Spring na inhoud

IS DIT ONTWERP?

’n Ma se melk

’n Ma se melk

 ’n Naslaanwerk vir vroedvroue sê: “Formulemelk vir babas sal nooit heeltemal dieselfde wees as ’n mens se melk nie.” Een van die redes hoekom ’n ma se melk ideaal vir haar baba is, is omdat haar liggaam die melk op ’n manier verander om by die baba se behoeftes aan te pas.

 Dink hieraan: Elke keer as ’n ma haar baba borsvoed, verander die melk van die begin tot aan die einde van die voeding. Aan die begin van die voeding het die melk meer proteïene, vitamiene, minerale en water, maar later in die voeding het die melk meer vet, wat die baba vol laat voel. Haar melk verander selfs afhangende van die baba se ouderdom en die seisoen.

 Die hoeveelheid van party hormone in ’n ma se melk, soos melatonien, is hoër gedurende die nag terwyl ander hormone weer hoër is gedurende die dag. Afhangende van die tyd van die dag veroorsaak hierdie verskillende hormone dat die baba slaap of wakker is. Dit help die baba om ’n slaappatroon te ontwikkel.

 Gedurende die eerste paar dae nadat die ma geboorte gegee het, bring sy ’n gelerige melk voort wat kolostrum genoem word. Kolostrum is maklik om te verteer en propvol voedingstowwe. So, selfs ’n bietjie kolostrum in die baba se magie is baie voordelig vir die baba. Kolostrum het ’n groot hoeveelheid belangrike teenliggaampies wat die kwesbare baba teen infeksies beskerm. Dit werk ook as ’n lakseermiddel, wat help om die pasgebore baba se spysverteringstelsel skoon te hou.

 Ma’s hoef nie angstig te wees dat hulle nie genoeg melk sal hê nie, selfs al het hulle ’n tweeling. Haar liggaam sal natuurlik meer melk voortbring om in die behoefte te voorsien.

 Wat dink jy? Het ’n ma se melk, met sy unieke eienskappe, deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?