Spring na inhoud

 Ons lesers vra

In watter opsig is Jesus en sy Vader een?

In watter opsig is Jesus en sy Vader een?

“Ek en die Vader is een”, het Jesus gesê (Johannes 10:30). Party mense haal hierdie teks aan om te bewys dat Jesus en sy Vader twee dele van ’n drie-enige God is. Is dit wat Jesus met hierdie woorde bedoel het?

Kom ons ondersoek die konteks. In vers 25 het Jesus gesê dat hy werke in die naam van sy Vader doen. In verse 27 tot 29 het hy van simboliese skape gepraat, wat sy Vader hom gegee het. Albei stellings wat Jesus gemaak het, sou vir sy toehoorders nie veel sin gemaak het as hy en sy Vader een en dieselfde persoon was nie. Wat Jesus eerder bedoel het, was: ‘Ek en my Vader is só na aan mekaar dat niemand die skape van my kan wegneem nie, net soos niemand hulle van my Vader kan wegneem nie.’ Dit is amper soos wanneer ’n seun vir sy vader se vyand sê: ‘As jy my vader aanval, val jy my aan.’ Niemand sal tot die slotsom kom dat hierdie seun en sy vader dieselfde persoon is nie. Maar almal kan die sterk band van eenheid tussen hulle sien.

Jesus en sy Vader, Jehovah God, is ook “een” in die sin dat hulle volkome eenstemmig is wat hulle voornemens, standaarde en waardes betref. In teenstelling met Satan die Duiwel en die eerste mensepaar, Adam en Eva, wou Jesus nooit onafhanklik van God word nie. “Die Seun kan hoegenaamd niks op eie inisiatief doen nie, maar net wat hy die Vader sien doen”, het Jesus verduidelik. “Want alles wat daardie Een doen, dít doen die Seun ook net so.”—Johannes 5:19; 14:10; 17:8.

Hierdie sterk band van eenheid beteken egter nie dat dit onmoontlik is om God en sy Seun, Jesus, uitmekaar te ken nie. Hulle is twee individue. Elkeen het sy eie unieke persoonlikheid. Jesus het sy eie gevoelens, gedagtes, ondervindinge en wilsvryheid. Nietemin het hy gekies om sy wil aan sy Vader s’n te onderwerp. Volgens Lukas 22:42 het Jesus gesê: “Laat . . . nie my wil nie, maar u wil geskied.” Hierdie woorde sou betekenisloos gewees het as sy wil nie van sy Vader s’n kon verskil nie. As Jesus en sy Vader werklik een persoon was, waarom het Jesus dan tot God gebid en nederig erken dat daar dinge is waarvan slegs sy Vader weet en nie hy nie?—Matteus 24:36.

Die lede van baie godsdienste aanbid gode wat uitgebeeld word as persone wat met hulle eie gesinslede twis en baklei. In die Griekse mitologie het Kronos byvoorbeeld sy vader, Uranus, verslaan en sy eie kinders verslind. Hoe anders is dit tog as die eenheid wat gegrond is op ware liefde tussen Jehovah God en sy Seun, Jesus! En hoe geliefd maak hierdie eenheid hulle tog by ons! Trouens, ons het die onvergelyklike voorreg om in eenheid te wees met hulle, die twee mees verhewe Persone in die ganse heelal. Jesus het aangaande sy volgelinge gebid: “Ek doen [versoek dat] hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees.”—Johannes 17:20, 21.

Toe Jesus gesê het: “Ek en die Vader is een”, het hy dus nie van ’n geheimsinnige Drie-eenheid gepraat nie, maar van ’n wonderlike eenheid—die intiemste band wat daar tussen twee persone kan bestaan.