Spring na inhoud

 Leer jou kinders

Sy wou help

Sy wou help

HET jy al ooit iemand geken wat baie siek was?— Het jy gewens dat jy iets kon doen om hom te help?— Sê nou hy was van ’n ander land of ’n ander godsdiens? Sou jy hom nog steeds wou help om beter te word?— ’n Jong meisie wat amper 3 000 jaar gelede in die land Israel gewoon het, het so gevoel. Kom ons kyk wat gebeur het.

Eertydse Israel, waar die meisie woon, en die land Sirië daar naby voer dikwels oorlog teen mekaar (1 Konings 22:1). Eendag kom die Siriërs na Israel en neem die meisie gevange. Sy word na Sirië geneem, waar sy die diensmeisie word van die vrou van Naäman, die hoof van Sirië se leër. Naäman het ’n vreeslike siekte wat melaatsheid genoem word, wat dele van ’n mens se vlees kan laat afval.

Die diensmeisie sê vir Naäman se vrou hoe haar man gesond gemaak kan word. Sy sê: ‘As Naäman in Samaria was, sou Jehovah se profeet Elisa sy melaatsheid kon laat weggaan.’ Wel, die manier waarop die diensmeisie van Elisa praat, laat Naäman glo dat die profeet hom regtig gesond sal kan maak. Toe Ben-Hadad, die koning van Sirië, toestemming gee, gaan Naäman en ’n paar diensknegte op die lang reis van omtrent 150 kilometer na Elisa toe.

Hulle gaan eers na Joram, die koning van Israel, toe. Hulle wys vir hom koning Ben-Hadad se brief wat hom vra om Naäman te help. Maar Joram het nie geloof in Jehovah of die profeet Elisa nie. Joram dink Ben-Hadad soek ’n rede om met hom te baklei. Toe Elisa hiervan hoor, sê hy vir koning Joram: “Laat hom asseblief na my toe kom.” Elisa wil wys dat God die krag het om Naäman van sy vreeslike siekte te genees.—2 Konings 5:1-8.

Toe Naäman met sy perde en strydwaens by Elisa se huis aankom, stuur Elisa ’n boodskapper uit om vir hom te sê: ‘Jy moet sewe keer in die Jordaanrivier bad, en jy sal genees word.’ Naäman is kwaad. Hy verwag dat Elisa moet uitkom en sy hand oor die melaatsheid moet waai sodat dit sal weggaan. Maar nou sien hy net hierdie boodskapper! Daarom draai Naäman woedend om en wil hy teruggaan huis toe.—2 Konings 5:9-12.

 Wat sou jy gedoen het as jy een van Naäman se knegte was?— Wel, die knegte vra hom: ‘As Elisa u gevra het om iets moeiliks te doen, sou u dit nie gedoen het nie? Doen dan maar hierdie eenvoudige ding—bad net en word rein.’ Naäman luister na hulle. Hy ‘gaan af en dompel hom sewe keer in die Jordaan, waarna sy vlees weer soos die vlees van ’n seuntjie word’.

Naäman gaan terug na Elisa en sê: “Kyk, nou weet ek beslis dat daar op die hele aarde geen God is nie, behalwe in Israel.” Hy belowe Elisa dat hy nooit weer “’n brandoffer of ’n offerande aan enige ander god as aan Jehovah [sal] bring nie”.—2 Konings 5:13-17.

Sal jy daarvan hou om, soos daardie meisie, iemand te help om van Jehovah en wat hy kan doen, te leer?— Toe Jesus op die aarde was, het ’n man wat melaats was, in hom geglo en gesê: ‘U kán my help, as u net wil.’ Weet jy wat Jesus geantwoord het?— “Ek wil.” En Jesus het hom gesond gemaak, net soos Jehovah Naäman gesond gemaak het.—Matteus 8:2, 3.

Weet jy van die nuwe wêreld wat Jehovah gaan skep en waarin alle mense gesond sal wees en vir ewig sal kan lewe?— (2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Dan wil jy sekerlik vir ander van hierdie wonderlike dinge vertel!