Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ontdek die wynmyn van Moldowa

Ontdek die wynmyn van Moldowa

Ontdek die wynmyn van Moldowa

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN MOLDOWA

SOWAT 80 meter onder Cricova, ’n voorstad van Chişinău, die hoofstad van Moldowa, lê ’n 120 kilometer lange doolhof van mensgemaakte tonnels. Kalksteen is vroeër in hierdie donker holtes gemyn.

Maar die afgelope 50 jaar was hierdie koel ondergrondse kelders die volmaakte bergplek vir van Europa se beste wyne. Daar is rye en rye vate en bottels in meer as 60 kilometer van hierdie ou myntonnels. Met bergruimte vir 350 miljoen liter wyn is dit na bewering die grootste wynkelder in Suidoos-Europa.

’n Antieke tradisie word voortgesit

Moldowa is ideaal vir die verbouing van druiwe. Dit is op dieselfde breedtegraad as die beroemde wynproduserende provinsie Boergondië in Frankryk en het ’n gematigde klimaat en vrugbare, warm grond. Wynproduksie in Moldowa dateer uit 300 v.G.J., toe Griekse handelaars vir die eerste keer wingerdstokke na hierdie land gebring het. Deur die daaropvolgende eeue heen is die tradisie van wynproduksie voortgesit, al is die land deur die Gote, die Hunne en verskeie leenhere verower.

Die Ottomaanse Ryk het die land tussen die 16de en 18de eeu oorheers en wynmakery weens godsdienstige redes ontmoedig. Maar in die 19de eeu het Russiese tsaars die land in besit geneem en die wynbedryf daadwerklik bevorder. Hulle het verskillende soorte druiwe van Frankryk af ingevoer en die wingerdstokke het gefloreer. Ná die Tweede Wêreldoorlog het Moldowa se nuwe oorheerser, die Sowjetunie, die wynbedryf stelselmatig gemoderniseer. Trouens, dit het Moldowa die middelpunt van die wyn- en vrugtebedryf van die hele Sowjetunie gemaak. Dit was die Sowjetowerheid wat eerste besef het dat hierdie tonnels die volmaakte plek sou wees om wyn te berg. Kom gerus saam op ’n toer van hierdie unieke kelder en leer iets omtrent sy geheime.

’n Ondergrondse dorp

Terwyl ons by die wynmakery inry, sien ons ’n ingangstoring, wat deel is van ’n gebou wat uit die kalksteen gekap is. Die gebou lyk soos ’n chalet op die Franse platteland. Maar dit gee geen aanduiding van die uitgebreide tonnels onder die grond nie. Naby die hoofhek, kom ons op die gapende opening van die tonnel af en is ons verbaas oor hoe groot dit is. Twee vragmotors kan met gemak daarin by mekaar verbyry.

Ons ry met die motor in hierdie ondergrondse doolhof in, en ná net ’n paar minute se ry, laai ons ons toergids op. Al die draaie in hierdie doolhof laat ons besef hoe maklik ons sonder haar sou verdwaal.

Een van ons vra: “Wat het van die kalksteen geword wat vroeër hier gemyn is?”

“Dit is in bouprojekte in Chişinău gebruik”, antwoord sy. “Kalksteen is ’n uitstekende boumateriaal, want dit het goeie isolerings- en klankdempende eienskappe.”

Terwyl ons tot omtrent 70 meter onder die grond daal, word die lig in die tonnel al hoe minder, wat dit ’n misterieuse atmosfeer gee. Ons hou by ’n kruising stil waar verskeie paaie, met lang rye groot wynvate aan weerskante, in verskillende rigtings lei. Ons let op dat die strate na verskillende soorte wyn vernoem is. Pinot, Feteasca en Cabernet is net ’n paar van die name wat ons verbeelding aangryp.

Ons gids vertel ons dat die eikehoutvate hoofsaaklik by die maak van stilwyn gebruik word, terwyl kleiner metaalvate by die voorbereiding van vonkelwyn gebruik word. Ons sien baie min werkers, wat ons laat vra hoeveel werkers daar is. Sy antwoord: “Ons het omtrent 300 mense wat hier werk. Hulle dra die hele jaar lank warm klere as gevolg van die koue. Ons werkers glo dat dit nie net vir die wyn goed is nie, maar dat dit ook die mense jonk hou en daarom kla hulle nie eintlik oor die koue nie.”

Die maak van vonkelwyn is die volgende hoogtepunt op ons toer. Ons sien honderde bottels wat teen ’n hoek van 30 grade onderstebo lê. Daar word vir ons gesê: “Wanneer die bottels teen hierdie hoek gehou word, sak die residu af tot bokant die kurkprop. Nadat dit gebeur, word die kurk diepbevrore. Nou kan die kurkprop maklik saam met die afsaksel uitgetrek word, en die bottel kan dan finaal gekurk word.”

Ons kom spoedig by die plek aan waar die bottels kwaliteitswyn geberg word. Ons gids lei dit in deur te sê: “Meer as ’n miljoen bottels kwaliteitswyn word hier geberg. Amper al Europa se wynproduserende lande het van hulle beste produkte na ons ondergrondse kelder gebring. Die oudste wyn dateer uit die 1902-oesjaar, ’n bottel Joodse Pasgawyn uit Jerusalem. ’n Paar jaar gelede het ’n bieër $100,000 vir hierdie bottel aangebied. Maar die aanbod is van die hand gewys. Die bottel is klaarblyklik van onskatbare waarde geag.”

Daar word ook vir ons gesê dat die wynbottels in hierdie gebied gewoonlik in algehele duisternis geberg word, behalwe wanneer ’n toergroep dit vir ’n paar minute besoek. Terwyl ons vinnig die etikette op die stofbedekte bottels ondersoek, besef ons dat die meeste wyne ouer as ons is!

Die toer eindig in die vertrekke waar die wyne geproe word. Die grootste word die Presidensiële Banketsaal genoem. Dit het ’n lang soliede eikehouttafel met bypassende stoele en het plek vir 65 mense. Gedurende die Sowjetera is hierdie vertrek vir amptelike staatsbankette gebruik. Vandag is hierdie goed beligte en kleurvolle saal nog steeds ’n gepaste plek vir amptelike staatsfunksies.

Sala Casa Mare (die Gastekamer) het plek vir 15 mense en is in ’n tradisionele Moldowiaanse styl gemeubileer, terwyl die Bodem van die Sarmatiese See-banketsaal plek het vir 10 mense om by ’n ronde tafel wyn te proe en te eet. Die interessantste kenmerk van hierdie kamer is die plafon. Oorspronklik was hierdie kamer ’n onderwatergrot, en versteende skulpvis en ander oorblyfsels van seelewe is duidelik sigbaar. Die toergids herinner ons dat die hele hedendaagse Moldowa in werklikheid vroeër op “die bodem van die Sarmatiese See” was.

Plaaslik gekweekte eikebome is die bron van die hout waarvan die meubels in al hierdie vertrekke gemaak is, insluitende die Joeri Gagarin-banketsaal. Hierdie beroemde ruimtevaarder het Cricova op 8 en 9 Oktober 1966 besoek. Hy het ’n brief van waardering geskryf, waarin hy gesê het dat ‘selfs die mees kritiese fynproewer ’n wyn sal vind waarvan hy hou’.

Ons gids sê: “Ons het gedurende die 50 jaar wat die kelder bestaan, al besoekers van meer as honderd verskillende lande gehad. Gedurende die Sowjettyd het ons vonkelwyne as Sowjetsjampanje bekend gestaan. Min mense het geweet dat dit van Moldowa af kom. Vandag bemark ons ons vonkelwyne onder die handelsnaam Cricova, en ons het rooi en wit variëteite.” Ons waardeer die interessante toer wat sy ons gegee het en bedank haar daarvoor.

Wanneer ons uit die ondergrondse doolhof ry, voel dit asof ons uit ’n ander wêreld kom. Buite is dit warm en sonnig. Nie ’n enkele wolkie kan in die lug gesien word nie. Op pad terug na Chişinău ry ons verby skynbaar eindelose rye goed versorgde wingerde wat vol druiwe hang, amper reg om geoes te word.

[Kaart op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

OEKRAÏNE

ROEMENIË

MOLDOWA

Chişinău

[Prent op bladsy 24]

Cricova-wynmakery, met sy ingangstoring

[Prent op bladsy 24]

Een van die straatname in die 120 kilometer lange ondergrondse tonnels

[Prent op bladsy 24]

Tonnelingang na wynkelder

[Prent op bladsy 24]

Meer as ’n miljoen bottels kwaliteitswyn word hier geberg