Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vigs in Afrika—Watter hoop is daar vir die nuwe millennium?

Vigs in Afrika—Watter hoop is daar vir die nuwe millennium?

Vigs in Afrika—Watter hoop is daar vir die nuwe millennium?

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ZAMBIË

VERLEDE September het afgevaardigdes van verskillende dele van Afrika in Lusaka, Zambië, byeengekom vir die 11de Internasionale Konferensie oor Vigs en SOS’e in Afrika. Een van die konferensie se oogmerke was om groter samewerking tussen lande aan te moedig om ’n antwoord te kry op die vraag: Hoe kan ons te werk gaan om die verspreiding van vigs in Afrika te keer?

Professor Nkandu Luo, wat toe Zambië se minister van gesondheid was, het gesê dat die situasie in Afrika en in ander dele van die ontwikkelende wêreld “baie ernstig” is. Hy het verder gesê dat “sommige van die groot deurbrake wat op die gebied van gesondheidsorg en ander sosiale en ekonomiese gebiede gemaak is daardeur gestrem en selfs verydel word”.

’n Simposium oor die veiligheid van bloed het erken dat vigs deur bloedoortappings oorgedra word. Een dokter, ’n verteenwoordiger van die Wêreldgesondheidsorganisasie se Bloedveiligheidseenheid, het gesê dat geslagsomgang met ’n besmette maat nie altyd HIV oordra nie, maar dat almal wat vigs-besmette bloed ontvang, wel besmet sal word! Hierdie dokter het tereg gesê dat “die veiligste bloedoortapping die een is wat nie gegee word nie”.

Die konferensie het beklemtoon dat die hoë koste van behandeling dit moeilik of selfs onmoontlik vir vigs-slagoffers maak om mediese sorg te bekostig. Byvoorbeeld, in Uganda verdien ’n persoon wat in die stad woon gemiddeld ongeveer R1 200 per maand. Maar behandeling met antiretrovirusmiddels kan tot R6 000 per maand kos!

Die konferensie in Lusaka het getoon dat die begin van die nuwe millennium geen maklike oplossing vir die verspreiding van vigs sal sien nie. Bybelstudente besef egter dat die oplossing vir alle siektes uiteindelik afhang van die Skepper, Jehovah God, wat belowe dat “geen inwoner” in sy nuwe wêreld sal sê: “Ek is siek” nie.—Jesaja 33:24.

[Kaart/Prente op bladsy 31]

Professor Nkandu Luo

[Erkenning]

Foto met vergunning van: E. Mwanaleza, Times of Zambia