Spring na inhoud

‘Laat ons ’n offer vir Jehovah aanbied’

‘Laat ons ’n offer vir Jehovah aanbied’

HOE toon jy jou waardering as iemand iets goeds vir jou doen? Kyk hoe die krygshoofde in Israel ná ’n geveg met die Midianiete hulle waardering getoon het. Die geveg het plaasgevind nadat Israel gesondig het in verband met Baäl van Peor. God het sy volk die oorwinning gegee, en die buit is tussen die 12 000 soldate en die res van Israel verdeel. In ooreenstemming met Jehovah se riglyne het die soldate ’n sekere deel van hulle buit vir die priesters gegee, en die ander Israeliete het ook ’n sekere deel aan die Leviete gegee.—Num. 31:1-5, 25-30.

Maar die krygshoofde wou meer doen. “U knegte het die volle getal opgeneem van die krygsmanne wat onder ons bevel is en van ons is nie een as vermis gemeld nie”, het hulle vir Moses gesê. Hulle het besluit om goud en verskillende sierade as ’n offer vir Jehovah aan te bied. Die goue sierade het altesaam  meer as 190 kilogram geweeg.—Num. 31:49-54.

Baie mense word vandag ook beweeg om hulle waardering te toon vir wat Jehovah vir hulle gedoen het. En hierdie gevoelens van waardering is nie tot God se toegewyde knegte beperk nie. Beskou die voorbeeld van ’n busbestuurder wat ’n groep afgevaardigdes na die stadion en terug geneem het vir die internasionale byeenkoms wat in 2009 in Bologna, Italië, gehou is. Omdat hy ’n baie versigtige en saggeaarde bestuurder was, het sy passasiers besluit om vir hom ’n dankiesêbriefie te skryf en hom ’n fooitjie te gee sowel as die boek Wat leer die Bybel werklik? In antwoord daarop het die bestuurder gesê: “Ek aanvaar met graagte die kaartjie en die boek, maar ek gee die geld terug omdat ek dit as ’n bydrae wil gee sodat julle kan voortgaan met die werk wat julle doen. Al is ek nie een van Jehovah se Getuies nie, wil ek hierdie bydrae gee omdat ek gesien het dat julle dinge uit liefde doen.”

Een manier waarop jy jou waardering kan toon vir wat Jehovah vir jou gedoen het, is deur bydraes vir die wêreldwye werk van Jehovah se Getuies te gee (Matt. 24:14). Maniere waarop party besluit om te gee, word in die bygaande venster genoem.