Spring na inhoud

Die Paleis van Justisie in Rome, waar Italië se Hooggeregshof van Hersiening is

9 FEBRUARIE 2021
ITALIË

Italiaanse Hooggeregshof van Hersiening beslis ten gunste van Jehovah se Getuies in saak oor mediese behandeling

Italiaanse Hooggeregshof van Hersiening beslis ten gunste van Jehovah se Getuies in saak oor mediese behandeling

Die Italiaanse Hooggeregshof van Hersiening het ten gunste van een van Jehovah se Getuies beslis in verband met die reg van ’n pasiënt om self mediese besluite te maak. Op 23 Desember 2020 het die Hooggeregshof bevestig dat alle pasiënte die reg het om self oor hulle mediese behandeling te besluit. Dit sluit in die reg om mediese behandeling te kies wat nie met hulle godsdiensoortuigings bots nie.

Die saak gaan oor ’n tragiese insident wat in 2005 gebeur het, toe dokters die regte van een van ons susters geskend het. Voor haar operasie het sy uitdruklik vir haar dokters gesê dat sy nie ’n bloedoortapping wil hê nie. Sy het ook haar “Advance Medical Directive”-kaart vir hulle gegee wat wys dat sy bloedoortappings weier. Maar haar dokters het haar wense geïgnoreer en het vir haar meer as een bloedoortapping gegee.

Die Hof het erken dat om ’n bloedoortapping te weier, “nie net oor die reg gaan om te besluit watter behandeling ’n persoon wil hê nie. Dit is eerder ’n doelbewuste besluit wat iemand maak as gevolg van sy godsdiensoortuigings.” Hierdie vryheid word gedefinieer as ’n “reg wat nie geskend mag word nie en wat die Grondwet ‘tot die uiterste toe’ beskerm.”

Hierdie beslissing is die tiende oorwinning in die Italiaanse Hooggeregshof van Hersiening wat te doen het met Jehovah se Getuies sedert 2015. In elke saak het die Hof belangrike aspekte van ons godsdiensvryheid ondersteun. In die sake is die volgende onderwerpe aangespreek:

  • Weiering van bloedoortappings: Jehovah se Getuies wil die beste mediese sorg hê wat beskikbaar is, en hulle aanvaar die meeste soorte mediese behandeling. Die howe het bevestig dat Getuie-pasiënte die vryheid het om mediese behandeling te kies wat ooreenstem met hulle Bybelopgeleide gewete. Dokters moet respek hê vir ’n pasiënt se besluit om ’n bloedoortapping te weier. Dit is ’n pasiënt se wetlike reg om so ’n besluit te maak op grond van sy of haar godsdiensoortuigings.

  • Kindertoesig: Ouers wat Getuies is, het dieselfde reg as ouers wat nie Getuies is nie, om geloofsoortuigings aan hulle kinders te leer.

  • Uitsetting: Jehovah se Getuies diskrimineer nie teen persone wat uitgesit is nie. Getuies het eerder die godsdiensvryheid om te kies om nie met sulke persone te assosieer nie, en hierdie vryheid moet gerespekteer word.

  • Belasting: Jehovah se Getuies betaal hulle belasting en geniet dieselfde regte en vrystellings as alle ander godsdienste in Italië wanneer dit by belasting kom.

Ons word aangemoedig wanneer sekulêre owerhede besluite maak wat die regte beskerm van Jehovah se volk om vryelik te aanbid. – Spreuke 21:1.