Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

Ek laat toe dat Jehovah my pad kies

Ek laat toe dat Jehovah my pad kies

AS ’N tiener het ek ’n pad vir myself gekies, ’n sekulêre loopbaan wat ek baie geniet het. Maar Jehovah het my genooi om ’n ander pad te kies, en dit was asof hy vir my gesê het: “Ek sal jou insig gee en jou die weg wys wat jy moet volg” (Ps. 32:8). Omdat ek toegelaat het dat Jehovah my pad kies, het dit tot ’n geestelike loopbaan vol wonderlike geleenthede en seëninge gelei, insluitende 52 jaar van diens in Afrika.

UIT DIE SWARTLAND NA DIE WARM HART VAN AFRIKA

Ek is in 1935 in Darlaston gebore in ’n deel van Engeland wat die Swartland genoem word omdat daar so baie swart rook in die lug is as gevolg van al die fabrieke. Toe ek omtrent vier jaar oud was, het my ouers die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer. In my vroeë tienerjare was ek oortuig dat dit die waarheid was, en ek is in 1952 gedoop toe ek 16 was.

Omtrent dieselfde tyd het ek as ’n vakleerling in ’n groot maatskappy begin werk wat handgereedskap en karparte gemaak het. Ek het opleiding gekry vir ’n belangrike pos, en dit was werk wat ek baie geniet het.

Ek moes ’n belangrike besluit neem toe ’n reisende opsiener my genooi het om die Gemeentelike Boekstudie in my tuisgemeente in Willenhall te begin hou. Maar ek het ’n probleem gehad. Op daardie tyd het ek die vergaderinge in twee gemeentes bygewoon. Gedurende die week het ek die vergaderinge wat die naaste was aan my werksplek in Bromsgrove bygewoon, ongeveer 32 kilometer van die huis af. En naweke wanneer ek teruggegaan het na my ouers se huis toe het ek die vergaderinge in Willenhall bygewoon.

Ek wou Jehovah se organisasie baie graag ondersteun, en daarom het ek die reisende opsiener se uitnodiging aanvaar, al het dit beteken dat ek die werk wat ek so baie geniet het, moes los. Omdat ek toegelaat het dat Jehovah my pad op daardie geleentheid kies, het dit die deur oopgemaak tot ’n lewe waaroor ek nooit spyt was nie.

Terwyl ek in die Bromsgrove-gemeente was, het ek iemand ontmoet – ’n mooi, geestelike suster met die naam Anne. Ons is in 1957 getroud, en saam het ons wonderlike toewysings in Jehovah se diens gehad, soos gewone pionierdiens, spesiale pionierdiens, reisende werk en Betheldiens. Anne het my regdeur my lewe baie gelukkig gemaak.

In 1966 was ons baie opgewonde om die 42ste klas van Gilead by te woon. Ons was na Malawi gestuur, wat bekend is as die warm hart van Afrika omdat die mense so vriendelik en gasvry is. Min het ons geweet dat ons nie vir lank daar welkom sou wees nie.

DIENS GEDURENDE DRAMATIESE TYE IN MALAWI

Die Kaiser Jeep wat ons in die reisende werk in Malawi gebruik het

Ons het op 1 Februarie 1967 in Malawi aangekom. Ná ’n intensiewe maand lange taalkursus het ons in die streekwerk begin. Ons het ’n Kaiser Jeep gehad, en party mense het gedink dat dit op enige plek kon ry, selfs deur riviere. Maar dit was nie waar nie. Ons kon net deur baie vlak water ry. Soms het ons in modderhutte met strooidakke gebly wat ’n seil onder die dak nodig gehad het gedurende die reënseisoen. Dit was nou nie die lekkerste manier om ons sendingwerk te begin nie, maar ons was mal daaroor.

In April het ek besef dat ons binnekort probleme met die regering sou hê. Ek het ’n toespraak op die radio gehoor deur Malawi se president, dr. Hastings Banda. Hy het gesê dat Jehovah se Getuies nie belasting betaal nie en dat hulle by die politiek inmeng. Hierdie beskuldigings was natuurlik nie waar nie. Ons het almal geweet dat ons neutraliteit die eintlike probleem was, veral omdat ons geweier het om politieke partykaarte te koop.

Teen September het ons in die koerant gelees dat die president gesê het dat die broers oral moeilikheid veroorsaak. Hy het by ’n politieke byeenkoms aangekondig dat sy regering van plan is om Jehovah se Getuies binnekort te verban. Hierdie verbod het op 20 Oktober 1967 in werking getree. Kort daarna het polisiebeamptes en immigrasie-amptenare by die takkantoor aangekom om dit toe te maak en om die sendelinge te dwing om die land te verlaat.

Ons word in 1967 gearresteer en gedwing om Malawi te verlaat saam met ander sendelinge, Jack en Linda Johansson

Ná drie dae in die tronk is ons na ’n land gestuur wat onder Brittanje se beheer was – Mauritius. Maar die regering in Mauritius wou ons nie toelaat om as sendelinge daar te bly nie. So ons is na Rhodesië gestuur (nou Zimbabwe). Toe ons daar aankom, het ons ’n aggressiewe immigrasie-amptenaar ontmoet wat ons nie wou toelaat om in die land in te kom nie, en hy het gesê: “Julle is verbied om in Malawi te bly. Hulle wil julle nie toelaat om in Mauritius te bly nie, en nou is julle hier omdat dit gerieflik is.” Anne het begin huil. Dit het gelyk asof niemand ons wou hê nie. Op daardie oomblik wou ek net reguit teruggaan Engeland toe. Uiteindelik het die immigrasie-amptenare ons toegelaat om daardie aand by die takkantoor te slaap op die voorwaarde dat ons die volgende dag by hulle hoofkwartier aanmeld. Ons was doodmoeg, maar ons het aangehou om dinge in Jehovah se hande te los. Teen die volgende middag het ons onverwags toestemming gekry om as besoekers in Zimbabwe te bly. Ek sal nooit vergeet hoe ek daardie dag gevoel het nie. Ek was oortuig dat Jehovah besig was om ons te lei.

’N NUWE TOEWYSING – EK WERK VIR MALAWI UIT ZIMBABWE

Saam met Anne by Bethel in Zimbabwe, 1968

By die takkantoor in Zimbabwe het ek in die Diensafdeling gewerk, en ek het na Malawi en Mosambiek omgesien. Die broers in Malawi was baie erg teëgestaan. As deel van my werk het ek verslae vertaal wat deur die Malawiese kringopsieners ingestuur was. Een aand toe ek laat gewerk het, het ek gehuil toe ek gelees het van die gewelddadige mishandeling wat my broers en susters deurgemaak het. * Maar ek was ook baie aangemoedig deur hulle lojaliteit, geloof en volharding. – 2 Kor. 6:4, 5.

Ons het alles in ons vermoë gedoen om geestelike voedsel te voorsien aan die broers wat nog in Malawi was en aan dié wat na Mosambiek gevlug het. Die vertaalspan vir Chichewa, die taal wat die meeste in Malawi gepraat word, het na ’n broer se groot plaas in Zimbabwe verskuif. Hy het vir hulle huise en ’n kantoor gebou. Daar het hulle aangehou met hulle baie belangrike werk om Bybellektuur te vertaal.

Ons het gereël dat die kringopsieners in Malawi elke jaar die Chichewa-streekbyeenkoms in Zimbabwe bywoon. Daar het hulle die toespraaksketse vir die streekbyeenkoms gekry. Op pad terug na Malawi het hulle die inligting so goed as wat hulle kon met die broers gedeel. Een jaar, gedurende hulle besoek aan Zimbabwe, kon ons ’n Koninkryksbedieningskool reël om hierdie moedige kringopsieners aan te moedig.

Ek gee ’n toespraak in Chichewa by ’n Chichewa/Shona-streekbyeenkoms in Zimbabwe

In Februarie 1975 het ek die Getuies van Malawi wat na kampe in Mosambiek gevlug het, besoek. Hierdie broers het die nuutste riglyne van Jehovah se organisasie gevolg, insluitende die nuwe reëling om ’n liggaam van ouermanne te hê. Die nuwe ouermanne het baie geestelike aktiwiteite gereël, insluitende openbare toesprake, ’n bespreking van die dagteks en Die Wagtoring, en hulle het selfs byeenkomste gehou. Hulle het die kampe net soos ’n byeenkoms georganiseer met afdelings vir skoonmaak, kosverspreiding en sekuriteit. Daardie getroue broers het so baie bereik met Jehovah se seën, en toe ek daar weg is, het ek baie aangemoedig gevoel.

In die laat 1970’s het die takkantoor in Zambië oor Malawi begin toesig hou. Maar ek het nog steeds dikwels aan die broers in Malawi gedink en vir hulle gebid, en baie ander het dit ook gedoen. As ’n lid van die Takkomitee in Zimbabwe het ek dikwels met verteenwoordigers van die wêreldhoofkwartier vergader, en daar was ook verantwoordelike broers van Malawi, Suid-Afrika en Zambië. Elke keer het ons dieselfde vraag gevra: “Wat kan ons nog vir die broers in Malawi doen?”

Soos die tyd verbygegaan het, het die vervolging al hoe minder geword. Broers wat uit die land gevlug het, het stadig maar seker teruggekom Malawi toe, terwyl dié wat daar gebly het stelselmatig minder vervolging deurgemaak het. Buurlande het toegelaat dat Jehovah se Getuies preek en vergaderinge hou en het die beperkings op hulle verwyder. In 1991 het Mosambiek dieselfde gedoen. Maar ons het gewonder: ‘Wanneer sal Jehovah se Getuies in Malawi vry wees?’

ONS GAAN TERUG NA MALAWI

Die politieke situasie in Malawi het later verander, en in 1993 het die regering die verbod op Jehovah se Getuies gelig. Kort daarna het ek met ’n sendeling gesels wat vir my gevra het: “Gaan julle terug Malawi toe?” Op daardie stadium was ek 59 jaar oud, so ek het vir hom gesê: “Nee, ek is te oud!” Maar daardie einste dag het ons ’n boodskap van die Bestuursliggaam gekry waarin hulle ons gevra het om terug te gaan.

Ons was baie lief vir ons toewysing in Zimbabwe, so dit was regtig ’n moeilike besluit vir ons. Ons was gelukkig in Zimbabwe, en ons het baie goeie vriende gemaak. Die Bestuursliggaam was baie liefdevol en het gesê dat ons in Zimbabwe kon bly as ons wou. So ons kon maklik ons eie pad gekies het en in Zimbabwe gebly het. Maar ek onthou dat ek gedink het aan hoe Abraham en Sara hulle gerieflike huis verlaat het toe hulle oud was sodat hulle Jehovah se leiding kon gehoorsaam. – Gen. 12:1-5.

Ons het besluit om die leiding van Jehovah se organisasie te volg en het op 1 Februarie 1995 teruggegaan Malawi toe, presies 28 jaar nadat ons die eerste keer daar aangekom het. ’n Takkomitee is gevorm, en dit het bestaan uit my en twee ander broers, en ons het kort daarna aan die werk gespring om die aktiwiteite van Jehovah se Getuies weer aan die gang te kry.

JEHOVAH LAAT DIT GROEI

Dit was ’n seën om te sien hoe Jehovah die werk vinnig laat groei het. Die aantal verkondigers het vinnig gegroei van omtrent 30 000 in 1993 tot meer as 42 000 in 1998. * Die Bestuursliggaam het planne goedgekeur vir ’n nuwe takkantoor om na die groot hoeveelheid werk om te sien wat ons moes doen. Ons het ’n stuk grond van 12 hektaar in Lilongwe gekoop, en ek was aangewys om saam met die Konstruksiekomitee te werk.

Broer Guy Pierce van die Bestuursliggaam het in Mei 2001 die toewydingstoespraak vir die nuwe fasiliteite gegee. Meer as 2 000 plaaslike Getuies het dit bygewoon, waarvan die meeste meer as 40 jaar gedoop was. Hierdie getroue broers en susters het vir baie jare verskriklike vervolging verduur onder die verbod. Hulle het baie min geld gehad, maar hulle het baie geloof en ’n sterk verhouding met Jehovah gehad. En nou was hulle baie bly om op ’n toer te gaan van hulle nuwe Bethel. Oral waar hulle gegaan het, kon Koninkryksliedere wat in Afrikastyl-harmonieë gesing is deur die hele Bethel gehoor word. En as gevolg daarvan was hierdie geleentheid die beste ondervinding wat ek al ooit beleef het. Dit het bewys dat Jehovah dié wat getrou bly gedurende moeilike tye ryklik seën.

Nadat die takkantoor klaar gebou was, was ek baie bly toe ek toewysings begin kry om Koninkryksale toe te wy. Die gemeentes in Malawi het baat gevind by die organisasie se program om Koninkryksale vinnig te bou in lande waar die broers nie baie geld het nie. In die verlede het party gemeentes onder skuilings bymekaargekom wat van bloekombome gemaak was. Hulle het grasmatte vir ’n dak gebruik en lang modderbanke om op te sit. Nou het die broers hard gewerk om bakstene te bak in oonde wat hulle gemaak het, en hulle het pragtige nuwe vergaderingplekke gebou. Maar hulle het nog steeds banke verkies, want soos hulle sê: ‘Daar is altyd plek vir nog een op ’n bank.’

Ek was ook baie bly om te sien hoe Jehovah mense help om geestelik te groei. Jong Afrikabroers het my veral beïndruk omdat hulle aangebied het om te help, en hulle het vinnig baie dinge geleer uit die opleiding wat hulle by Jehovah se organisasie gekry het en omdat hulle die werk gedoen het. Daarom kon hulle omsien na meer verantwoordelikhede in Bethel en in die gemeentes. Die gemeentes was verder versterk deur nuwe plaaslike kringopsieners, waarvan baie getroud was. Hierdie paartjies het gekies om meer in Jehovah se diens te doen deur te besluit om nie kinders te hê nie al het hulle kultuur en, in party gevalle, hulle families druk op hulle geplaas.

TEVREDE MET MY BESLUITE

Saam met Anne by Bethel in Brittanje

Ná 52 jaar in Afrika het ek gesondheidsprobleme gekry. Die Takkomitee het aanbeveel dat ons teruggestuur moet word na Brittanje, en die Bestuursliggaam het dit goedgekeur. Ons was baie teleurgesteld om ’n toewysing waarvoor ons so lief was te verlaat, maar die Bethelgesin in Brittanje sorg baie goed vir ons in ons oudag.

Ek het toegelaat dat Jehovah my pad in die lewe kies, en ek is oortuig dat dit die beste besluit is wat ek nog ooit gemaak het. Wie weet waar my sekulêre loopbaan my sou geneem het as ek op my eie begrip staatgemaak het. Jehovah het altyd geweet wat ek moes doen om ‘my paaie gelyk te maak’ (Spr. 3:5, 6). As ’n jong man was dit vir my baie interessant om te leer hoe ’n groot maatskappy werk. Maar Jehovah se wêreldwye organisasie het vir my ’n geestelike loopbaan gegee wat my baie gelukkiger maak. Dit het my nog altyd baie gelukkig gemaak om Jehovah te dien, en dit is nog steeds so!

^ Die geskiedenis van Jehovah se Getuies in Malawi verskyn in die 1999 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bl.148-223.

^ Malawi het nou meer as 100 000 verkondigers.