Spring na inhoud

 Leer jou kinders

Timoteus—Gereed en gewillig om te dien

Timoteus—Gereed en gewillig om te dien

“IS JY reg?” Het iemand al ooit dit vir jou gevra?— Wel, die persoon wat jou gevra het, wou weet of jy gereed is. Byvoorbeeld, die persoon het dalk bedoel: ‘Het jy jou skoolboeke? Het jy jou huiswerk gedoen?’ Soos ons sal sien, was Timoteus gereed.

Timoteus was ook gewillig. Weet jy wat dit beteken?— Toe Timoteus genooi is om God te dien, het hy die gesindheid gehad van een van God se ander knegte, wat gesê het: “Hier is ek! Stuur my” (Jesaja 6:8). Omdat hy gereed en gewillig was om te dien, het Timoteus ’n opwindende lewe geniet. Wil jy daarvan hoor?—

Timoteus is honderde kilometers van Jerusalem, in Listra, gebore. Sy ouma Lois en sy ma, Eunice, was goeie studente van die Skrif. Toe Timoteus nog ’n baba was, het hulle hom van God se Woord begin leer.—2 Timoteus 1:5; 3:15.

Wat het hier gebeur?

Moontlik toe Timoteus nog ’n tiener was, het die apostel Paulus, saam met Barnabas, by Listra aangegaan terwyl hy op sy eerste lang predikingsreis was. Dit is waarskynlik in hierdie tyd dat Timoteus se ma en ouma Christene geword het. Wil jy graag hoor van die probleme wat Paulus en Barnabas gehad het?— Wel, mense wat nie van die Christene gehou het nie, het Paulus met klippe gegooi totdat hy inmekaargesak het en hom uit die stad gesleep. Hulle het gedink hy is dood.

Die mense wat geglo het wat Paulus hulle geleer het, het om hom saamgedrom, en hy het opgestaan. Die volgende dag het Paulus en Barnabas daarvandaan weggegaan, maar hulle het ’n bietjie later na Listra teruggekom. Toe het Paulus ’n toespraak gehou en vir die dissipels gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge heen in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:8-22). Weet jy wat Paulus bedoel het?— Hy het bedoel dat ander mense dinge moeilik sou maak vir dié wat God dien. Paulus het later vir Timoteus geskryf: ‘Almal wat wil lewe soos God dit wil hê, sal vervolg word.’—2 Timoteus 3:12; Johannes 15:20.

Nadat Paulus en Barnabas uit Listra weggegaan het, het hulle teruggegaan huis toe. ’n Paar maande  later het Paulus Silas gekies om saam met hom te reis, en saam het hulle teruggegaan om die nuwe dissipels aan te moedig in die plekke wat Paulus vroeër besoek het. Stel jou net voor hoe bly Timoteus was om Paulus weer te sien toe hulle in Listra aankom! Timoteus was nog blyer toe Paulus en Silas hom nooi om saam met hulle te reis. Timoteus het die uitnodiging aanvaar. Hy was gereed en gewillig om te gaan.—Handelinge 15:40–16:5.

Die drie het baie kilometers ver saam gereis, eers te voet en toe op ’n boot. Nadat hulle van die boot afgeklim het, het hulle na Tessalonika in Griekeland geloop. Hier het baie mense Christene geword. Maar ander was baie kwaad en het ’n rumoerige skare gevorm. Paulus, Silas en Timoteus se lewe was in gevaar, en daarom het hulle na Berea gegaan.—Handelinge 17:1-10.

Paulus was bekommerd oor die nuwe gelowiges in Tessalonika, en daarom het hy Timoteus daarheen teruggestuur. Weet jy hoekom?— Paulus het later aan die Christene in Tessalonika verduidelik: ‘Om julle standvastig te maak en te vertroos sodat niemand mismoedig word nie.’ Weet jy hoekom Paulus die jong Timoteus gestuur het om so ’n gevaarlike werk te doen?— Wel, Timoteus was nie so bekend aan die teenstanders nie, en hy was gewillig om te gaan. Dit het baie moed gekos! Hoe het dit met die besoek gegaan? Toe Timoteus weer terug was by Paulus, het hy vir hom vertel hoe getrou die Tessalonisense was. Daarom het Paulus vir hulle geskryf: ‘Ons is vertroos oor julle.’—1 Tessalonisense 3:2-7.

Timoteus het vir die volgende tien jaar saam met Paulus gewerk. Toe is Paulus in Rome in die tronk gegooi, en Timoteus, wat self kort tevore uit die tronk vrygelaat is, het soontoe gegaan om by hom te wees. Terwyl hy in die tronk was, het Paulus ’n brief aan die Filippense geskryf en het hy moontlik vir Timoteus as ’n sekretaris gebruik. Paulus het gesê: ‘Ek hoop om Timoteus binnekort na julle toe te stuur, want ek het niemand anders wat so getrou is en julle beter sal dien nie.’—Filippense 2:19-22; Hebreërs 13:23.

Hoe gelukkig moes daardie woorde tog vir Timoteus gemaak het! Paulus het Timoteus so liefgehad omdat hy gereed en gewillig was om te dien. Ons hoop dat dit ook van jou waar sal wees.