Spring na inhoud

In ’n foto wat voor die COVID-19-pandemie geneem is, gebruik Cynthia (links), ’n bejaarde ongedoopte verkondiger wat doof en blind is, tasbare gebaretaal om met ’n suster in haar gemeente te kommunikeer

12 MEI 2020
FILIPPYNE

Gemeente help dowe en blinde suster gedurende pandemie

Gemeente help dowe en blinde suster gedurende pandemie

Suster Cynthia Pablo is ’n 64-jarige ongedoopte verkondiger van die Panghulo-gebaretaalgemeente in die Filippyne. Sy is doof, blind en het baie min geld. Sy bly saam met familielede, wat nie Getuies is nie, in die stad Valenzuela waar daar baie mense woon. Al is Cynthia se omstandighede baie moeilik en het die pandemie haar lewe nog erger gemaak, kyk die broers en susters in die gemeente baie mooi na haar.

Broer Ilumin gebruik sy motorfiets om skoon klere en goed wat Cynthia nodig het, te vervoer

As gevolg van Cynthia se ouderdom is sy meer vatbaar vir die COVID-19-virus. Die pandemie het veroorsaak dat daar nie genoeg water in haar gebied is nie, en dit maak dit vir haar moeilik om haar klere te was. Voor die pandemie het susters in haar gemeente haar gehelp om haar klere te was, maar omdat daar nuwe beperkings gedurende die pandemie ingestel is, is dit nie meer vir hulle moontlik om haar te help nie.

Broer Walter Ilumin, ’n ouerman in haar gemeente, het ’n spesiale permit by die plaaslike regering gekry wat hom toelaat om sy huis te verlaat om vir Cynthia te gaan help. Hierdie permit word net aan mense gegee wat noodsaaklike dienste lewer. Walter was haar klere en bring vir haar kos en ander goed wat sy nodig het. Hy gehoorsaam al die wette en riglyne van die regering deur ’n masker en ander klere te dra wat hom beskerm en deur sy hande gereeld te was.

Om vir die broers en susters dankie te sê, neem Cynthia kort videoboodskappe op om vir die broers haar waardering te wys. Broer Ilumin speel dan die video’s vir die gemeente.

Cynthia neem deel aan die predikingswerk voor die pandemie

Hierdie selfde ouerman gaan ook na haar huis toe om die gemeentelike vergaderinge op videoverbinding vir haar te tolk deur middel van tasbare gebaretaal. Dit help vir Cynthia om gereeld gedurende die gemeente se Wagtoring-studie te antwoord. Haar deelname aan die vergaderinge gedurende hierdie moeilike tyd moedig ander aan wat by die vergaderinge inskakel.

Ons het die vertroue dat Jehovah bly is om te sien hoe sy volk mekaar vertroos en mekaar prakties al hoe meer help “terwyl ons die dag sien nader kom”. – Hebreërs 10:24, 25.