Spring na inhoud

Links: Honderde broers en susters het op 8 Maart 1947 by die Wellington-stadsaal bymekaargekom vir ’n spesiale byeenkoms. Regs: Buite Bethel se kantore by 69 Kent Terrace in Wellington, Nieu-Seeland

7 MAART 2022
NIEU-SEELAND

Vyf-en-sewentig jaar vandat die goeie nuus in Nieu-Seeland “wetlik bevestig” is

Vyf-en-sewentig jaar vandat die goeie nuus in Nieu-Seeland “wetlik bevestig” is

In Maart 2022 is dit 75 jaar vandat Jehovah se Getuies wetlike erkenning in Nieu-Seeland gekry het. Op 7 Maart 1947 het broer Nathan H. Knorr, Milton Henschel en Charles Clayton, die eerste sendeling in Nieu-Seeland wat by Gilead opgelei was, die Nieu-Seelandse parlement besoek. Regeringsamptenare het die broers papierwerk gegee wat wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies gegee het. Vandag floreer die predikingswerk nog steeds en omtrent 14 500 verkondigers is aktief besig in die land.

Die Koninkryksboodskap het Nieu-Seeland in 1898 vir die eerste keer bereik. Die aantal verkondigers het stadig maar seker gegroei. Die Katolieke Kerk was kwaad oor hoe ons publikasies Bybelwaarhede duidelik gemaak het en het mense teen Jehovah se Getuies opgestook. Op 24 Oktober 1940 het die regering ons werk verbied. Maar die parlement het die verbod op 8 Mei 1941 aangepas en die broers toegelaat om saam te aanbid en om aan die predikingswerk deel te neem. Maar hulle kon net die Bybel gebruik en nie ons lektuur nie. Die verbod is amptelik op 29 Maart 1945 opgelig, en die aantal verkondigers het weereens gegroei. Net twee jaar later het die aantal Koninkryksverkondigers met 40 persent gegroei, wat ’n nuwe hoogtepunt van 659 broers en susters was wat die goeie nuus verkondig het.

Van links na regs: Broer Charles Clayton, Milton Henschel en Nathan H. Knorr buite die parlement in 1947 nadat hulle dokumente gekry het waarin Jehovah se Getuies wetlik erken is

Broer Knorr het besluit om Nieu-Seeland te besoek as deel van sy wêreldwye toer in 1947. Dit was gedurende hierdie besoek dat hy na die parlement gegaan het.

Nadat wetlike erkenning gekry is, is ’n takkantoor in Wellington gestig om die predikingswerk beter te organiseer. Broer Robert Lazenby is aangestel as die eerste takkneg.

Broer Knorr het later in ’n verslag oor Nieu-Seeland se nuwe takkantoor en groeiende aantal verkondigers geskryf: “Almal was bereid om die nodige werk te doen om ’n takkantoor te ondersteun, en almal volg die leiding daarvan.”

Op 8-9 Maart 1947 het broer Knorr en Henschel toesprake gegee by ’n spesiale byeenkoms wat in die Wellington-stadsaal gehou is. Die middagsessie is by die tegniese kollege daar naby gehou. Amper 500 broers en susters het dit bygewoon.

Suster Beryl Todd, wat toe 17 jaar oud was, vertel: “Dit was die grootste byeenkoms wat ek al ooit bygewoon het, en dit was opwindend dat broer Knorr daar was.” Clyde Canty is op daardie dag gedoop in ’n openbare swembad daar naby. Hy het later as die koördineerder van die takkantoor in Nieu-Seeland gedien.

Op 10 Maart 1947 het nog 300 mense in Auckland bymekaargekom om te luister na die toesprake van broer Knorr, Henschel en Lazenby. Broer Knorr het gesê dat hy die potensiaal vir toekomstige groei in Nieu-Seeland kon sien. Hy het gesê: “Ek is seker dat die werk hier sal vermeerder. Daar is uitstekende potensiaal vir groei in hierdie gebied.”

Broer Knorr se woorde het waar geword. Daar was ’n gemiddelde groei van 18 persent oor die agt jaar daarna in Nieu-Seeland. Teen 1955 was daar 2 519 verkondigers. Daar was 10 000 verkondigers in die land in 1989.

Ons is dankbaar teenoor Jehovah omdat hy ons broers gehelp het om die goeie nuus in Nieu-Seeland wetlik te bevestig. – Filippense 1:7.