Spring na inhoud

 Leer jou kinders

Dawid—Waarom hy nie bang was nie

Dawid—Waarom hy nie bang was nie

WORD jy ooit bang?— * Die meeste van ons word soms bang. Wat kan jy doen as jy bang is?— Jy kan na iemand toe gaan wat groter en sterker as jy is. Dalk kan jou pa of ma help. Ons kan baie by Dawid leer omtrent waar ons hulp kan kry. Hy het tot God gesing: “Ek [sal] op u vertrou. . . . In God het ek my vertroue gestel; ek sal nie bang wees nie.”—Psalm 56:3, 4

By wie dink jy het Dawid geleer om nie bang te wees nie? By sy ouers?— Ja, ongetwyfeld. Sy pa, Isai, was ’n getroue voorouer van Jesus Christus, God se beloofde “Vredevors” (Jesaja 9:6; 11:1-3, 10). Isai se pa—Dawid se oupa—was Obed. ’n Boek van die Bybel is na Obed se ma vernoem. Weet jy wat haar naam is?— Dit is Rut, ’n lojale vrou wat met Boas getroud was.—Rut 4:21, 22.

Rut en Boas is natuurlik dood lank voordat Dawid gebore is. Jy weet dalk wat Boas se ma, die ouma van Dawid se oupa, se naam is. Sy het in Jerigo gewoon en gehelp om ’n paar Israelitiese spioene te red. Toe die mure van Jerigo geval het, het sy gesorg dat haar familie beskerm word deur ’n skarlaken tou by haar venster te laat uithang. Wat is haar naam?— Ragab, wat ’n aanbidder van Jehovah geword het, en sy is ’n goeie voorbeeld van moed wat Christene kan navolg.—Josua 2:1-21; 6:22-25; Hebreërs 11:30, 31.

Ons kan seker wees dat Dawid se pa en ma hom van al hierdie getroue knegte van Jehovah geleer het, want ouers is beveel om hulle kinders sulke dinge te leer (Deuteronomium 6:4-9). Die tyd het gekom toe God se profeet Samuel aangesê is om Dawid, Isai se jongste seun, uit te kies as die toekomstige koning van Israel.—1 Samuel 16:4-13.

Eendag stuur Isai vir Dawid om kos vir sy drie ouer broers te vat, wat teen God se vyande, die Filistyne, veg. Toe Dawid daar kom, hardloop hy na die gevegslinies en hoor hy hoe die reus Goliat “die gevegslinies van die lewende God” uittart. Almal is bang om Goliat se uitdaging te aanvaar om teen hom  te veg. Koning Saul hoor dat Dawid bereid is om te gaan, en daarom laat hy hom roep. Maar toe Saul vir Dawid sien, sê hy: “Jy is nog maar ’n seun.”

Dawid vertel vir Saul dat hy ’n leeu en ’n beer doodgemaak het toe hulle sy gesin se skape probeer wegdra het. Goliat “sal soos een van hulle word”, sê Dawid. “Gaan, en mag Jehovah met jou wees”, antwoord Saul. Dawid tel vyf gladde klippe op, sit dit in sy herdersak, vat sy slinger en gaan uit om teen die reus te veg. Toe Goliat ’n seun sien aankom, roep hy uit: “Kom net na my toe, en ek sal jou vlees aan die voëls . . . gee.” Dawid antwoord: “Ek kom na jou toe met die naam van Jehovah”, en dan roep hy uit: “Ek sal jou beslis doodmaak.”

Dan hardloop Dawid na Goliat toe, haal ’n klip uit sy sak, sit dit in sy slinger en gooi dit reguit teen Goliat se voorkop vas. Toe die Filistyne sien dat die reus dood is, is hulle baie bang en hardloop hulle weg. Die Israeliete sit hulle agterna en wen die geveg. Lees asseblief die hele verhaal in 1 Samuel 17:12-54 saam met jou gesin.

As ’n kind is jy dalk partykeer bang om God se bevele te gehoorsaam. Jeremia was ’n jongmens en was aan die begin bang, maar God het vir hom gesê: “Moenie bang wees . . . nie, want ‘ek is met jou’.” Jeremia het moed geskep en gepreek soos God hom beveel het om te doen. As jy op Jehovah vertrou, kan jy ook, soos Dawid en Jeremia, leer om nie bang te wees nie.—Jeremia 1:6-8.

^ par. 3 As jy saam met kinders lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en hulle die vraag te vra.