Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom is dit goed om te stap?

Waarom is dit goed om te stap?

Waarom is dit goed om te stap?

MILJOENE mense dink blykbaar dat hulle maar net sowel daarvan kan vergeet om gesondheidsvoordele uit oefening te kry as hulle nie by ’n gimnasium kan aansluit en baie tyd aan oefening kan bestee nie. Maar dit is nie waar nie. Dr. Russell Pate van die Universiteit van Suid-Carolina sê: “Ek dink dat ons die idee amptelik moet goedkeur dat ’n lekker, gemaklike stappie om die blok ná ete baie goed is vir jou.”

Maar sal ’n stappie werklik so goed wees vir jou? Hou dit werklik betekenisvolle gesondheidsvoordele in om te stap?

Stap is goeie medisyne

Die Griekse geneeskundige Hippokrates het stap as “die beste medisyne vir die mens” beskou. Trouens, daar is ’n spreekwoord wat sê: “Ek het twee dokters, my linker- en my regterbeen.” Is dit werklik so gesond om te stap?

Wel, uit party studies blyk dit dat mense wat gereeld stap dalk minder dikwels siek sal word as mense wat ’n onaktiewe lewe lei. Die studies toon dat stap die moontlikheid van hartsiekte en beroerte verminder. Dit kan diabetes voorkom deurdat dit die liggaam se vermoë verbeter om insulien te gebruik. Dit hou die bene sterk en voorkom osteoporose. Stap maak ’n mens fisies sterker, meer soepel en gee jou meer stamina. Dit help ’n mens om gewig te verloor en om jou gewig konstant te hou. Daarbenewens laat dit jou beter slaap, laat dit jou verstand beter werk en kan dit selfs help om depressie teë te werk.

’n Paar jaar gelede het navorsers aan die Universiteit van Suid-Carolina na bewering gevind dat ’n stappie van 15 minute meer verligting van angs en spanning teweegbring as ’n matige kalmeermiddel! Wanneer ’n mens stap, word daar, net soos in die geval van ander fisiese bedrywighede, endorfiene vrygestel, chemiese stowwe in die brein wat pyn verlig en ’n mens help om te ontspan, wat lei tot ’n gevoel van kalmte en welstand.

Volgens The Medical Post van Kanada kan selfs ’n rustige stappie gesondheidsvoordele inhou. ’n Studie wat in The New England Journal of Medicine gepubliseer is, toon dat ’n mens langer kan lewe as jy selfs net agthonderd meter per dag stap. Onlangse studies gee te kenne dat dit vir jou amper net so goed sal wees om drie keer per dag, 10 minute op ’n slag, te oefen as om 30 minute aanmekaar te oefen. Daarom sal jy dit dalk wil oorweeg om verder van jou bestemming af te parkeer en die res van die pad te loop. Of jy kan gedurende die dag ’n kort entjie gaan stap.

Jy kan selfs meer daarby baat vind as jy vinnig stap. Dr. Carl Caspersen van die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming in Atlanta, Georgia, het gesê: “As jy ’n onaktiewe lewe gelei het en dan begin om ’n paar dae per week ’n half uur lank vinnig te stap, kan dit die gevaar dat jy [’n siekte] sal opdoen, drasties verminder.” En wat so goed is omtrent stap, is dat feitlik almal, ongeag hulle ouderdom of gesondheid, dit kan doen. Wat meer is, dit vereis nie spesiale opleiding of atletiese vaardighede nie—net ’n goeie paar skoene.

Geniet dit

Dra gemaklike, los klere. Om warm te bly, kan jy verskillende lae klere dra wat maklik uitgetrek kan word. Dra buigsame, ligte skoene wat ’n sagte, lae hak en genoeg plek vir jou tone het. Dit moet ietwat groter as jou gewone skoene wees. As jy langer as ’n halfuur gaan stap en daar geen drinkwater op jou roete is nie, sal jy dalk ’n ligte houer met water wil saamneem. Jy moet eers litte losmaak deur vyf minute lank teen ’n gemaklike pas te stap. Loop mooi regop, met jou elmboë en knieë effens gebuig en jou hande bak, nie gebal in vuiste nie.

Nadat jy litte losgemaak het, kan jy teen ’n natuurlike, vinnige pas begin stap, terwyl jy die hak van jou voet eerste neersit en jou voet dan deur die tree tot by die tone rol. Buigsame skoene is dus noodsaaklik. Klink dit na baie om te onthou? Ontspan—die meeste mense loop van nature so. Jou pas moet jou toelaat om te kan gesels sonder om uitasem te raak. As jy ’n beginner is, moet jy geleidelik langer, verder en vinniger stap. Koel af deur aan die einde van jou stappie stadiger te loop. a

’n Toename in hartklop en asemhaling asook ’n bietjie sweet is normale tekens van inspanning. Jou spiere sal dalk die eerste paar dae bietjie seer en teer voel. Let op jou liggaam se reaksie. As jy voel dat jy jou ooreis, stap stadiger of rus bietjie langs die pad. Maar as jy simptome soos beklemming of pyn in jou bors en hartkloppings ondervind, baie sukkel om asem te haal en duiselig of naar word, hou op stap en gaan sien dadelik jou dokter. b

As gevolg van die lae impak wat stap op jou liggaam het, is dit definitief voordeliger as ander bedrywighede, soos om te hardloop en aërobiese oefeninge te doen. Gevolglik is daar ’n geringer kans dat jy jou gewrigte en spiere sal seermaak. Ja, stap word deur fiksheidsdeskundiges as die beste oefening aanbeveel. Stap dus gerus, dit is goed vir jou!

[Voetnote]

a As jy kalorieë wil verbrand, kan jy jou pas van 12 minute per kilometer na 9 minute per kilometer versnel, wat 30 persent meer kalorieë per minuut sal verbrand. As jy jou pas van 9 minute per kilometer na 7 minute per kilometer versnel, sal jy 50 persent meer kalorieë per minuut verbrand. Die meeste fiksheidslopers lê ’n kilometer in omtrent 7 tot 9 minute af.

b Dit sal dalk beter wees om ’n dokter te raadpleeg voordat jy met ’n gereelde oefenprogram begin, veral as jy hartsiekte, hoë bloeddruk of ’n ander mediese probleem het.

[Venster op bladsy 27]

’N PAAR MOETS EN MOENIES VAN STAP

● Stap regop, lig jou ken op (parallel met die grond) en kyk so ses meter voor jou

● Handhaaf ’n matige pas. Moenie voel dat jy so vinnig moet stap dat jy te uitasem raak om normaal te praat nie

● Moenie te groot treë gee nie. Neem vinniger, korter treë vir ekstra spoed

● Swaai jou arms vorentoe en agtertoe, met jou elmboë naby jou liggaam. Moenie jou arms van kant tot kant swaai nie

● Moenie jou hele voet plat op die grond sit nie. Rol deur elke tree en stoot weg met jou tone

● Moenie verplig voel om gewigte te dra nie. Dit belemmer jou natuurlike manier van stap en kan jou ligamente en senings verrek