Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kernoorlog—Kan dit voorkom word?

Kernoorlog—Kan dit voorkom word?

Kernoorlog—Kan dit voorkom word?

“Hulle sal wei en uitgestrek lê, en daar sal niemand wees wat hulle laat bewe nie.”—Sefanja 3:13.

ALMAL verlang na ’n wêreld wat vry is van die kernbedreiging. Maar wanneer hulle na die situasie in hierdie wêreld kyk, is baie pessimisties. “Die idee om kernwapens te beheer, te verminder en uiteindelik daarvan ontslae te raak, is geleidelik besig om van die Amerikaanse en internasionale agenda te verdwyn”, sê The Guardian Weekly.

Sommige verwys nogtans na die pogings wat party lande in hierdie verband aangewend het. Daar word byvoorbeeld geskat dat die Verenigde State alleen R15,4 miljard in een jaar daaraan bestee het om kernoorlog te voorkom. Dit is beslis ’n aardige bedrag. Maar die wete dat dieselfde nasie R189 miljard per jaar daaraan bestee om vir ’n kernoorlog voor te berei, ontstel baie.

Wat van vredesverdrae? Kan sulke pogings ’n bron van hoop wees?

Verdrae vir die beheer van kernwapens

Sedert die kernbom op die toneel verskyn het, is ’n aantal verdrae al gesluit wat bedoel is om kernwapens te beheer of te beperk. Van hulle is die Kernsperverdrag (KSV), Samesprekings oor die Beperking van Strategiese Kernwapens, Samesprekings oor die Vermindering van Strategiese Kernwapens en die Omvattende Verdrag oor die Verbod op Kerntoetse. Het hierdie verdrae dan nie die kernbedreiging uit die weggeruim nie?

Enige verdrag is gegrond op ’n wedersydse belofte tussen die betrokke partye. Die sukses van die KSV, wat in 1970 gesluit is en van Desember 2000 af deur 187 partye onderteken is, is afhanklik van die welwillendheid van kern- en nie-kernmoondhede wat die verdrag onderteken het. Die verdrag verbied nie-kernmoondhede om ’n kernarsenaal te ontwikkel of aan te skaf en terselfdertyd vereis dit dat kernmagte van hulle kernwapens probeer ontslae raak. Was dit doeltreffend? “Hoewel die KSV-stelsel ver van onfeilbaar is, het dit gekeer dat gemonitorde burgerlike kerntegnologie en -fasiliteite vir ander doeleindes gebruik word”, verduidelik Carey Sublette in die dokument “Vrae wat dikwels oor kernwapens gevra word”.

Hoewel die verdrag ’n mate van sukses behaal het, “het verskeie nasies . . . ten spyte daarvan voortgegaan om hierdie wapens te ontwikkel, en in sommige gevalle was hulle suksesvol”, sê Sublette. Maar hy sê dat hulle dit slegs kon doen deur middel van geheime programme buite die gemonitorde Kernsperverdragfasiliteite. Die doeltreffendheid van enige verdrag hang af van die betroubaarheid van die betrokke partye. Kan ons eenvoudig die beloftes van mense vertrou? Die antwoord is duidelik as ons na die mensegeskiedenis kyk.

Na wie toe kan ons ons dus wend?

’n Nuwe denkwyse

In Desember 2001 het ongeveer 110 Nobelpryswenners tot die volgende verklaring ingestem en dit onderteken: “Die enigste hoop vir die toekoms lê in internasionale samewerking wat op demokrasie gegrond is. . . . As ons in die wêreld wat ons verander het, wil oorleef, moet ons ’n nuwe denkwyse aanleer.” Maar watter “nuwe denkwyse” is nodig? Is dit realisties om te dink dat diegene wat wêreldvrede met hulle kernwapens bedreig, ’n nuwe denkwyse sal aanleer?

Die Bybel sê vir ons: “Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie” (Psalm 146:3). Waarom nie? Die Bybel antwoord: “Ek weet goed . . . dat aan die mens sy weg nie behoort nie. Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Ja, die grondrede is dat mense nie die vermoë het om in vrede oor die aarde te heers nie. Dit is soos die Bybel sê: ‘Die mens het oor die mens geheers tot sy nadeel.’—Prediker 8:9.

As die mens nie in staat is om oor die aarde te heers nie, wie kan dan? Die Bybel belowe dat daar vrede onder ’n betroubare en bevoegde regering sal wees. In die Bybel word hierdie heerskappy God se Koninkryk genoem, en miljoene het al onwetend vir hierdie regering gebid wanneer hulle die Onse Vader opsê: “Ons Vader in die hemele, . . . laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Jesus Christus, die Vredevors, is die Koning van hierdie Koninkryk. Die Bybel beskryf sy heerskappy en sê: “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie.”—Jesaja 9:6, 7.

Al leer “edeles”, of politikusse, en menseregerings nie hierdie nuwe denkwyse aan nie, kan jy dit doen. Jehovah se Getuies het miljoene al met behulp van ’n gratis Bybelstudiekursus gehelp om die Bybel se boodskap van hoop aan te neem. Tree gerus met die uitgewers van hierdie tydskrif in verbinding of besoek ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in jou omgewing as jy meer inligting wil hê.

[Prent op bladsy 8, 9]

Onder God se Koninkryksregering sal die wêreld vry wees van die kernbedreiging