Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal die wêreld verenig?

Sal die wêreld verenig?

Sal die wêreld verenig?

IN ONLANGSE jare het miljoene mense in Oos-Europa en elders gely weens die gevolge van verdelende oorlogvoering. Maar selfs terwyl sulke wrede konflikte gewoed het, kon duisende mense in hierdie oorloggeteisterde lande ware eenheid onder hulleself aankweek en handhaaf. Beskou ’n paar voorbeelde.

In 1991 het ’n internasionale gehoor van byna 15 000 in Zagreb, Kroasië, bymekaargekom. ’n Polisieman op die toneel het gesê: “Dit sal goed wees om vir die massamedia te wys wat in hierdie stadion gebeur, net hier, waar ons Serwiërs, Kroate, Slowene, Montenegryne en ander mense sien wat vreedsaam langs mekaar sit.” Wat is verantwoordelik vir hierdie buitengewone eenheid?

In 1993 is ’n selfs groter internasionale byeenkoms, met die tema “Goddelike Onderrigting”, in Kiëf, die hoofstad van die Oekraïne, gehou. Daar was ’n opkomshoogtepunt van bykans 65 000. Die voorblad van die Evening Kiev het berig: “Jehovah se Getuies . . . word nie net deur hulle blou lapelkaarte met die woorde ‘Goddelike Onderrigting’ daarop verenig nie, maar deur ware geloof.”

Goddelike onderrigting—’n Krag wat eenheid bring

Wonder jy waarom Jehovah se Getuies eenheid geniet terwyl verdeeldheid in die wêreld rondom hulle aan die orde van die dag is? Die Poolse professor Wojciech Modzelewski identifiseer die rede deur van die Getuies te sê: “Die sleutel tot hulle vreedsame gesindheid is hulle voorneme om nou reeds die beginsels te volg wat in die Bybel geopenbaar word.” Die Getuies is inderdaad wêreldwyd verenig deur die Goddelike onderrigting van die Skepper, Jehovah God. Wat word hulle geleer?

Jesus Christus het op ’n belangrike verenigende beginsel gewys toe hy aangaande sy volgelinge gesê het: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie.” Ja, Jehovah se Getuies word verenig deur die neutrale standpunt wat hulle wêreldwyd handhaaf. Dit is in ooreenstemming met Jesus se woorde toe hy gebid het: ‘Ek doen versoek dat hulle almal een kan wees, net soos u, Vader, in eenheid met my en ek in eenheid met u is, dat hulle ook in eenheid met ons kan wees.’—Johannes 17:16-21.

Hierdie neutrale standpunt is ’n krag wat eenheid bring omdat dit Getuies in alle wêrelddele beweeg om hulle lewe te rig volgens wat die profeet Jesaja gesê het van almal vir wie God ‘sy weë gaan leer’. Jesaja het gesê sulke persone “sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse”. Die profeet het verder gesê: “Nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:2-4.

Die eenheid en vrede wat gedurende die laaste dekade by die byeenkomste van Jehovah se Getuies in Oos-Europa gesien is, toon dat Jesaja se profesie reeds op ’n klein skaal vervul word. In Europa en elders het die Getuies figuurlik gesproke van hulle swaarde pikke gesmee en van hulle spiese snoeimesse. Gevolglik geniet hulle vrede en eenheid in hierdie verdeelde wêreld. Dit is geen wonder nie dat ’n hoofartikel in ’n koerant eenkeer gesê het: “Dit sou ’n einde aan bloedvergieting en haat beteken as die hele wêreld volgens die [Bybelse] oortuiging van [Jehovah se] Getuies geleef het, en liefde sou as koning heers”! Sal dit ooit die geval wees?

Hoe wêreldwye eenheid bereik sal word

Om eenheid regoor die hele aarde te bewerkstellig, is meer as ’n betreklike klein groepie welmenende mense nodig. Daar moet ook ’n regering wees wat die mag het om die invloed te beperk van diegene wat eenheid en vrede teëwerk. Trouens, Jesus het sy volgelinge geleer om vir juis so ’n regering te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:10). Ja, Jesus het getoon dat net ’n regering deur God, “die koninkryk van die hemele”, die oplossing kan bied vir die wêreld se probleme—waaronder die probleem van verdeeldheid.—Matteus 4:17.

Jesus Christus is die Koning van daardie hemelse Koninkryk. Onder sy heerskappy sal mense op die aarde ’n ongekende tyd van vrede en eenheid beleef. Hierdie wêreldwye eenheid sal nie die gevolg wees van ekonomiese hervormings deur mense nie. Net ’n wêreldregering in die hande van die “Vredevors” kan so iets doen.—Jesaja 9:5, 6.

Die Vredevors sal nie die ongeregtighede wat vandag voorkom, wat dikwels deur armoede en magsmisbruik veroorsaak word, duld nie. Die Bybel belowe: “Al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien. Want hy sal die behoeftige red wat daar roep om hulp, en die ellendige en wie geen helper het nie. Hy sal hulle siel verlos van verdrukking en geweld . . . Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge.”—Psalm 72:11, 12, 14, 16.

Onder Christus se heerskappy sal werkloosheid ook tot die verlede behoort. Die profeet Jesaja sê: “Hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet” (Jesaja 65:22). Dink net, almal op die aarde sal nuttige, bevredigende werk kan doen!

Ware eenheid—Wanneer?

Maar wanneer sal Christus se heerskappy oor die aarde begin? Toe hy hierdie vraag beantwoord het, het Jesus Christus verwys na ’n tyd wat gekenmerk sou word deur oorloë, berigte van oorloë, siektes, aardbewings en ander gebeure. Maar hy het ook op ’n positiewe aspek gewys—die goeie nuus van God se Koninkryk sal wêreldwyd verkondig word (Matteus 24:3-14; Lukas 21:11). Hierdie gebeure, het Jesus gesê, sal ’n hoogtepunt bereik in ’n “groot verdrukking” wat ’n algehele verandering van heerskappy vir die aarde sal voorafgaan (Matteus 24:21). Lees sy woorde wat in Matteus hoofstuk 24 en Lukas hoofstuk 21 opgeteken is. Vergelyk die toestande wat hy voorspel met wat jy in die wêreld sien. Dit is baie duidelik dat ons nou aan die vooraand van God se ingryping in menseheerskappy lewe. Sy Koninkryk, met Jesus Christus as Koning, sal die heerskappy oorneem. ’n Verenigde wêreld is op hande!

Die vraag bly egter: Wat moet jy doen om die vervulling van hierdie belofte te sien? Aangesien die Bybel ’n belangrike rol in die mensdom se verwagtinge vir die toekoms speel, is dit verstandig om die Bybel beter te probeer verstaan. Jehovah se Getuies sal dus met graagte na jou huis toe kom en ’n gratis Bybelstudie met jou hou. * As jy hierdie aanbod aanvaar, sal jy binnekort sien dat wêreldeenheid naby is en dat jy dit ook kan geniet!

[Voetnoot]

^ par. 17 As jy graag meer inligting oor hierdie Bybelstudieprogram wil ontvang, kan jy gerus met die uitgewers van hierdie tydskrif of Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking kom.

[Prente op bladsy 8, 9]

Jehovah se Getuies geniet regoor die wêreld ’n buitengewone eenheid

Kiëf, die Oekraïne

Zagreb, Kroasië

[Prent op bladsy 10]

Dit is God se voorneme dat die mensdom een verenigde, aardwye gesin word