Spring na inhoud

ERITREA

In die tronk weens hulle geloof – Eritrea

In die tronk weens hulle geloof – Eritrea

Die regering in Eritrea arresteer en sit Jehovah se Getuies al jare lank in die tronk – insluitende vrouens en bejaardes – as gevolg van hulle godsdiensbedrywighede of vir redes wat nie genoem word nie, en hulle doen dit sonder dat hulle verhoor of formeel aangekla word. President Afwerki het die Getuies se burgerskap weggeneem in ’n presidensiële besluit op 25 Oktober 1994. Die rede hiervoor is omdat hulle nie wou deelneem aan die referendum oor onafhanklikheid in 1993 nie en omdat hulle op grond van hulle gewete weier om militêre diens te doen. Die regering in Eritrea het regte alternatiewe burgerlike diens aangebied voordat hulle mense gedwing het om militêre diens te doen. Baie Getuies het alternatiewe burgerlike diens gedoen onder verskillende regerings wat oor die jare in die land was. Die regering het “Sertifikate van Voltooide Nasionale Diens” uitgegee en dikwels mense wat hieraan deelgeneem het, geprys vir hulle werk. Maar op grond van die presidensiële besluit het veiligheidsmagte Jehovah se Getuies in die tronk gesit, gemartel en geteister om hulle te probeer dwing om hulle geloof op te gee.

Daar is 39 Getuies van Jehovah nog steeds in die tronk op hierdie stadium (27 mans en 12 vrouens). Op 4 Desember 2020 is 28 Getuies van Jehovah (26 mans en 2 vrouens) vrygelaat nadat elkeen van hulle tussen 5 en 26 jaar in die tronk was weens hulle geloof. Op 29 Januarie 2021 is een Getuieman vrygelaat nadat hy meer as 12 jaar in die tronk was, en op 1 Februarie 2021 is nog drie Getuies vrygelaat (een man en twee vrouens). Hulle was tussen vier en nege jaar lank in die tronk.

Getuies sterf in die tronk as gevolg van wrede toestande

Vier Getuies het in Eritrea gesterf terwyl hulle in die tronk was, en drie bejaarde Getuies het gesterf nadat hulle uit die tronk vrygelaat is as gevolg van die aaklige toestande wat hulle in die tronk deurgemaak het.

Twee Getuies het in 2018 gesterf nadat hulle na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas is. Habtemichael Tesfamariam was 76 jaar oud toe hy op 3 Januarie 2018 gesterf het, en Habtemichael Mekonen was 77 jaar oud toe hy op 6 Maart 2018 gesterf het. Die regering in Eritrea het albei mans in 2008 in die tronk gesit sonder dat hulle van enigiets aangekla is.

In 2011 en 2012 het twee Getuies gesterf as gevolg van die onmenslike behandeling in die Meitir-gevangeniskamp. Misghina Gebretinsae was 62 jaar oud toe hy in Julie 2011 gesterf het as gevolg van die verskriklike hitte wat hy moes verduur terwyl hy in ’n “ondergrondse” aanhoudingsplek was. Yohannes Haile, wat 68 jaar oud was, het op 16 Augustus 2012 gesterf, ná byna vier jaar van gevangenskap onder soortgelyke toestande. Drie bejaarde Getuies, Kahsai Mekonnen, Goitom Gebrekristos en Tsehaye Tesfariam, het, nadat hulle uit die tronk vrygelaat is, gesterf as gevolg van die haglike toestande wat hulle deurgemaak het terwyl hulle in die Meitir-kamp was.

Aanbevelings deur belangrike menseregte-instansies word geïgnoreer

Eritrea hou aan om standaarde vir internasionale menseregte te ignoreer. Belangrike menseregte-instansies het die skending van basiese regte veroordeel en hou aan om Eritrea te vra om dit reg te stel.

In 2014 het die Raad vir Menseregte (HRC) die verslag verwelkom deur die Spesiale Referent oor die situasie van menseregte in Eritrea. Dit het die regering gevra om die regte van gewetensbeswaardes te respekteer “wat ooreenstem met internasionale standaarde” en om “die fisiese belange van alle gevangenes te waarborg; om toegang tot mediese behandeling te verseker vir dié wat dit nodig het . . . en om toestande in die tronk te verbeter in ooreenstemming met internasionale standaarde”. Die HRC het in ’n 2015-resolusie vir die regering van Eritrea gevra om “voorsiening te maak vir mense wat gewetensbeswaar teen militêre diens het”.

In 2016 het die Kommissie van Ondersoek oor Menseregte in Eritrea vasgestel dat die regering van Eritrea ’n “misdaad teen die mensdom” gepleeg het omdat hulle Jehovah se Getuies en ander “vervolg op grond van godsdienstige en etniese redes”.

In 2017 het die Afrika-Komitee van Deskundiges oor die Regte en Welsyn van die Kind (ACERWC) sy bekommernis uitgespreek. Al is daar wetlike beskerming, “kan die kinders van Jehovah se Getuies nie die voordeel van hierdie reg kry nie en word hulle wreed behandel”. Die ACERWC het voorgestel dat Eritrea “’n kind se vryheid van gedagte, gewete en godsdiens moet erken en sonder enige diskriminasie moet toepas”.

In 2018 het die Afrika-Kommissie oor Menseregte voorgestel dat Eritrea “dringende stappe moet neem en die weiering van basiese regte van alle mense wat in die tronk is, moet regstel. Dit sluit . . . lede van die Jehovah Getuies-geloof in”. Hulle het gevra dat daar ’n ondersoek moet wees oor die dood van die Getuies wat in aanhouding was. Die kommissie het beklemtoon dat dit belangrik is dat Eritrea seker maak dat Jehovah se Getuies “hulle regte as burgers behou”.

In Mei 2019 het die VN se Menseregtekomitee (CCPR) aangedring dat Eritrea die vryheid van godsdiens en geloof moet waarborg. Hulle het ook gevra dat “alle persone wat gearresteer of aangehou word omdat hulle hulle godsdiensvryheid uitgeoefen het, vrygelaat moet word, insluitende Jehovah se Getuies”. Die CCPR het ook gevra dat Eritrea “die regte van gewetensbeswaardes teen militêre diens moet erken en voorsiening moet maak vir alternatiewe burgerlike diens vir gewetensbeswaardes”.

In ’n verslag wat op 12 Mei 2021 uitgegee is, het die VN se Spesiale Referent die regering in Eritrea gevra om “almal dadelik en onvoorwaardelik vry te laat wat as gevolg van hulle geloof sonder aanklag of verhoor in die tronk is. Dit sluit 20 Getuies van Jehovah in. Hulle moet ook die besluite hersien om Jehovah se Getuies se burgerskap van hulle af weg te neem as gevolg van hulle godsdiens. Die Afrika-Kommissie oor Menseregte se voorstel moet gerespekteer word omdat hulle wil verseker dat Jehovah se Getuies hulle regte as burgers moet behou. Hulle het gevra dat daar ’n ondersoek moet wees oor die dood van Jehovah se Getuies wat in aanhouding was.”

Onbepaalde tronkvonnisse

Die meeste Getuie-mans word vir ’n onbepaalde tyd tronk toe gestuur met geen hoop om vrygelaat te word nie, tensy hulle doodgaan of amper dood is. Omdat daar geen doeltreffende plaaslike regstappe of wetlike oplossings vir hulle beskikbaar is nie, beteken dit dat hulle in werklikheid tot lewenslange tronkstraf gevonnis word.

Tydlyn

  1. 17 Junie 2024

    Altesaam 39 Getuies is in die tronk.

  2. 1 Februarie 2021

    Drie Getuies is uit die tronk vrygelaat.

  3. 29 Januarie 2021

    Een Getuie is uit die tronk vrygelaat.

  4. 4 Desember 2020

    Agt-en-twintig Getuies is uit die tronk vrygelaat.

  5. 6 Maart 2018

    Habtemichael Mekonen, 77 jaar oud, sterf nadat hy na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas is.

  6. 3 Januarie 2018

    Habtemichael Tesfamariam, 76 jaar oud, sterf nadat hy na die Mai Serwa-tronk oorgeplaas is.

  7. Julie 2017

    Al die Getuies wat in die Meitir-kamp gevange gehou is, word na die Mai Serwa-tronk buite Asmara oorgeplaas.

  8. 25 Julie 2014

    Die meeste van dié wat op 14 April in hegtenis geneem is, word vrygelaat, maar 20 van dié wat op 27 April in hegtenis geneem is, word nog aangehou.

  9. 27 April 2014

    Een-en-dertig Getuies word gedurende ’n vergadering vir Bybelstudie in hegtenis geneem.

  10. 14 April 2014

    Meer as 90 Getuies word gedurende die jaarlikse Herdenking van Christus se dood in hegtenis geneem.

  11. 16 Augustus 2012

    Yohannes Haile, 68 jaar oud, sterf in gevangenskap onder uiterste toestande.

  12. Julie 2011

    Misghina Gebretinsae, 62 jaar oud, sterf in gevangenskap onder uiterste toestande.

  13. 28 Junie 2009

    Gedurende ’n godsdiensvergadering voer die owerheid ’n klopjag op ’n Getuiehuis uit en neem hulle al 23 Getuies daar teenwoordig in hegtenis, tussen die ouderdomme van 2 en 80.

  14. 28 April 2009

    Die owerheid verskuif al Jehovah se Getuies, buiten een, wat in polisiestasies aangehou word, na die Meitir-gevangeniskamp.

  15. 8 Julie 2008

    Die owerheid begin klopjagte op huise en werksplekke uitvoer om 24 Getuies in hegtenis te neem, waarvan die meeste broodwinners is.

  16. Mei 2002

    Die regering verbied alle godsdiensgroepe wat nie onder die vier godsdienste funksioneer wat deur die regering goedgekeur word nie.

  17. 25 Oktober 1994

    ’n Presidensiële besluit ontneem Jehovah se Getuies hulle burgerskap en basiese burgerregte.

  18. 17 September 1994

    Paulos Eyasu, Isaac Mogos en Negede Teklemariam word sonder aanklag of verhoor opgesluit.

  19. 1950’s

    Eerste gemeenskappe van Jehovah se Getuies word in Eritrea gevorm.