Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 KOM NADER AAN GOD

Hy vul ons “harte geheel en al met voedsel en vrolikheid”

Hy vul ons “harte geheel en al met voedsel en vrolikheid”

Gee Jehovah werklik vir ons om, of staan hy onverskillig teenoor die lyding wat mense hier op aarde ondervind? Die Bybel se antwoord op hierdie vraag is hartverblydend. God gee beslis om vir mense, en hy wil hê dat ons die lewe moet geniet. Hy laat elke dag toe dat mense—selfs die ondankbaarstes—by sy oorvloedige goedheid baat vind. Kyk na die woorde van die apostel Paulus.—Lees Handelinge 14:16, 17.

Paulus het in die stad Listra vir mense wat nie aanbidders van God was nie, gesê: “In die vergange geslagte het [God] al die nasies toegelaat om in hulle weë voort te gaan, hoewel hy homself inderdaad nie sonder getuienis gelaat het nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul.” Wat het hierdie woorde vir Paulus se toehoorders beteken?

Die mense van Listra kon oral bewyse sien dat Paulus se woorde waar is. Hulle was deel van ’n landbougemeenskap en het in ’n vrugbare en waterryke streek gewoon. Maar soos Paulus hulle herinner het, is God die Bron van die reën en vrugbare tye. Elke keer as hulle ’n groot oes ingesamel het en ’n heerlike ete geniet het, het hulle dus by God se goedheid baat gevind.

Paulus se woorde aan die mense van Listra leer ons ’n paar belangrike lesse oor Jehovah God.

Jehovah gee ons wilsvryheid. Let daarop dat Jehovah al die heidense nasies toegelaat het “om in hulle weë voort te gaan”. ’n Naslaanwerk vir Bybelvertalers sê dat hierdie uitdrukking kan beteken “om te doen wat hulle wil” of “om na goeddunke te handel”. Jehovah dwing niemand om hom te aanbid nie. Hy het ons geskep met wilsvryheid—die vermoë om te besluit hoe ons ons lewe wil lei.—Deuteronomium 30:19.

Jehovah wil hê dat ons hom moet leer ken. Hy het hom “nie sonder getuienis gelaat” nie, het Paulus verduidelik. Die naslaanwerk wat vroeër genoem is, sê dat hierdie frase weergegee kan word met “hy het vir mense duidelik gewys presies watter soort God hy is”. God se skeppingswerke lewer sprekende bewys van sy “onsigbare eienskappe”, insluitende sy goedheid, wysheid, krag en liefde (Romeine 1:20). Jehovah het selfs nog meer omtrent hom in die Bybel geopenbaar (2 Timoteus 3:16, 17). Is dit nie duidelik dat hy wil hê dat ons hom moet leer ken nie?

God laat elke dag toe dat mense—selfs die ondankbaarstes—by sy oorvloedige goedheid baat vind

Jehovah wil hê dat ons gelukkig moet wees. Hy vul ons “harte geheel en al met voedsel en vrolikheid”, het Paulus gesê. Selfs sondaars wat Jehovah nie erken nie, kan na hartelus voedsel eet en ’n mate van geluk in die lewe vind. Maar God wil hê dat ons ware en blywende geluk moet geniet. Dit is slegs moontlik as ons die waarheid omtrent hom leer en dit in ons lewe toepas.—Psalm 144:15; Matteus 5:3.

Ons almal vind elke dag baat by Jehovah se goedheid. Leer gerus meer oor hoe jy jou dankbaarheid kan toon teenoor die God wat jou hart “geheel en al met voedsel en vrolikheid . . . vul”.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Julie

Handelinge 11-28