie, wat in werklikheid op bedrog neerkom nie (Psalm 26:4). Besluit eerder deur watter eienskappe jy gekenmerk wil word, en kweek dit dan aan (Kolossense 3:9, 10). Terwyl jy dit doen, moet jy onthou dat jy jou eie reputasie skep. As jy die nodige aandag skenk aan hoe jy lyk, praat en optree, sal jy ’n goeie eerste indruk maak—’n blywende indruk!

 

^ par. 15 Van die name in hierdie artikel is verander.