Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Ontvoering Ek skryf om baie dankie te sê vir die reeks “Ontvoering—Waarom dit ’n wêreldwye gevaar is” (22 Desember 1999). Verlede maand is die supermark waar ek werk, beroof. Twee gemaskerde mans het ingekom en die een het ’n vuurwapen op ons gerig. Omdat die artikel gesê het dat slagoffers van ontvoering moet doen wat vir hulle gesê word, het ek nie weerstand gebied toe hulle my hande en voete vasgemaak, my oë toegeplak en my op die vloer laat sit het nie. Hulle het 9 500 000 jen (ongeveer R633 600) gesteel. Maar ek het kalm gebly en is nie seergemaak nie. Die artikel het op die regte tyd gekom!

S. H., Japan

Geniet Ontwaak! Al is ek ’n lid van die “Assembly of God”-kerk, lees ek nogtans die Ontwaak! Ek het nog nooit ’n tydskrif van hierdie hoë gehalte en met so ’n verskeidenheid van onderwerpe gelees nie. Ek het nie ’n televisie by die huis nie, maar ek kan dikwels aktuele sake met my vriende bespreek omdat ek in julle tydskrif daaroor gelees het.

A.B.A., Brasilië

Gladde skeer Die artikel “’n Gladde skeer” (22 Januarie 2000) het op net die regte tyd vir my gekom. My man het nou voortdurend sorg nodig en kan homself nie meer skeer nie. Die vier wenke oor skeer was baie nuttig. Nou wil hy hê dat ek hom elke dag moet skeer!

L. D., Duitsland

Leuens Ek het die artikel “Die Bybelse beskouing: Leuens—Is dit ooit geregverdig?” (8 Februarie 2000) gedagteprikkelend gevind. Maar veroordeel die Bybel nie alle vorme van misleiding volgens enige redelike definisie nie?

D. S., Verenigde State

In die Bybel behels ’n leuen gewoonlik dat valse inligting aan iemand gegee word wat daarop geregtig is om die waarheid te weet en dat dit gedoen word om hom of iemand anders te mislei of te benadeel. Godvresende mense soos Abraham, Isak, Ragab en Dawid het dus ander mislei, maar is nie as leuenaars veroordeel nie. Hulle het dit natuurlik onder buitengewone omstandighede gedoen. Hulle dade regverdig dus nie onnodige misleiding nie. As ’n Christen byvoorbeeld in ’n geregshof gesweer het dat hy die waarheid sal vertel, sal hy óf die waarheid vertel óf stilbly.—RED.

Vaderlose gesinne Die Ontwaak van 8 Februarie 2000 bespreek die kringloop van vaderlose kinders (“Vaderlose gesinne—Hoe die kringloop verbreek kan word”). Ek kan nie verduidelik hoe teleurgesteld en kwaad ek was nadat ek dit gelees het nie. Julle het die gedrag van afwesige vaders goedgekeur deur hulle bekommernisse, soos besoekregte en hulle ekonomiese verknorsing, te bespreek. Waar is die teregwysing? Waar is die aanmoediging vir mans om hulle foute reg te stel?

S. L., Verenigde State

Ons besef hoe pynlik dit vir party moet wees om sulke materiaal te lees, veral as hulle slagoffers van verwerping is. Maar dit was nie die doel van die artikel om mans tereg te wys nie. Ons het eerder ’n begrip van albei kante van die ingewikkelde kwessies probeer bevorder. Ons het ook praktiese raad aan slagoffers van verwerping gegee. Dit is interessant dat die laaste artikel, “Vaderlose gesinne—Hoe die kringloop verbreek kan word”, gesê het: “Die huidige tendense in gesinne sal slegs tot ’n einde kom as mense bereid is om diepgaande veranderinge in hulle denke, hulle gesindhede, hulle gedrag en hulle sedes aan te bring.”—RED.

Toe ek die voorblad met die foto van ’n dogtertjie saam met haar pa sien, het die trane in my oë opgewel. Ek wou nog altyd so ’n verhouding met my pa gehad het. Die artikel het my in staat gestel om te probeer verstaan wat in my gesin gebeur het. Dit was soos ’n sonstraal wat tot my verlede deurgedring het en lig gewerp het op donker vrae waaroor ek al baie jare lank wonder.

M. M., Verenigde State