Spring na inhoud

 Leer uit God se Woord

Wie is Jesus Christus?

Wie is Jesus Christus?

Hierdie artikel opper vrae waaroor jy dalk al gewonder het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Wie is Jesus Christus?

In teenstelling met enige ander mens het Jesus as ’n geespersoon in die hemel gelewe voordat hy op die aarde gebore is (Johannes 8:23). Hy was God se eerste skeppingswerk, en hy het gehelp om alle ander dinge te skep. Hy is die enigste een wat regstreeks deur Jehovah geskep is en word dus God se “enigverwekte” Seun genoem. Jesus het as God se Woordvoerder gedien, en daarom word hy ook “die Woord” genoem.—Johannes 1:1-3, 14; lees Spreuke 8:22, 23, 30; Kolossense 1:15, 16.

2. Waarom het Jesus na die aarde toe gekom?

God het sy Seun na die aarde toe gestuur deur sy lewe vanuit die hemel na die baarmoeder van ’n Joodse maagd met die naam Maria oor te plaas. Jesus het dus nie ’n menslike vader gehad nie (Lukas 1:30-35). Jesus het na die aarde toe gekom (1) om ander die waarheid omtrent God te leer, (2) om ’n voorbeeld daarin te stel om God se wil te doen en (3) om sy volmaakte lewe as “’n losprys” te gee.—Lees Matteus 20:28; Johannes 18:37.

3. Waarom het ons ’n losprys nodig?

’n Losprys is ’n prys wat betaal word om iemand los te koop. Die dood en bejaardheid was nie deel van God se oorspronklike voorneme vir die mensdom nie. Hoe weet ons dit? God het vir die eerste man, Adam, gesê dat hy sal sterf as hy pleeg wat die Bybel sonde noem. As Adam nie gesondig het nie, sou hy nooit gesterf het nie. Al het Adam se lewe eers eeue later geëindig, het hy begin sterf vanaf die dag dat hy aan God ongehoorsaam was (Genesis 2:16, 17; 5:5). Adam het sonde en die straf daarvoor, die dood, aan al sy nakomelinge oorgedra. Die dood het dus deur Adam in die mensewêreld “ingekom”. Dit is waarom ons ’n losprys nodig het.—Lees Romeine 5:12; 6:23.

 4. Waarom het Jesus gesterf?

Wie kon die losprys betaal om ons van die dood te bevry? Wanneer ons sterf, betaal ons slegs vir ons eie sondes. Geen onvolmaakte mens kan vir die sondes van ander betaal nie.—Lees Psalm 49:7-9.

Aangesien Jesus nie onvolmaaktheid van ’n mensevader geërf het nie, het hy nie weens sy eie sondes gesterf nie, maar vir die sondes van ander. God het sy Seun gestuur om vir ons te sterf as ’n blyk van Sy uitsonderlike liefde vir die mensdom. Jesus het ook liefde vir ons geopenbaar deur aan sy Vader gehoorsaam te wees en sy lewe vir ons sondes te gee.—Lees Johannes 3:16; Romeine 5:18, 19.

5. Wat doen Jesus nou?

Deur die siekes te genees, die dooies op te wek en mense uit benoude situasies te verlos, het Jesus getoon wat hy uiteindelik vir alle gehoorsame mense sal doen (Lukas 18:35-42; Johannes 5:28, 29). Nadat Jesus gesterf het, het God hom as ’n geespersoon opgewek (1 Petrus 3:18). Jesus het toe aan God se regterhand gewag totdat Jehovah hom die mag gegee het om as Koning oor die hele aarde te regeer (Hebreërs 10:12, 13). Nou regeer Jesus as Koning in die hemel, en sy volgelinge op aarde verkondig die goeie nuus wêreldwyd.—Lees Daniël 7:13, 14; Matteus 24:14.

Binnekort sal Jesus sy mag as Koning gebruik om ’n einde te maak aan alle lyding, asook diegene wat dit veroorsaak. Miljoene wat in Jesus geloof beoefen en aan hom gehoorsaam is, sal lewe in ’n paradys op aarde geniet.—Lees Psalm 37:9-11.

Miljoene wat in Jesus geloof beoefen en aan hom gehoorsaam is, sal lewe in ’n paradys op aarde geniet