Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 47

Hoe om ons liefde vir mekaar sterk te hou

Hoe om ons liefde vir mekaar sterk te hou

“Laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want die liefde kom van God.” – 1 JOH. 4:7.

LIED 109 Toon intense liefde uit die hart

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. (a) Hoekom het die apostel Paulus gesê dat liefde “die grootste” eienskap is? (b) Watter vrae sal ons bespreek?

 TOE die apostel Paulus geloof, hoop en liefde bespreek het, het hy gesê dat ‘liefde die grootste van hierdie eienskappe is’ (1 Kor. 13:13). Hoekom het Paulus dit gesê? In die toekoms sal dit nie meer vir ons nodig wees om geloof in God se beloftes oor sy nuwe wêreld te hê nie of om te hoop dat daardie beloftes vervul sal word nie omdat dit alreeds vervul sal wees. Maar ons sal altyd liefde vir Jehovah en vir mense moet hê. Om die waarheid te sê, ons liefde vir hulle sal vir ewig aanhou groei.

2 Omdat ons altyd liefde sal moet hê, sal ons drie vrae bespreek. Eerstens, hoekom moet ons lief wees vir mekaar? Tweedens, hoe wys ons ons liefde vir mekaar? Derdens, hoe kan ons ons liefde vir mekaar sterk hou?

HOEKOM MOET ONS MEKAAR LIEFHÊ?

3. Watter redes het ons om mekaar lief te hê?

3 Hoekom is dit vir ons belangrik om mekaar lief te hê? Wanneer ons wys dat ons lief is vir ons broers, bewys ons dat ons ware Christene is. Jesus het vir sy apostels gesê: “So sal almal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde vir mekaar het” (Joh. 13:35). En as ons mekaar liefhet, bly ons verenig. Paulus het liefde “’n volmaakte band van eenheid” genoem (Kol. 3:14). Maar daar is nog ’n belangrike rede hoekom ons mekaar moet liefhê. Die apostel Johannes het aan sy broers en susters geskryf: “Die een wat God liefhet [moet] ook sy broer . . . liefhê” (1 Joh. 4:21). Wanneer ons wys dat ons mekaar liefhet, wys ons ons liefde vir God.

4-5. Gee ’n voorbeeld wat wys hoe ons liefde vir God verband hou met ons liefde vir mekaar.

4 Hoe hou ons liefde vir God verband met ons liefde vir ons broers en susters? Dink byvoorbeeld aan die verband wat daar is tussen ons hart en ander dele van ons liggaam. Wanneer ’n dokter ons pols op ons gewrig nagaan om te kyk of dit swak of sterk is, sal hy dalk ’n bietjie inligting kan kry oor hoe sterk ons hart is. Watter les kan ons uit hierdie voorbeeld leer?

5 Net soos ’n dokter ’n bietjie inligting kan kry oor die gesondheid van ons hart wanneer hy ons pols nagaan, kan ons ’n bietjie inligting kry oor hoe sterk ons liefde vir God is deur te kyk hoe sterk ons liefde vir ander is. As ons oplet dat ons liefde vir ons broers en susters ’n bietjie verswak het, kan dit dalk wys dat ons liefde vir God ook swakker word. Maar wanneer ons gereeld wys dat ons lief is vir ons broers en susters, wys dit dat ons liefde vir God sterk is.

6. Hoekom moet ons bekommerd wees as ons liefde vir ons broers en susters swak word? (1 Johannes 4:​7-9, 11)

6 Ons moet bekommerd wees as ons liefde vir ons broers en susters swak word. Hoekom? Omdat dit kan beteken dat ons in geestelike gevaar is. Die apostel Johannes maak dit duidelik wanneer hy ons herinner: “As iemand nie lief is vir sy broer, wat hy gesien het nie, kan hy nie lief wees vir God, wat hy nie gesien het nie” (1 Joh. 4:20). Wat is die les vir ons? Ons maak Jehovah gelukkig net as ons “mekaar [liefhet]”. – Lees 1 Johannes 4:​7-9, 11.

HOE WYS ONS DAT ONS LIEF IS VIR MEKAAR?

7-8. Wat is ’n paar maniere hoe ons kan wys dat ons vir mekaar lief is?

7 In God se Woord vind ons oor en oor die gebod dat ons “mekaar [moet] liefhê” (Joh. 15:​12, 17; Rom. 13:8; 1 Tess. 4:9; 1 Pet. 1:22; 1 Joh. 4:11). Maar liefde is ’n eienskap van die hart, of die innerlike mens, en geen mens kan sien wat in ons hart is nie. So, hoe kan ons wys dat ons lief is vir ons broers en susters? Deur ons woorde en dade.

8 Daar is baie maniere hoe ons kan wys dat ons vir ons broers en susters lief is. Hier is ’n paar voorbeelde: “Praat die waarheid met mekaar” (Sag. 8:16). “[Bewaar] vrede onder mekaar” (Mark. 9:50). “Neem die leiding om eer aan mekaar te betoon” (Rom. 12:10). “Verwelkom mekaar” (Rom. 15:7). “Hou aan om mekaar . . . te vergewe” (Kol. 3:13). “Hou aan om mekaar se laste te dra” (Gal. 6:2). “Hou . . . aan om mekaar . . . te vertroos” (1 Tess. 4:18). “Hou . . . aan om mekaar . . . op te bou” (1 Tess. 5:11). “Bid vir mekaar.” – Jak. 5:16.

Hoe kan ons ’n broer of ’n suster help wat deur ’n moeilike tyd gaan? (Sien paragraaf 7-9)

9. Hoekom is om ander te vertroos ’n belangrike manier om te wys dat ons hulle liefhet? (Sien ook prent.)

9 Kom ons ondersoek een van die maniere hoe ons kan wys dat ons lief is vir ander. Paulus het gesê: “Hou . . . aan om mekaar . . . te vertroos.” Om ander te vertroos, is ’n belangrike manier om te wys dat ons hulle liefhet. Hoekom? Volgens ’n Bybelnaslaanwerk beteken die woord wat Paulus vir “vertroosting” gebruik het “om langs iemand te staan om hom aan te moedig wanneer hy deur ’n verskriklike moeilike tyd gaan”. So wanneer ons iemand vertroos wat deur ’n moeilike tyd gaan, help ons hom om Jehovah getrou te bly dien. Elke keer dat ons ’n broer of ’n suster ’n skouer gee om op te huil, wys ons ons liefde vir ons broer of suster. – 2 Kor. 7:​6, 7, 13.

10. Wat is die verband tussen meegevoel en vertroosting?

10 Om meegevoel te hê en ander te vertroos, hou met mekaar verband. Hoe? ’n Persoon wat meegevoel het, word gemotiveer om ander te vertroos en om hulle pyn en lyding te probeer verlig. So eers het ons meegevoel; dan gee ons vertroosting. Let op hoe Paulus Jehovah se meegevoel verbind met die vertroosting wat Hy gee. Paulus beskryf Jehovah as “die Vader van groot genade en die God van alle vertroosting” (2 Kor. 1:3). Hier gebruik Paulus die uitdrukking “groot genade” om meegevoel vir ander te beskryf. So, God word die Vader, of die Bron, van groot genade genoem omdat hy baie meegevoel vir mense het. En daardie meegevoel motiveer hom om ons te vertroos “wanneer ons deur moeilike tye gaan” (2 Kor. 1:4). Net soos skoon water wat uit ’n waterbron vloei dié verfris wat dors is, verfris en vertroos Jehovah dié wat deur ’n moeilike tyd gaan. Hoe kan ons Jehovah navolg en meegevoel vir ander hê en hulle vertroos? Een manier hoe ons dit kan doen, is deur eienskappe in ons hart te ontwikkel wat ons sal help om meegevoel te hê en ander te vertroos. Wat is van hierdie eienskappe?

11. Watter ander eienskappe moet ons ontwikkel om die liefde te behou wat ons motiveer om ander te vertroos volgens Kolossense 3:12 en 1 Petrus 3:8?

11 Wat sal ons help om die liefde te behou wat ons nodig het om elke dag ‘aan te hou om mekaar te vertroos’? Ons moet medelye, broederlike liefde en goedhartigheid ontwikkel. (Lees Kolossense 3:12; 1 Petrus 3:8.) Hoe sal hierdie eienskappe ons help? Wanneer meegevoel en eienskappe wat daarmee verband hou, deel van ons persoonlikheid word, kan ons nie anders as om dié te vertroos wat deur moeilike tye gaan nie. Dit is soos Jesus gesê het: “Uit die oorvloed van die hart praat die mond. Die goeie mens bring goeie dinge uit sy goeie skat” (Matt. 12:​34, 35). Om ons broers en susters te vertroos wat deur ’n moeilike tyd gaan, is werklik ’n belangrike manier hoe ons vir hulle kan wys dat ons hulle liefhet.

HOE KAN ONS ONS LIEFDE VIR MEKAAR STERK HOU?

12. (a) Hoekom moet ons nie toelaat dat ons ons liefde vir mekaar verloor nie? (b) Watter vraag sal ons nou bespreek?

12 Ons almal wil “aanhou om mekaar lief te hê” (1 Joh. 4:7). Maar dit is belangrik om te onthou dat Jesus gewaarsku het dat “die liefde van die meeste mense [sou] afkoel” (Matt. 24:12). Jesus het nie gesê dat die meeste van sy dissipels sou ophou om te wys dat hulle vir mekaar lief is nie. Maar ons moenie toelaat dat die gebrek aan liefde van die mense in die wêreld ’n uitwerking het op hoe ons mekaar behandel nie. Met dit in gedagte, kom ons bespreek hierdie belangrike vraag: Is daar ’n manier om te toets of ons liefde vir ons broers sterk is?

13. Wat kan ons liefde toets?

13 Een manier om te kyk hoe sterk ons liefde is, is om te ondersoek hoe ons sekere situasies in die lewe hanteer (2 Kor. 8:8). Die apostel Petrus het een van hierdie situasies genoem: “Die belangrikste van alles is dat julle intense liefde vir mekaar moet hê, want die liefde bedek baie sondes” (1 Pet. 4:8). So die swakhede en onvolmaakthede van ander kan ons liefde toets.

14. Volgens 1 Petrus 4:​8, watter tipe liefde het ons nodig? Gee ’n voorbeeld.

14 Kom ons dink mooi oor Petrus se woorde. Die eerste deel van vers 8 beskryf die tipe liefde wat ons moet hê – “intense liefde”. Die woord wat Petrus vir “intense” gebruik het, beteken letterlik “uitgerekte”. Die tweede deel van die vers beskryf die uitwerking wat intense liefde kan hê. Dit bedek die sondes van ons broers. Ons kan so daaraan dink: Ons hou ons liefde met albei hande vas asof dit ’n rekbare stuk lap is, en ons rek dit meer en meer uit totdat dit nie een, nie twee nie, maar “baie sondes” bedek. Om te bedek, is ’n beskrywende manier om te sê om te vergewe. Net soos ’n stuk lap ’n vlek kan bedek, kan liefde die swakhede en onvolmaakthede van ander bedek.

15. Wat sal ons kan doen as ons liefde vir ons broers en susters sterk genoeg is? (Kolossense 3:13)

15 Ons liefde vir ander moet sterk genoeg wees sodat ons die onvolmaakthede van ons broers en susters kan vergewe – selfs as dit baie moeilik is. (Lees Kolossense 3:13.) Wanneer ons ander vergewe, wys ons dat ons liefde sterk is en dat ons Jehovah gelukkig wil maak. Wat kan ons nog help om die irriterende gewoontes en foute van ander oor te sien?

Net soos ons die beste foto’s hou en die res uitvee, koester ons die goeie herinneringe van ons broers en susters en weier ons om aan die slegtes te bly dink (Sien paragraaf 16-17)

16-17. Wat sal ons nog help om ander se klein foute oor te sien? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prent.)

16 Fokus op die positiewe eienskappe van jou broers en susters, nie op die negatiewe nie. Dink aan hierdie vergelyking. Stel jou voor dat jy saam met ’n groep broers en susters kuier. Jy het ’n lekker tyd, en aan die einde van die kuier neem julle ’n groepfoto. Om die waarheid te sê, julle neem nog twee foto’s net ingeval die eerste foto nie goed lyk nie. Nou het julle drie foto’s. Maar in een van hulle sien jy dat ’n broer frons. Wat doen jy met daardie foto? Jy vee dit uit omdat jy twee ander foto’s het waarin almal in die groep, insluitende daardie broer, glimlag.

17 Kom ons vergelyk die foto’s wat ons hou met die herinneringe wat ons hou. Ons het gewoonlik goeie herinneringe van die tye wat ons met ons broers en susters spandeer het. Maar sê nou ’n broer of ’n suster sê of doen iets wat nie liefdevol is nie by een van daardie geleenthede. Wat moet ons met daardie herinnering doen? Ons moet probeer om daardie herinnering te vergeet, net soos ons een van daardie foto’s sou uitvee (Spr. 19:11; Ef. 4:32). Ons kan ons broer of suster se klein fout vergeet omdat ons baie goeie tye onthou wat ons met hom of haar spandeer het. Dit is die soort herinneringe wat ons wil hou en koester.

HOEKOM LIEFDE VANDAG VERAL NODIG IS

18. Watter hoofgedagtes oor liefde het ons in hierdie artikel bespreek?

18 Hoekom wil ons ons liefde vir mekaar sterk hou? Soos ons bespreek het, wys ons liefde vir Jehovah wanneer ons wys dat ons lief is vir ons broers en susters. Hoe wys ons ons liefde vir ons broers en susters? Een manier hoe ons dit doen, is deur hulle te vertroos. Ons sal kan “[aanhou] om mekaar . . . te vertroos” as ons deur meegevoel gemotiveer word. Hoe kan ons ons liefde vir mekaar sterk hou? Deur ons bes te doen om ander se foute te vergewe.

19. Hoekom is dit vandag veral belangrik om te wys dat ons mekaar liefhet?

19 Hoekom is dit vandag veral belangrik om te wys dat ons mekaar liefhet? Kyk na die rede wat Petrus gee: “Die einde van alles het naby gekom”, daarom “[moet] julle intense liefde vir mekaar . . . hê” (1 Pet. 4:​7, 8). Wat kan ons verwag terwyl die einde van hierdie goddelose wêreld al hoe nader kom? Jesus het van sy volgelinge gepraat en voorspel: “Julle sal deur al die nasies gehaat word as gevolg van my naam” (Matt. 24:9). Om getrou aan Jehovah te bly ten spyte van sulke haat, moet ons verenig bly. Terwyl ons dit doen, sal Satan se pogings om ons te verdeel, misluk, want ons word saamgebind deur liefde – die “volmaakte band van eenheid”. – Kol. 3:14; Fil. 2:​1, 2.

LIED 130 Wees vergewensgesind

a Dit is nou belangriker as ooit om te wys dat ons lief is vir ons broers en susters. Hoekom is dit so, en hoe kan ons wys dat ons vir mekaar lief is?