Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 46

Hoe Jehovah sy belofte van die Paradys waarborg

Hoe Jehovah sy belofte van die Paradys waarborg

“Elkeen op die aarde wat vir homself ’n seën soek, [sal] deur die God van waarheid geseën . . . word.” – JES. 65:16.

LIED 3 U gee ons hoop en krag

IN HIERDIE ARTIKEL a

1. Wat was die profeet Jesaja se boodskap aan sy mede-Israeliete?

 DIE profeet Jesaja het Jehovah beskryf as “die God van waarheid”. Die woord wat met “waarheid” vertaal word, beteken letterlik “amen” (Jes. 65:​16, vtn.). “Amen” beteken “laat dit so wees”, of “beslis”. Wanneer die woord “amen” in die Bybel gebruik word in verband met Jehovah of Jesus is dit ’n waarborg dat iets waar is. So Jesaja se boodskap aan sy mede-Israeliete was duidelik: Wat Jehovah voorspel, is altyd betroubaar. Jehovah het dit bewys deur elke belofte wat hy maak, te vervul.

2. Hoekom kan ons vertroue hê in Jehovah se beloftes oor ons toekoms, en watter vrae sal ons bespreek?

2 Kan ons dieselfde vertroue hê in Jehovah se beloftes oor ons toekoms? Amper 800 jaar ná Jesaja se tyd het die apostel Paulus verduidelik hoekom God se beloftes altyd betroubaar is. Paulus het gesê: “Dit is onmoontlik vir God om te lieg” (Heb. 6:18). Net soos ’n waterbron nie varswater en soutwater kan voortbring nie, kan Jehovah, die Bron van waarheid, nie leuens vertel nie. Daarom kan ons volle vertroue hê in alles wat Jehovah sê, insluitende al sy beloftes vir ons toekoms. In hierdie artikel sal ons hierdie vrae bespreek: Wat het Jehovah belowe om in die toekoms vir ons te gee? En watter waarborg het Jehovah gegee dat sy belofte sal waar word?

WAT HET JEHOVAH BELOWE?

3. (a) Watter belofte is kosbaar vir al God se knegte? (Openbaring 21:​3, 4) (b) Hoe reageer party wanneer ons daardie belofte met hulle deel?

3 Die belofte wat ons gaan bespreek, is kosbaar vir al God se knegte regoor die wêreld. (Lees Openbaring 21:​3, 4.) Jehovah belowe ’n tyd wanneer “die dood . . . nie meer daar [sal] wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie.” Baie van ons gebruik hierdie vertroostende Bybelverse oor die lewe in die Paradys wanneer ons vir ander preek. Hoe reageer party wanneer ons hierdie belofte met hulle deel? Hulle sê dalk: “Dit klink te goed om waar te wees.”

4. (a) Wat het Jehovah geweet sou gebeur? (b) Wat het Jehovah nog gedoen, buiten die belofte wat hy gemaak het?

4 Toe Jehovah die apostel Johannes geïnspireer het om hierdie belofte van die lewe in die Paradys neer te skryf, het Hy natuurlik geweet dat ons vandag hierdie hoop met ander sou deel wanneer ons die Koninkryksboodskap verkondig. Jehovah het ook geweet dat baie dit moeilik sou vind om hierdie belofte van “nuwe dinge” te glo (Jes. 42:9; 60:2; 2 Kor. 4:​3, 4). So hoe kan ons ander oortuig en ook ons eie vertroue versterk dat die seëninge wat in Openbaring 21:​3, 4 beskryf word, sal waar word? Jehovah het nie net hierdie vertroostende belofte gemaak nie, maar hy het ook oortuigende redes gegee hoekom ons dit kan vertrou. Watter redes het hy gegee?

JEHOVAH WAARBORG SY BELOFTE

5. Watter redes het ons om in God se belofte van die Paradys te vertrou, en waar vind ons dit?

5 Die verse wat daarop volg, gee ons redes om in Jehovah se belofte van die Paradys te vertrou. Daar lees ons: “Die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’ Hy het ook gesê: ‘Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waar.’ En hy het vir my gesê: ‘Dit het gebeur! Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde.’” – Op. 21:​5, 6a.

6. Hoekom versterk die versekeringe wat in Openbaring 21:​5, 6 opgeteken is ons vertroue in God se belofte?

6 Hoekom versterk hierdie Bybelverse ons vertroue in God se belofte? Die Openbaring-boek sê die volgende oor hierdie verse: “Dit is asof Jehovah self vir die getroue mensdom ’n waarborg, of eiendomsbewys, van hierdie toekomstige seëninge onderteken.” b God se belofte is opgeteken in Openbaring 21:​3, 4. Maar dan, in vers 5 en 6, vind ons Jehovah se handtekening, as ’t ware, wat ons die waarborg gee dat dit wat hy belowe het, beslis sal waar word. Kom ons kyk na die woorde wat Jehovah in sy waarborg gebruik.

7. Wat is spesiaal omtrent die inleiding van God se waarborg, en hoekom is daardie feit belangrik?

7 God se waarborg begin so: “Die Een wat op die troon sit, het gesê” (Op. 21:5a). Hierdie woorde is ’n inleiding van een van net drie keer waar Jehovah in die boek Openbaring in die visioene praat. So hierdie waarborg is nie deur ’n engel, nie eens deur Jesus, gegee nie, maar deur Jehovah self! Hierdie feit bewys dat ons wat hy volgende sê, beslis kan vertrou. Hoekom is dit die geval? Omdat Jehovah “nie kan lieg nie” (Tit. 1:2). So die woorde wat ons in Openbaring 21:​5, 6 lees, sal beslis waar word.

“KYK! EK MAAK ALLES NUUT”

8. Wat sê Jehovah om te beklemtoon dat sy belofte sal waar word? (Jesaja 46:10)

8 Dan sê Jehovah: “Kyk!” (Op. 21:5). Die Griekse term wat met “kyk!” vertaal is, word herhaaldelik in die boek Openbaring gebruik. ’n Naslaanwerk sê dat hierdie uitdrukking gebruik word as “’n manier om vir die leser te sê om aandag te skenk aan wat volgende gesê word”. Wat het God volgende gesê? Hy het gesê: “Ek maak alles nuut.” Ja, Jehovah praat oor toekomstige veranderinge, maar omdat hy so seker is dat hy sy belofte sal vervul, sê hy dat hy alreeds hierdie veranderinge maak. – Lees Jesaja 46:10.

9. (a) Na watter twee aktiwiteite van Jehovah verwys die uitdrukking “ek maak alles nuut”? (b) Wat sal gebeur met die bestaande “hemel” en “aarde”?

9 Kom ons ondersoek die volgende uitdrukking in Openbaring 21:5: “Ek maak alles nuut.” In hierdie Bybelhoofstuk verwys daardie uitdrukking na twee aktiwiteite van Jehovah – vervanging en herstelling. Eerstens, wat gaan Jehovah vervang? In Openbaring 21:1 lees ons: “Die vorige hemel en die vorige aarde was nie meer daar nie.” “Die vorige hemel” verwys na regerings wat deur Satan en sy demone beïnvloed word (Matt. 4:​8, 9; 1 Joh. 5:19). Soos dit in die Bybel gebruik word, kan “aarde” verwys na die mense wat op die aarde woon (Gen. 11:1; Ps. 96:1). So, “die vorige aarde” verwys na goddelose mense van vandag. Jehovah sal nie die bestaande “hemel” en “aarde” net verbeter nie; hy sal eerder heeltemal ontslae raak daarvan. Hy sal die huidige hemel en die huidige aarde vervang met “’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde”, wat beteken dat ’n nuwe regering oor regverdige mense sal regeer.

10. Wat sal Jehovah nuut maak?

10 Op watter ander manier sal Jehovah alles nuut maak? (Op. 21:5). Jehovah gaan die aarde en die mense nuut maak deur hulle tot volmaaktheid te bring. Jehovah gaan die hele aarde ’n pragtige plek maak soortgelyk aan die tuin van Eden. En hy gaan ons nuut maak deur elkeen van ons heeltemal te genees. Die kreupeles, die blindes en die dowes sal genees word, en selfs die dooies sal lewend gemaak word. – Jes. 25:8; 35:​1-7.

“HIERDIE WOORDE IS BETROUBAAR EN WAAR. . . . DIT HET GEBEUR!”

11. Watter opdrag het Jehovah vir Johannes gegee, en hoekom?

11 Wat is nog deel van God se waarborg? Jehovah het vir Johannes gesê: “Skryf, want hierdie woorde is betroubaar en waar” (Op. 21:5). Jehovah het meer as net die opdrag gegee om te “skryf”. Hy het ook ’n rede daarvoor gegee. Hy het gesê: “Want hierdie woorde is betroubaar en waar” – dit wil sê, ons kan God se woorde vertrou en dit is akkuraat. Ons is dankbaar dat Johannes gehoorsaam was aan die opdrag om te “skryf”. As gevolg daarvan kan ons lees oor God se belofte van die Paradys en nadink oor die wonderlike seëninge wat op ons wag.

12. Hoekom het Jehovah gesê: “Dit het gebeur!”

12 Wat sê God volgende? “Dit het gebeur!” (Op. 21:6). Nou praat Jehovah asof al die dinge wat genoem is oor die beloofde Paradys, alreeds gebeur het. En hy kan dit sê omdat niks hom kan keer om sy doel te vervul nie. Jehovah gee ons nog ’n kragtige versekering oor sy belofte in die volgende deel van sy waarborg. Wat is dit?

“EK IS DIE ALFA EN DIE OMEGA”

13. Hoekom het Jehovah gesê: “Ek is die Alfa en die Omega”?

13 Soos vroeër genoem is, het Jehovah self drie keer in die visioene met Johannes gepraat (Op. 1:8; 21:​5, 6; 22:13). By elkeen van hierdie geleenthede het Jehovah gesê: “Ek is die Alfa en die Omega.” Alfa is die eerste letter van die Griekse alfabet en omega is die laaste letter. Deur die beskrywing “die Alfa en die Omega” te gebruik, wys Jehovah dat wanneer hy iets begin, hy dit sal voltooi.

Wanneer Jehovah iets begin, voltooi hy dit (Sien paragraaf 14, 17)

14. (a) Gee ’n voorbeeld van wanneer Jehovah in werklikheid gesê het “Alfa” en wanneer hy in ’n sekere sin sal sê “Omega”. (b) Watter waarborg is in Genesis 2:​1-3?

14 Nadat Jehovah Adam en Eva geskep het, het Hy gesê wat sy oorspronklike doel vir mense en vir die aarde is. Die Bybel sê: “God [het] hulle geseën, en God het vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar en word baie, vul die aarde en bewerk dit’” (Gen. 1:28). Op daardie oomblik het Jehovah in werklikheid gesê “Alfa”. Hy het duidelik gesê wat sy doel is: Die tyd sou kom wanneer volmaakte, gehoorsame nakomelinge van Adam en Eva die aarde sou vul en dit in ’n paradys sou verander. Op daardie toekomstige tyd sal Jehovah in ’n sekere sin sê “Omega”. Nadat Jehovah “die hemel en die aarde en alles daarin” voltooi het, het Jehovah ’n waarborg gegee. Dit is in Genesis 2:​1-3. (Lees.) Jehovah het gesê dat die sewende dag heilig is. Wat beteken dit? Jehovah het ’n waarborg gegee dat hy sy doel vir mense en vir die aarde beslis sou uitvoer. Dit sou aan die einde van daardie sewende dag ten volle bereik wees.

15. Hoekom het dit dalk gelyk asof Satan God se doel vir die mens in die wiele gery het?

15 Nadat Adam en Eva gerebelleer het, het hulle sondaars geword en sonde en die dood aan hulle nageslag oorgedra (Rom. 5:12). As gevolg daarvan het dit dalk gelyk asof Satan God se doel om die aarde met volmaakte, gehoorsame mense te vul, in die wiele gery het. Dit het gelyk asof Satan dit vir Jehovah onmoontlik gemaak het om ooit “Omega” te sê. Satan het dalk gedink dat Jehovah baie min opsies oorgehad het. Een opsie was om Adam en Eva dood te maak en om nog ’n volmaakte paartjie te skep om Sy doel vir die mens te vervul. Maar as God dit gedoen het, sou die Duiwel Hom daarvan beskuldig het dat Hy ’n leuenaar is. Hoekom? Omdat Jehovah vir Adam en Eva gesê het dat hulle nageslag die aarde sou vul volgens Genesis 1:28.

16. Hoekom het Satan dalk gedink dat hy Jehovah daarvan kon beskuldig dat hy ’n mislukking is?

16 Watter ander besluit het Satan dalk gedink sou God maak? Dalk het Satan gedink dat Jehovah Adam en Eva sou toelaat om ’n onvolmaakte nageslag voort te bring wat nooit volmaaktheid sou kon bereik nie (Pred. 7:20; Rom. 3:23). In daardie geval sou die Duiwel beslis Jehovah daarvan beskuldig het dat hy ’n mislukking is. Hoekom? Omdat hierdie opsie nie God se doel sou bereik nie, dit wil sê om die Paradysaarde met volmaakte, gehoorsame nakomelinge van Adam en Eva te vul.

17. Wat het Jehovah gedoen nadat Satan en die eerste mense gerebelleer het, en wat sal die eindresultaat wees? (Sien ook prent.)

17 Satan sou hom nooit kon voorstel wat Jehovah sou doen nie. Jehovah het die beste oplossing gehad om sy doel te vervul, al het Satan en Adam en Eva gerebelleer (Ps. 92:5). Jehovah het gewys dat hy nie ’n leuenaar is nie en het by sy woord gebly deur Adam en Eva toe te laat om kinders te hê. En Jehovah het gewys dat hy nie ’n mislukking is nie, maar dat hy suksesvol is. Hy het seker gemaak dat sy doel vervul sou word deur ’n “nageslag” te voorsien wat Adam en Eva se gehoorsame nakomelinge sou red (Gen. 3:15; 22:18). Jehovah se losprysreëling het Satan seker verstom! Hoekom? Omdat die losprys gebaseer is op onselfsugtige liefde (Matt. 20:28; Joh. 3:16). Dit is ’n eienskap wat Satan nie het nie; hy is selfsugtig. So, wat sal gebeur as gevolg van die losprysreëling? Aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy sal volmaakte, gehoorsame nakomelinge van Adam en Eva op ’n paradysaarde woon – net soos Jehovah oorspronklik wou hê. Op daardie tyd sal Jehovah as ’t ware “Omega” sê.

HOE OM ONS VERTROUE IN JEHOVAH SE BELOFTE VAN DIE PARADYS TE VERSTERK

18. Watter drie versekeringe gee God vir ons? (Sien ook die venster “ Drie redes om in Jehovah se belofte te vertrou”.)

18 Gebaseer op wat ons bespreek het, watter versekeringe kan ons deel met dié wat twyfel dat God se belofte van die Paradys sal waar word? Eerstens, Jehovah maak self die belofte. Die boek Openbaring sê: “Die Een wat op die troon sit, het gesê: ‘Kyk! Ek maak alles nuut.’” Hy het die wysheid, die krag en die begeerte om sy belofte te laat waar word. Tweedens, die vervulling van sy belofte is so seker dat dit uit Jehovah se oogpunt alreeds gebeur het. Dit is hoekom hy gesê het: “Hierdie woorde is betroubaar en waar. . . . Dit het gebeur!” Derdens, wanneer Jehovah iets begin, sal hy dit voltooi. Dit is hoekom hy gesê het: “Ek is die Alfa en die Omega.” Jehovah sal bewys dat Satan ’n leuenaar en ’n mislukking is.

19. Wat kan jy doen wanneer mense oor God se belofte van die Paradys twyfel?

19 Onthou, elke keer wanneer jy God se waarborg met mense deel wat jy in die bediening ontmoet, versterk jy jou vertroue in Jehovah se beloftes. So wanneer jy op ’n volgende keer die vertroostende belofte oor die komende Paradys lees soos dit beskryf word in Openbaring 21:4 en iemand sê: “Dit klink te goed om waar te wees”, wat kan jy doen? Jy kan vers 5 en 6 vir hulle lees en dit verduidelik. Wys hoe Jehovah sy belofte gewaarborg het deur dit as ’t ware met sy eie handtekening te teken. – Jes. 65:16.

LIED 145 God se belofte van die Paradys

a Hierdie artikel sal die waarborg bespreek wat Jehovah voorsien het om ons te verseker dat sy belofte van die Paradys sal waar word. Elke keer wanneer ons hierdie waarborg met ander deel, sal ons ons eie vertroue in Jehovah se beloftes versterk.

b Sien Openbaring—Sy groot klimaks is op hande! bl. 303-304, par. 8-9.