Spring na inhoud

“Laat ons teks met teks vergelyk”

“Laat ons teks met teks vergelyk”

’N MAN het ’n pamflet opgetel in ’n spoorwegwa wat op pad was na die stad New York. ‘Die mensesiel is sterflik’, het die pamflet gesê. Dit het die man, ’n predikant, gefassineer, en hy het dit begin lees. Hy was verbaas, want hy het nooit tevore die leer van die onsterflikheid van die siel bevraagteken nie. Op daardie tydstip het hy nie geweet wie die pamflet geskryf het nie. Hy het nietemin gedink dat die redenasie geloofwaardig en skriftuurlik is en dat die materiaal ernstige studie verdien.

Die predikant was George Storrs. Die voorval het in 1837 plaasgevind, die jaar toe Charles Darwin gedagtes in sy notaboek begin neerskryf het wat later tot sy evolusieteorie gelei het. Die wêreld was nog godsdienstig, en die meeste mense het in God geglo. Baie het die Bybel gelees en dit as gesaghebbend beskou.

Storrs het later uitgevind dat die pamflet deur Henry Grew van Philadelphia, Pennsilvanië, geskryf is. Grew het vas geglo aan die beginsel dat “die Skrif . . . homself die beste verklaar”. Grew en sy metgeselle het die Bybel bestudeer met die doel om hulle lewe en bedrywighede in ooreenstemming te bring met die raad daarin. Hulle studies het ’n paar pragtige skriftuurlike waarhede aan die lig gebring.

Aangevuur deur wat Grew geskryf het, het Storrs noukeurig ondersoek wat die Skrif oor die siel sê en die saak met ’n paar van sy medepredikante bespreek. Ná vyf jaar van intensiewe studie het Storrs uiteindelik besluit om sy nuutgevonde juweel van skriftuurlike waarheid bekend te maak. Hy het aanvanklik een preek voorberei om op ’n Sondag in 1842 te hou. Maar hy het gevoel dat hy nog ’n paar preke moet hou om die onderwerp heeltemal duidelik te maak. Uiteindelik het hy altesaam ses preke oor die sterflikheid van die mensesiel gehou, wat hy in Six Sermons gepubliseer het. Storrs het teks met teks vergelyk om die pragtige waarheid te onthul wat onder die godonterende leerstellings van die Christendom begrawe was.

Leer die Bybel dat die siel onsterflik is?

Die Bybel sê dat Jesus se gesalfde volgelinge hulle met onsterflikheid beklee as ’n beloning vir hulle getrouheid (1 Korintiërs 15:50-56). As onsterflikheid ’n beloning vir die getroues is, het Storrs geredeneer, kan die siel van die goddeloses nie onsterflik wees nie. Hy het nie hieroor bespiegel nie, maar eerder na die Skrif gegaan. Hy het na Matteus 10:28 in die King James Version gekyk, wat sê: “Vrees hom wat die siel sowel as die liggaam in die hel kan vernietig.” Die siel kan dus vernietig word. Hy het ook na Esegiël 18:4 gegaan, wat sê: “Die siel wat sondig, dié sal sterf” (KJ). Toe die Bybel in sy geheel beskou is, was die pragtige waarheid opvallend. “As my beskouing van hierdie onderwerp juis is”, het Storrs geskryf, “dan word  baie gedeeltes van die Skrif, wat duister was oor die algemene teorie, duidelik, pragtig en vol betekenis en krag.”

Maar wat van tekste soos Judas 7? Dit sê: “Soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Wanneer hulle hierdie teks lees, kom party dalk tot die slotsom dat die siele van diegene wat in Sodom en Gomorra doodgemaak is, vir ewig deur vuur gefolter word. “Laat ons teks met teks vergelyk”, het Storrs geskryf. Toe het hy 2 Petrus 2:5, 6 aangehaal, wat sê: “En die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag . . . bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het; en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ’n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (OAB). Ja, Sodom en Gomorra is tot as verbrand, vir ewig vernietig saam met hulle inwoners.

“Petrus werp lig op Judas”, het Storrs verduidelik. “Die twee saam toon baie duidelik hoe God sy misnoeë met sondaars geopenbaar het. . . . Daardie oordele wat aan die ou wêreld, Sodom en Gomorra, voltrek is, is ’n blywende, en voortdurende, of ‘ewige’ vermaning, waarskuwing of ‘voorbeeld’ vir alle mense tot die einde van die wêreld.” Judas het dus na die uitwerking van die vuur wat Sodom en Gomorra vernietig het, as ’n ewige uitwerking verwys. Dit verander geensins die feit dat die mensesiel sterflik is nie.

Storrs het nie net tekste gebruik wat sy beskouing bevestig het en ander geïgnoreer nie. Hy het die konteks van elke teks sowel as die algemene strekking van die Bybel in ag geneem. As dit gelyk het of ’n vers ander tekste weerspreek, het Storrs in die res van die Bybel na ’n logiese verklaring gesoek.

Russell se studie van die Skrif

Een van die mense wat hulle met George Storrs verbind het, was ’n jong man wat besig was om ’n Bybelstudiegroep in Pittsburgh, Pennsilvanië, te organiseer. Sy naam was Charles Taze Russell. Een van sy eerste artikels met ’n skriftuurlike tema is in 1876 in die tydskrif Bible Examiner, onder redaksie van Storrs, gepubliseer. Russell het erken dat vroeëre Bybelstudente ’n invloed op hom gehad het. Later, as die redakteur van Zion’s Watch Tower, het hy al die hulp wat Storrs hom gegee het, mondeling sowel as skriftelik, op prys gestel.

Op die ouderdom van 18 het C. T. Russell ’n Bybelstudieklas georganiseer en ’n patroon vasgestel om die Bybel te bestudeer. A. H. Macmillan, ’n Bybelstudent wat met Russell geassosieer het, het hierdie metode beskryf: “Iemand het gewoonlik ’n vraag geopper. Hulle het dit dan bespreek. Hulle het alle tekste nageslaan wat met die gedagte verband hou, en dan, wanneer hulle tevrede was dat hierdie tekste in harmonie met mekaar is, het hulle ten slotte gesê wat hulle gevolgtrekking is en ’n aantekening daarvan gemaak.”

Russell was daarvan oortuig dat die Bybel, wanneer dit in sy geheel beskou word, ’n boodskap moet openbaar wat nie net in harmonie en konsekwent met homself is nie, maar ook met die karakter van die goddelike Outeur daarvan. Wanneer enige deel van die Bybel moeilik was om te verstaan, het Russell gemeen dat dit deur ander dele van die Bybel opgehelder en verklaar moet word.

Bybelstudente in die 19de eeu wat teks met teks vergelyk het: George Storrs, Henry Grew, Charles Taze Russell, A. H. Macmillan

Skriftuurlike tradisie

Maar nie Russell of Storrs of Grew was die eerstes wat toegelaat het dat die Skrif homself verklaar nie. Die tradisie het al by die Stigter van die Christelike godsdiens, Jesus Christus, begin. Hy het ’n aantal tekste gebruik om die ware betekenis van ’n teks duidelik te maak. Toe die Fariseërs byvoorbeeld Jesus se dissipels gekritiseer het omdat hulle op die Sabbat are  gepluk het, het hy deur middel van die verslag in 1 Samuel 21:6 getoon hoe die Sabbatswet toegepas moet word. Die godsdiensleiers was vertroud met hierdie verslag, waarin Dawid en sy manne die aanbiedingsbrode geëet het. Jesus het toe na die deel van die Wet verwys wat gesê het dat net die Aäronitiese priesters die toonbrode mag eet (Eksodus 29:32, 33; Levitikus 24:9). Daar is nietemin vir Dawid gesê dat hy die brode mag eet. Jesus het sy oortuigende redenasie afgesluit deur uit die boek Hosea aan te haal: “As julle egter verstaan het wat dit beteken: ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerandes nie’, sou julle nie die onskuldiges veroordeel het nie” (Matteus 12:1-8). Wat ’n wonderlike voorbeeld tog van hoe ’n teks met ander tekste vergelyk kan word om ’n juiste begrip te verkry!

Die apostel Paulus het sy punt bewys deur middel van skriftuurlike verwysings

Jesus se volgelinge het ook die patroon gevolg om deur middel van teksverwysings lig op ’n teks te werp. Toe die apostel Paulus mense in Tessalonika onderrig het, het hy “uit die Skrif met hulle geredeneer en verduidelik en deur verwysings bewys dat die Christus moes ly en uit die dode moes opstaan” (Handelinge 17:2, 3). Ook in sy goddelik geïnspireerde briewe het Paulus toegelaat dat die Bybel homself verklaar. Toe hy byvoorbeeld aan die Hebreërs geskryf het, het hy die een teks na die ander aangehaal om te bewys dat die Wet ’n skaduwee van die toekomstige goeie dinge was.—Hebreërs 10:1-18.

Ja, opregte Bybelstudente in die 19de en vroeë 20ste eeu het bloot hierdie Christelike patroon herstel. Die tradisie om tekste met ander tekste te vergelyk, word in Die Wagtoring voortgesit (2 Tessalonisense 2:15). Jehovah se Getuies gebruik hierdie beginsel wanneer hulle ’n teks ontleed.

Kyk na die konteks

Hoe kan ons Jesus en sy getroue volgelinge se goeie voorbeeld volg wanneer ons die Bybel lees? Eerstens kan ons na die onmiddellike konteks van die betrokke teks kyk. Hoe kan die konteks ons help om die betekenis te verstaan? Kom ons kyk na Jesus se woorde in Matteus 16:28 om dit toe te lig: “Voorwaar, ek sê vir julle dat party van dié wat hier staan, glad nie die dood sal smaak voordat hulle eers die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.” Party meen dalk dat hierdie woorde nie vervul is nie omdat al Jesus se dissipels wat teenwoordig was toe hy daardie woorde gespreek het, gesterf het voordat God se Koninkryk in die hemele opgerig is. The Interpreter’s Bible sê selfs oor hierdie vers: “Die voorspelling is nie vervul nie, en latere Christene het dit nodig gevind om te verduidelik dat dit beeldspraak was.”

Maar die konteks van hierdie vers, sowel as dié van die parallelle verslae deur Markus en Lukas, help ons om die ware betekenis van die teks te verstaan. Waaroor het Matteus geskryf direk ná die woorde wat hierbo aangehaal is? Hy het vertel: “Ses dae later het Jesus vir Petrus en Jakobus en sy broer Johannes saamgeneem en hulle alleen teen ’n hoë berg opgeneem. En hy het voor hulle van gedaante verander” (Matteus 17:1, 2). Beide Markus en Lukas het ook Jesus se kommentaar oor die Koninkryk verbind met die verslag oor die gedaanteverandering (Markus 9:1-8; Lukas 9:27-36). Jesus se koms in Koninkryksmag is uitgebeeld in sy gedaanteverandering toe hy in die teenwoordigheid van die drie apostels in heerlikheid verskyn het. Petrus bevestig hierdie begrip deur “die krag en teenwoordigheid van ons Here Jesus Christus” te noem in verband met sy aanskouing van Jesus se gedaanteverandering.—2 Petrus 1:16-18.

Laat jy toe dat die Bybel homself verklaar?

Sê nou jy verstaan nie ’n teks nie, selfs nadat jy na die konteks gekyk het? Dit sal jou moontlik help as jy dit met ander tekste vergelyk, terwyl jy die algemene strekking van die Bybel in gedagte hou. ’n Uitstekende hulpmiddel om dit te doen, kan in die Nuwe Wêreld-vertaling  van die Heilige Skrif gevind word, wat nou in sy geheel of gedeeltelik in 57 tale beskikbaar is. Hierdie hulpmiddel is die lys van kruisverwysings wat in baie van die uitgawes in die middelkolom van elke bladsy voorkom. Jy kan meer as 125 000 daarvan in die New World Translation of the Holy Scriptures—With References vind. Die “Inleiding” tot hierdie Bybel verduidelik: “’n Sorgvuldige vergelyking van die kruisverwysings en ’n ondersoek van die bygaande voetnote sal die onderlinge harmonie van die 66 Bybelboeke aan die lig bring, ’n bewys dat hulle een boek uitmaak, wat deur God geïnspireer is.”

Kom ons kyk hoe die gebruik van kruisverwysings ons kan help om ’n teks te verstaan. Neem byvoorbeeld die geskiedenis van Abram, of Abraham. Beskou hierdie vraag: Wie het die leiding geneem toe Abram en sy familie uit Ur getrek het? Genesis 11:31 sê: “Tera [het] sy seun Abram geneem en . . . Lot, . . . en sy skoondogter Sarai, en hulle het saam met hom uit Ur van die Galdeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. Na verloop van tyd het hulle by Haran gekom en daar gaan woon.” As ’n mens dit net lees, kom jy dalk tot die slotsom dat Abram se vader, Tera, die leiding geneem het. Maar in die Nuwe Wêreld-vertaling vind ons 11 kruisverwysings oor hierdie vers. Die laaste een neem ons na Handelinge 7:2, waar ons Stefanus se vermaning aan die eerste-eeuse Jode lees: “Die God van heerlikheid het aan ons voorvader Abraham verskyn terwyl hy in Mesopotamië was, voordat hy hom in Haran gevestig het, en hy het vir hom gesê: ‘Trek weg uit jou land en van jou familielede en kom na die land wat ek jou sal wys’” (Handelinge 7:2, 3). Het Stefanus dit verwar met Abram se vertrek uit Haran? Beslis nie, want dit is deel van die geïnspireerde Woord van God.—Genesis 12:1-3.

Waarom sê Genesis 11:31 dan dat ‘Tera sy seun Abram geneem het’, sowel as ander van sy familie, en uit Ur getrek het? Tera was nog steeds die patriarg. Hy het ingestem om saam met Abram te gaan, en daarom sê dit dat hý die familie na Haran geneem het. Deur hierdie twee tekste te vergelyk en te kyk hoe dit mekaar aanvul, kan ons met ons geestesoog sien presies wat gebeur het. Abram het sy vader respekvol oortuig om volgens God se bevel uit Ur te trek.

Wanneer ons die Skrif lees, moet ons die konteks en die algemene strekking van die Bybel in ag neem. Christene word vermaan: “Ons het nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat van God kom, sodat ons die dinge sou ken wat goedgunstig deur God aan ons gegee is. Hierdie dinge spreek ons ook, nie met woorde wat deur menslike wysheid geleer word nie, maar met dié wat deur die gees geleer word, deurdat ons geestelike aangeleenthede met geestelike woorde kombineer” (1 Korintiërs 2:11-13). Ja, ons moet Jehovah smeek om ons te help om sy Woord te verstaan en moet probeer om “geestelike aangeleenthede met geestelike woorde [te] kombineer” deur na die konteks van die betrokke teks te kyk en deur verwante tekste na te slaan. Mag ons aanhou om skitterende juwele van waarheid te vind deur God se Woord te bestudeer.