Spring na inhoud

26 MEI 2017
RUSLAND

Deense Getuie van Jehovah in Russiese tronk ná klopjag op Christelike vergadering

Deense Getuie van Jehovah in Russiese tronk ná klopjag op Christelike vergadering

NEW YORK—As gevolg van die Hooggeregshof van die Russiese Federasie se uitspraak teen Jehovah se Getuies op 20 April 2017 het die polisie ’n klopjag op ’n vreedsame godsdiensvergadering gedoen. Die klopjag het op 25 Mei 2017 plaasgevind en ’n Deense burger is saam met Russiese burgers in hegtenis geneem.

Dennis Christensen

Ten minste 15 swaar gewapende polisiebeamptes en offisiere van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) het ’n klopjag gedoen op ’n vreedsame godsdiensvergadering van Jehovah se Getuies in die stad Oriol (ook bekend as Orel), in die foto hierbo. Die polisie het afskrifte gemaak van die identifikasiedokumente van almal wat daar was, en ook almal se elektroniese toestelle afgevat. Die FSB het ook vir Dennis Christensen, ’n Getuie van Jehovah en ’n Deense burger, in hegtenis geneem. Kort daarna is vier huise van Getuies van Jehovah, op verskillende plekke in die stad, deur polisiebeamptes deursoek.

Mnr. Christensen is oornag deur die FSB aangehou. Daarna het die Sowjet-streekhof van Oriol die aansoek van die FSB toegestaan en beveel dat mnr. Christensen in aanhouding bly terwyl die FSB hulle ondersoek voltooi. Mnr. Christensen is die eerste buitelander wat geraak word deur die amptelike optrede teen Jehovah se Getuies in Rusland sedert die uitspraak deur die Russiese Hooggeregshof. As hy skuldig bevind word, is daar ’n moontlikheid dat hy vir ’n lang tyd tronk toe gestuur sal word.

Hierdie klopjag is die jongste van meer as 40 gevalle waarin Jehovah se Getuies deur die owerheid en ander persone aangeval is. Hierdie aanvalle het begin nadat die Russiese Hooggeregshof Jehovah se Getuies as ekstremisties verklaar het. Die Hof het ook die Getuies se Administratiewe Sentrum en 395 plaaslike godsdiensorganisasies in Rusland gelikwideer.

’n Huis waar godsdiensvergaderinge gehou is, is afgebrand.

Op 20 April, slegs ’n paar uur nadat die Hooggeregshof sy uitspraak gelewer het, het ’n groep mans in St. Petersburg die grootste plek van aanbidding wat deur die Getuies gebruik word, opsetlik beskadig. Hulle het ook die mense wat teenwoordig was, gedreig. Ander plekke van aanbidding en selfs huise van Getuies in die streke Kaliningrad, Moskou, Penza, Rostof, St. Petersburg, Swerdlofsk, Woronezj en Krasnojarsk is ook aangeval en opsetlik beskadig. Op 24 Mei 2017 in die dorp Zjesjart in die Republiek Komi, is ’n huis waar vergaderinge van Jehovah se Getuies vantevore gehou is, erg beskadig toe dit opsetlik aan die brand gesteek is. Behalwe vir die polisieklopjagte en vandalisme is Getuies ook aangeval of gedreig by die skool en by die werk. En ander Getuies het selfs hulle werk verloor.

David A. Semonian, ’n woordvoerder by die Getuies se wêreldhoofkwartier, sê: “Jehovah se Getuies regoor die wêreld is nou nog meer bekommerd oor hulle mede-aanbidders in Rusland. Dit is duidelik dat hierdie ontstellende dinge gebeur as gevolg van die Russiese Hooggeregshof se onregverdige beslissing teen ons. Ons het hierdie beslissing amptelik op 19 Mei 2017 geappelleer. Dit sal Rusland nog ’n geleentheid gee om hierdie ongegronde en onregverdige optrede teen Jehovah se Getuies te beëindig. Ons het ook ’n klag ingedien teen die onregverdige tronkstraf van ons mede-aanbidder, Dennis Christensen.”

Mediaverteenwoordiger:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000