Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Slaapskuld—’n Groeiende probleem?

Slaapskuld—’n Groeiende probleem?

Slaapskuld—’n Groeiende probleem?

MILJOENE mense is vandag diep in die “skuld”. Hierdie skuld is moontlik ’n vername oorsaak van motorongelukke, skade aan hulle loopbaan en selfs die verbrokkeling van hulle huwelik. Dit kan ’n nadelige uitwerking op hulle gesondheid en lewensverwagting hê. Dit is ’n tekort wat bydra tot die onderdrukking van die immuunstelsel en mense dus vir verskeie infeksies vatbaar maak. Dit is al verbind met uiteenlopende kwale soos suikersiekte, hartsiekte en ernstige vetsug, asook ander gesondheidsprobleme. En tog is die meeste slagoffers salig onbewus van hierdie skuld.

Ons praat hier van slaapskuld, ’n tekort wat ontstaan wanneer iemand nie genoeg kwaliteitslaap kry om gesond te bly nie. Dit kan veroorsaak word deur vrywillige slaapontneming as gevolg van ’n mens se lewenswyse of deur onvrywillige slaapontneming as gevolg van siekte.

Mediese navorsers skat dat die aarde se bevolking nou gemiddeld ’n uur per nag minder slaap kry as wat nodig is. Hoewel dit dalk nie soos baie klink nie, het ’n slaapskuld van sesmiljard uur per nag die middelpunt geword van navorsing oor die verskillende soorte slaapverwante siektes sowel as die uitwerking daarvan op mense se lewensgehalte.

Die mediese wêreld het vroeër gedink dat die chroniese onvermoë om te slaap net een versteuring is, wat oor die algemeen as slaaploosheid bekend staan. Maar ’n kommissie wat deur die Amerikaanse Kongres aangestel is, het 17 verskillende slaapversteurings geïdentifiseer. Hoe dit ook al sy, slaaploosheid het soveel oorsake dat dit dikwels as ’n simptoom van ander probleme beskou word, net soos koors waarskynlik ’n teken van die een of ander infeksie is.

Selfs al slaap ’n mens net af en toe te min kan dit rampspoedige gevolge hê. Neem die geval van Tom. Hoewel hy ’n ervare vragmotorbestuurder is, het hy met sy groot vragmotor oor ’n wal gery en 400 liter swaelsuur op ’n belangrike hoofweg gestort. Tom erken: “Ek het aan die slaap geraak.” Studies wat in verband met twee Amerikaanse hoofweë gedoen is, het getoon dat lomerige bestuurders vir ongeveer 50 persent van die noodlottige ongelukke verantwoordelik was.

Dink ook aan die gevaar waarin diegene verkeer wat saam met ’n slaperige kollega werk. Die Australiese navorser Ann Williamson sê: “Ná 17 tot 19 uur sonder slaap was [diegene wat aan die eksperimente deelgeneem het] se reaksies in party toetse dieselfde of slegter as dié [van mense met ’n bloed:alkohol-konsentrasie] van 0,05%.” Met ander woorde, hulle het gereageer asof hulle net soveel of meer alkohol in hulle bloed gehad het as die wettige hoeveelheid wat in party lande vir bestuurders toegelaat word! Met honderdduisende slaapverwante motor- en werksongelukke wat elke jaar plaasvind, veroorsaak dit wêreldwyd ’n enorme verlies aan produktiwiteit en baie lyding vir gesinne. a

Watter faktore kan tot slaapskuld bydra? Een is die maatskaplike verskynsel wat dikwels 24/7 genoem word—om 24 uur per dag, sewe dae per week aan die gang te wees. USA Today beskryf dit as “’n kulturele aardskudding wat verander hoe ons lewe” en het gesê dat “’n nuwe vlaag van dag-en-nag-winkels en -dienste munt daaruit slaan om die horlosie te ignoreer”. In baie lande kyk mense deurnagtelevisie en gebruik hulle die Internet wanneer hulle veronderstel is om te slaap. Dan is daar die uitwerking van emosionele versteurings, wat dikwels verband hou met bekommernisse en vererger word deur spanning en die pas van die lewe. Laastens is daar verskeie siektes wat tot slaapskuld kan bydra.

Baie dokters sê dat dit moeilik is om hulle pasiënte te oortuig dat slaapskuld ernstig opgeneem moet word. Een dokter het gekla dat sommige mense chroniese moegheid selfs as “’n statussimbool” beskou. En omdat hulle toestand dikwels geleidelik versleg, besef diegene wat aan slaapontneming ly moontlik nie dat hulle ’n ernstige slaapversteuring het nie. Baie redeneer: ‘Ek word net oud’ of ‘Die lewe word net te veel vir my en daarom kan ek nie meer behoorlik funksioneer nie’ of ‘Ek is altyd moeg omdat ek nooit die lang rus kan kry wat ek nodig het nie.’

Om hierdie slaapskuld te delg, is ’n moeilike uitdaging. Maar as ’n mens verstaan hoe ’n gesonde slaapsiklus werk en leer om die tekens van slaapskuld te herken, kan dit jou motiveer om aanpassings te maak. Dit kan lewens red as ’n mens weet hoe om die simptome van ’n ernstige slaapversteuring te identifiseer.

[Voetnoot]

a Moegheid het blykbaar tot baie van die 20ste eeu se ergste ongelukke bygedra. Sien die Ontwaak! van 8 Februarie 2001, bladsy 6.

[Prent op bladsy 4]

Selfs al kry ’n mens net af en toe te min slaap kan dit ernstige ongelukke veroorsaak