Spring na inhoud

Die Appèlhof in Milaan, Italië

12 NOVEMBER 2020
ITALIË

Italiaanse hof ondersteun die regte van Getuie-ouers om hulle kinders se mediese sorg te kies

Italiaanse hof ondersteun die regte van Getuie-ouers om hulle kinders se mediese sorg te kies

Die Appèlhof in Milaan, Italië, het onlangs ’n uitspraak gelewer ten gunste van ’n getroude paartjie wat Jehovah se Getuies is. Die saak het oor hulle kind se mediese behandeling gegaan. Hierdie uitspraak maak dit duidelik dat howe nie ouers se vermoë om goeie besluite vir hulle kinders te maak, kan bevraagteken net omdat die ouers vir bloedlose behandeling vra nie. Die hof het beslis dat ouers die reg het om ’n bloedoortapping vir hulle kinders te weier as gevolg van die ouers se opregte godsdiensoortuigings.

In September 2019 het ’n Getuie-paartjie hulle dogtertjie van tien maande na ’n hospitaal gebring omdat sy seergekry het toe sy geval het. Die dokters het besef dat sy ’n operasie nodig gehad het as gevolg van haar kopbesering. Hulle het die operasie suksesvol gedoen sonder om vir haar ’n bloedoortapping te gee.

Al was die kind besig om gesond te raak en buite gevaar, het ’n dokter die ouers later vir toestemming gevra om die kind ’n bloedoortapping te gee as verdere behandeling. Die ouers het gevra dat bekende bloedlose behandeling eerder gebruik moet word.

Die dokter het nie die ouers se versoek gerespekteer nie en het eerder die polisie en die staatsaanklaer se kantoor gekontak. Die aanklaer se kantoor het ’n hofbevel in ’n gesinshof gekry. Die hofbevel het die ouers se wetlike gesag beperk en die reg om oor die kind se mediese behandeling te besluit aan die direkteur van die hospitaal oorgedra. Maar die kind het nooit ’n bloedoortapping gekry nie, want die dokters het besluit dat dit nie nodig was nie.

Baie joernaliste van verskeie televisiestasies en koerante regoor die land het berig gelewer oor wat gebeur het. Baie Italiaanse media-agentskappe het verkeerdelik gesê dat die jong dogtertjie gered is deur ’n bloedoortapping waarvoor ’n hof toestemming gegee het.

Op 10 September 2020 het die Appèlhof die gesinshof se uitspraak verwerp wat die ouers se wetlike gesag beperk het. Die Appèlhof het gesê dat die gesinshof nie die hofbevel moes gegee het nie en dat hulle nie die gesag gehad het om ’n uitspraak in hierdie saak te lewer nie.

Die Appèlhof van Milaan het in sy uitspraak gesê: “Die ouers weier bloedoortappings as gevolg van hulle sterk godsdiensoortuigings. Dit bewys nie dat hulle slegte ouers is en nie meer die gesag moet hê om besluite vir hulle kinders te maak nie.” Net in die afgelope jaar het drie Appèlhowe in Italië die reg van Getuie-ouers bevestig om vir bloedlose behandeling vir hulle kinders te vra.

Dit is belangrik vir mense wat in beheer is op regs- en mediese gebiede om te verstaan dat Jehovah se Getuies nie geloofsgenesing beoefen en teen medisyne is nie. Die feit is, hulle wil die beste mediese sorg by moderne hospitale hê. Hulle soek na hospitale wat ondervinding en die regte toerusting het om hulle behandeling te gee wat hulle sterk godsdiensoortuigings respekteer. Hulle vra net dat dokters hulle nie met bloedoortappings moet behandel nie. Gerespekteerde dokters by groot hospitale regoor die wêreld fokus daarop om uitstekende behandeling sonder bloedoortappings te gee.

Ons is dankbaar dat hierdie hofuitsprake ons broers en susters ondersteun terwyl hulle vasbeslote bly om aanvaarbare mediese behandeling vir hulle kinders te kies. – Handelinge 15:29.