Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 49

Sal Jehovah my gebede beantwoord?

Sal Jehovah my gebede beantwoord?

“Julle sal my aanroep en tot my kom bid, en ek sal na julle luister.” – JER. 29:12.

LIED 41 Hoor my gebed

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. Hoekom voel ons dalk dat Jehovah nie ons gebede beantwoord nie?

 “VIND jou grootste vreugde in Jehovah, en hy sal jou die begeertes van jou hart gee” (Ps. 37:4). Wat ’n wonderlike belofte! Maar moet ons verwag dat Jehovah alles waarvoor ons vra onmiddellik vir ons sal gee? Hoekom vra ons dalk daardie vraag? Kyk na die volgende scenario’s. ’n Ongetroude suster bid om genooi te word na die Skool vir Koninkrykspredikers. Maar ’n hele paar jaar gaan verby, en sy is nog steeds nie genooi nie. ’n Jong broer vra Jehovah om hom te help om te herstel van ’n ernstige siekte sodat hy meer in die gemeente kan doen. Maar sy gesondheid word nie beter nie. Christenouers bid dat hulle kind in die waarheid sal bly. Maar hulle kind besluit om op te hou om Jehovah te dien.

2 Dalk het jy Jehovah ook vir iets gevra, maar jy het dit nog nie ontvang nie. As gevolg daarvan dink jy dalk dat Jehovah party gebede beantwoord, maar nie joune nie. Of jy dink dalk dat jy iets verkeerds gedoen het. ’n Suster met die naam Janice b het so gevoel. Sy en haar man het gebid oor hulle begeerte om by Bethel te dien. Sy sê: “Ek was oortuig daarvan dat Bethel ons sommer gou-gou sou aanvaar.” Maar maande het jare geword, en die paartjie is nog steeds nie genooi nie. Janice sê: “Ek was hartseer en het dit nie verstaan nie. Ek het gewonder wat ek gedoen het om Jehovah teleur te stel. Ek was so spesifiek in my gebede. Hoekom het hy nie my gebed beantwoord nie?”

3. Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Soms wonder ons dalk of Jehovah na ons gebede luister. Party getroue manne wat lank gelede gelewe het, het ook hieroor gewonder (Job 30:20; Ps. 22:2; Hab. 1:2). Wat kan jou oortuig dat Jehovah jou gebede sal beantwoord? (Ps. 65:2). Om ons te help om daardie vraag te beantwoord, sal ons eers die volgende moet beantwoord: (1) Wat kan ons van Jehovah verwag? (2) Wat verwag Jehovah van ons? (3) Hoekom sal ons dalk van ons gebede moet verander?

WAT KAN ONS VAN JEHOVAH VERWAG?

4. Wat belowe Jehovah om te doen volgens Jeremia 29:12?

4 Jehovah belowe dat hy na ons gebede sal luister. (Lees Jeremia 29:12.) Ons God is lief vir sy getroue aanbidders, en daarom sal hy nooit hulle gebede ignoreer nie (Ps. 10:17; 37:28). Maar dit beteken nie dat hy ons alles sal gee waarvoor ons vra nie. Ons sal dalk vir die nuwe wêreld moet wag voordat ons party van die dinge ontvang waarvoor ons vra.

5. Wat hou Jehovah in gedagte wanneer hy na ons gebede luister? Verduidelik.

5 Jehovah hou sy doel in gedagte wanneer hy na ons gebede luister (Jes. 55:​8, 9). Een van die dinge wat hy wil hê, is dat die hele aarde gevul moet word met mense wat vreugdevol verenig is onder sy heerskappy. Maar Satan beweer dat mense beter af sou wees as hulle oor hulleself regeer (Gen. 3:​1-5). Om te bewys dat die Duiwel ’n leuen vertel het, het Jehovah toegelaat dat mense oor hulleself regeer. Maar menseregerings het baie van die probleme veroorsaak wat ons vandag ondervind (Pred. 8:9). Ons verstaan dat Jehovah nie al hierdie probleme nou sal verwyder nie. As hy dit sou doen, sal party dalk dink dat menseheerskappy goed werk – dat dit die mens se probleme kan oplos.

6. Hoekom moet ons oortuig wees dat Jehovah altyd sal doen wat liefdevol en regverdig is?

6 Jehovah sal gebede vir soortgelyke dinge dalk op verskillende maniere beantwoord. Byvoorbeeld, toe koning Hiskia baie siek was, het hy Jehovah gesmeek om hom te help om gesond te word. Jehovah het hom toe genees (2 Kon. 20:​1-6). Aan die ander kant, toe die apostel Paulus Jehovah gesmeek het om sy “doring in die vlees”, moontlik ’n gesondheidsprobleem, weg te neem, het Jehovah nie die probleem verwyder nie (2 Kor. 12:​7-9). Dink ook aan die voorbeeld van die apostels Jakobus en Petrus. Koning Herodes wou hulle albei doodmaak. Die gemeente het vir Petrus en heel moontlik ook vir Jakobus gebid. Maar Jakobus is doodgemaak, terwyl Petrus deur ’n wonderwerk gered is (Hand. 12:​1-11). Ons wonder dalk: ‘Hoekom het Jehovah Petrus gered maar nie vir Jakobus nie?’ Die Bybel sê nie. c Maar ons kan seker wees dat Jehovah se weë “nooit onregverdig” is nie (Deut. 32:4). En ons weet dat Petrus sowel as Jakobus Jehovah se goedkeuring gehad het (Op. 21:14). Soms sal Jehovah dalk nie ons gebede beantwoord op die manier wat ons verwag het nie. Maar omdat ons vertrou dat Jehovah se antwoord op ons gebede altyd liefdevol en regverdig sal wees, bevraagteken ons nie die manier hoe hy besluit om ons gebede te beantwoord nie. – Job 33:13.

7. Wat probeer ons vermy, en hoekom?

7 Ons probeer dit vermy om ons situasie met ander s’n te vergelyk. Byvoorbeeld, ons vra Jehovah dalk om ons op ’n spesifieke manier te help, maar ons kry nie waarvoor ons gebid het nie. Later hoor ons dat iemand anders vir dieselfde ding gebid het, en dit het gelyk asof Jehovah daardie persoon se gebed beantwoord het. ’n Suster met die naam Anna het so ’n ondervinding gehad. Sy het gebid dat haar man, Matthew, wat kanker gehad het, gesond word. Op daardie selfde tyd het twee bejaarde Christensusters ook kanker gehad. Anna het baie hard vir Matthew en vir die susters gebid. Die susters het gesond geword, maar Matthew het gesterf. Aan die begin het Anna gewonder of die susters beter geword het omdat Jehovah hulle gehelp het. En as dit die geval is, hoekom het hy nie haar gebede dat haar man gesond moet word, beantwoord nie? Ons weet natuurlik nie hoe die twee susters beter geword het nie. Wat ons wel weet, is dat Jehovah ’n permanente oplossing vir al ons pyn en lyding het en dat hy sy vriende wat gesterf het, baie graag wil opwek. – Job 14:15.

8. (a) Hoe ondersteun Jehovah ons volgens Jesaja 43:2? (b) Hoe kan gebed ons help wanneer ons probleme het? (Sien die video Gebed help ons wanneer ons probleme het.)

8 Jehovah sal ons altyd ondersteun. As ons liefdevolle Vader wil Jehovah nie hê dat ons moet ly nie (Jes. 63:9). Tog voorkom hy nie al ons probleme, wat met riviere of vlamme vergelyk kan word, nie. (Lees Jesaja 43:2.) Maar hy belowe wel om ons te help om “deur” daardie moeilike tye te kom. En hy sal nie toelaat dat ons probleme vir ons permanente skade veroorsaak nie. Jehovah gee ons ook sy kragtige heilige gees om ons te help om te volhard (Luk. 11:13; Fil. 4:13). As gevolg daarvan kan ons die vertroue hê dat hy ons altyd presies sal gee wat ons nodig het sodat ons kan volhard en getrou aan hom kan bly. d

WAT VERWAG JEHOVAH VAN ONS?

9. Hoekom moet ons vertrou dat Jehovah ons sal help volgens Jakobus 1:​6, 7?

9 Jehovah verwag dat ons op hom moet vertrou (Heb. 11:6). Soms voel ons dalk dat ons probleme te moeilik is om te hanteer. Ons begin dalk selfs twyfel of Jehovah ons sal help. Maar die Bybel verseker ons dat ons met God se krag “teen ’n muur [kan] opklim” (Ps. 18:29). So in plaas daarvan om toe te laat dat sulke twyfelgedagtes groei, moet ons met sterk geloof bid en vertrou dat Jehovah al ons gebede sal beantwoord. – Lees Jakobus 1:​6, 7.

10. Gee ’n voorbeeld om te wys hoe ons in ooreenstemming met ons gebede kan optree.

10 Jehovah verwag dat ons in ooreenstemming met ons gebede moet optree. Byvoorbeeld, ’n broer vra Jehovah dalk om hom te help om tyd af te kry by sy werk sodat hy ’n streekbyeenkoms kan bywoon. Hoe sal Jehovah dalk daardie gebed beantwoord? Hy sal dalk die broer die moed gee wat hy nodig het om met sy baas te praat. Maar die broer sal nog steeds na sy baas toe moet gaan en vir tyd moet afvra. Hy sal dit dalk herhaaldelik moet doen. Hy sal dalk selfs aanbied om skofte met ’n ander werksmaat te ruil. En as dit nodig is, sal hy dalk aanbied om die tyd af te vat sonder betaling.

11. Hoekom moet ons herhaaldelik oor ons bekommernisse bid?

11 Jehovah verwag dat ons herhaaldelik oor ons bekommernisse moet bid (1 Tess. 5:17). Soos ons uit Jesus se woorde kan sien, sal party van ons gebede nie onmiddellik beantwoord word nie (Luk. 11:9). So moenie opgee nie! Bid uit die hart en herhaaldelik (Luk. 18:​1-7). Wanneer ons aanhou bid oor ’n saak wys ons vir Jehovah dat ons ernstig is oor dit waaroor ons gebid het. Ons wys ook dat ons geloof het in sy vermoë om ons te help.

HOEKOM SAL ONS DALK VAN ONS GEBEDE MOET VERANDER?

12. (a) Wat is een vraag wat ons onsself moet afvra oor die dinge waarvoor ons bid, en hoekom? (b) Hoe kan ons seker maak dat ons gebede wys dat ons respek het vir Jehovah? (Sien die venster “ Wys die dinge waarvoor ek bid dat ek Jehovah respekteer?”)

12 As ons nie ontvang waarvoor ons gebid het nie, vra ons onsself dalk drie vrae. Die eerste een is: ‘Bid ek vir die regte ding?’ Baie keer dink ons dat ons weet wat die beste vir ons is. Maar die dinge waarvoor ons vra, is dalk nie die beste vir ons nie. As ons oor ’n probleem bid, is daar dalk ’n beter oplossing vir die probleem as die een waarvoor ons vra. En party dinge waarvoor ons vra, stem dalk nie ooreen met Jehovah se wil nie (1 Joh. 5:14). Byvoorbeeld, dink aan die voorbeeld van die ouers wat vroeër genoem is. Hulle het Jehovah gevra om hulle kind in die waarheid te hou. Dit klink soos ’n gepaste gebed. Maar Jehovah sal nie een van ons dwing om hom te dien nie. Hy wil hê dat ons almal, insluitende ons kinders, moet kies om hom te aanbid (Deut. 10:​12, 13; 30:​19, 20). So die ouers kan Jehovah eerder vra om hulle te help om hulle kind se hart te bereik sodat hy beweeg sal word om Jehovah lief te hê en om Sy vriend te word. – Spr. 22:6; Ef. 6:4.

13. Wanneer sal Jehovah ons help volgens Hebreërs 4:16? Verduidelik.

13 ’n Tweede vraag sou wees: ‘Is dit Jehovah se tyd om my gebed te beantwoord?’ Ons voel dalk dat ons gebede onmiddellik beantwoord moet word. Maar eintlik weet Jehovah wanneer dit die beste tyd is om ons te help. (Lees Hebreërs 4:16.) Wanneer ons nie dadelik ontvang wat ons vra nie, dink ons dalk dat Jehovah se antwoord ‘Nee’ is. Maar sy antwoord kan in werklikheid wees ‘Nie nou nie’. Byvoorbeeld, dink terug aan die jong broer wat gebid het dat hy genees word van sy siekte. As Jehovah hom deur middel van ’n wonderwerk genees het, kon Satan gesê het dat die broer Jehovah bly dien net omdat hy genees is (Job 1:​9-11; 2:4). Jehovah het ook alreeds ’n tyd vasgestel wanneer hy ’n einde sal maak aan alle siektes (Jes. 33:24; Op. 21:​3, 4). En tot dan kan ons nie verwag dat Jehovah ons deur middel van wonderwerke van ons siektes moet genees nie. So die broer kan Jehovah vra om hom die krag en die innerlike vrede te gee om sy siekte te verduur en om God getrou te bly dien. – Ps. 29:11.

14. Wat leer jy uit Janice se ondervinding?

14 Dink terug aan die ondervinding van Janice, wat gebid het om by Bethel te dien. Vyf jaar het verbygegaan voordat sy verstaan het hoe Jehovah haar gebed beantwoord het. Sy sê: “Jehovah het daardie tyd gebruik om my te leer en om my te help om ’n beter Christen te word. My vertroue in hom moes groei. My persoonlike studiegewoontes moes verbeter. En ek moes innerlike vreugde vind – iets wat nie van my omstandighede afhang nie.” Later is Janice en haar man genooi om op die kring te dien. Janice kyk nou terug en sê: “Jehovah het my gebede beantwoord, al was dit nie op die manier wat ek verwag het nie. Dit het my ’n hele rukkie geneem om te verstaan dat die antwoord wat Jehovah gegee het ’n pragtige geskenk was, maar ek is so dankbaar dat ek sy liefde en goedheid ondervind het.”

As jy voel dat jy nie ’n antwoord van Jehovah ontvang het nie, oorweeg dit om vir ander dinge te bid (Sien paragraaf 15) f

15. Hoekom sal ons dalk soms minder spesifiek in ons gebede moet wees? (Sien ook prente.)

15 ’n Derde vraag sou wees: ‘Moet ek vir iets anders bid?’ Al is dit goed om spesifiek in ons gebede te wees, sal ons dalk kan sien wat Jehovah se wil vir ons is as ons minder spesifiek in ons gebede is. Dink aan die voorbeeld van die ongetroude suster wat bid om die Skool vir Koninkrykspredikers by te woon. Sy wil die skool bywoon sodat sy kan dien waar daar meer verkondigers nodig is. So terwyl sy aanhou bid om na die skool genooi te word, kan sy Jehovah ook vra om haar te help om ander geleenthede te identifiseer om haar bediening uit te brei (Hand. 16:​9, 10). Dan kan sy in ooreenstemming met daardie gebed optree deur haar kringopsiener te vra of ’n gemeente daar naby meer pioniers nodig het. Of sy kan vir ’n takkantoor skryf om te vra waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. e

16. Waarvan kan ons oortuig wees?

16 Soos ons geleer het, kan ons oortuig wees dat Jehovah ons gebede op ’n liefdevolle en regverdige manier sal beantwoord (Ps. 4:3; Jes. 30:18). Soms sal ons dalk nie die antwoord kry wat ons verwag nie. Maar Jehovah sal nooit ons gebede ignoreer nie. Hy is baie lief vir ons. En hy sal ons nooit verlaat nie (Ps. 9:10). So hou aan om “te alle tye op hom [te vertrou]” terwyl jy jou hart in gebed voor hom uitstort. – Ps. 62:8.

LIED 43 ’n Dankgebed

a Hierdie artikel sal verduidelik hoekom ons oortuig kan wees dat Jehovah altyd ons gebede op ’n liefdevolle en regverdige manier sal beantwoord.

b Party name is verander.

c Sien die artikel “Vertrou jy Jehovah se manier van dinge doen?” in Die Wagtoring van Februarie 2022, par. 3-6.

d Vir meer inligting oor hoe Jehovah ons help om moeilike tye te verduur, kyk na die video Gebed help ons wanneer ons probleme het op jw.org.

e Vir instruksies oor hoe om jouself beskikbaar te maak om in ’n ander takgebied te dien, sien Georganiseer om Jehovah se wil te doen, hfst. 10, par. 6-9.

f BESKRYWING VAN PRENT: Twee susters bid voordat hulle aansoek doen vir die Skool vir Koninkrykspredikers. Later word een van hulle genooi maar die ander een nie. In plaas daarvan om verskriklik teleurgesteld te voel, vra die suster wat nie genooi is nie vir Jehovah om haar te help om ander geleenthede te identifiseer om haar bediening uit te brei. Dan skryf sy ’n brief vir die takkantoor en bied sy aan om te dien waar daar hulp nodig is.