Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Acinipo—’n Vergete antieke nedersetting

Acinipo—’n Vergete antieke nedersetting

Acinipo—’n Vergete antieke nedersetting

Deur Ontwaak!-medewerker in Spanje

DIT was ’n onvergeetlike ondervinding om te loop waar antieke Iberiërs en Romeine tweeduisend en meer jaar gelede geloop het. Ek en my vriend het vanaf San Pedro de Alcántara, aan die kus van Málaga in Suid-Spanje, gery en party van die pueblos blancos (wit dorpe) van Andalusië besoek. Ons het op ’n bergpad noord gery, verby die Sierra de las Nieves aan ons regterkant, waarvan die hoogste spits, Pico Torrecilla, sowat 1 900 meter hoog is. Hoewel die natuurskoon asemrowend was, het dit ons glad nie voorberei vir die uitsig wat op ons gewag het toe ons teen die berg af in die rigting van die ou ommuurde stad Ronda gery het nie. Hierdie fassinerende juweel is deur die millenniums heen onder meer bewoon deur die Kelte (wat dit Arunda genoem het), die Grieke, die Fenisiërs, die Romeine, die Vandale en die Berbers (More), wat die Wes-Gote in die agtste eeu G.J. verslaan het.

Maar ons bestemming was Ronda la Vieja, Ou Ronda, wat in antieke tye as Acinipo (uitspraak Athinipo) bekend gestaan het. ’n Spaanse ensiklopedie sê dat hierdie stad sy naam, wat van Sidoniese oorsprong is, te danke het aan Fenisiese handelaars uit Sidon, vandag in Libanon, wat hulle hier gevestig het. Die naam is verwant aan antieke Griekse en Latynse woorde wat na druiwe verwys. Op antieke muntstukke verskyn die naam Acinipo en koringare aan die een kant, terwyl ’n tros druiwe aan die ander kant uitgebeeld word. Landbou en wynbou was klaarblyklik die vernaamste bedrywe in die gebied. Een bron sê dat Acinipo, “danksy sy geografiese ligging . . . , ’n groot stad geword het met ’n munisipaliteit wat die gesag gehad het om sy eie muntstukke te slaan en dat sy inwoners later dieselfde regte as enige ander burger van Keiserlike Rome geniet het”.

Volgens ons reisgids en kaarte het ons geweet dat Acinipo ’n paar kilometer noordwes van Ronda geleë moet wees. My Amerikaanse vriend was opgewonde. Dit was sy eerste besoek aan Europa en sy eerste geleentheid om oorblyfsels van die Romeinse Ryk te sien.

Terwyl ons met ’n nou plattelandse paadjie langs gery het, het ons gevind dat die ruïnes glad nie maklik is om op te spoor nie. Ons het stilgehou en ’n herder wat sy skape laat wei het, om hulp gevra. Hy het ons verseker dat ons Ronda la Vieja net ’n paar kilometer vorentoe sal vind. En jou waarlik, ’n platorand, wat soos ’n maklik verdedigbare stelling gelyk het, het skielik voor ons verskyn. Van die ingang van die argeologiese terrein af het ons ’n berghang voor ons en ou puinhope oral om ons gesien. Vroeër was dit blykbaar huise wat moontlik uit Romeinse tye dateer. Klaarblyklik het hierdie stad eens op ’n tyd ’n groot bevolking gehad. Hoog teen die heuwel, omtrent ’n kilometer daarvandaan, was daar iets wat soos ’n soliede klipmuur gelyk het. Dit het ons nuuskierig gemaak. Watter ruïnes sou ons daar vind?

Waarom ’n stad hier bou?

Waarom het die Romeine besluit om ’n stad hier te bou, skynbaar in die middel van nêrens? Omdat ’n vyand dit nie kon nader sonder dat die inwoners dit geweet het nie. Die Romeine was nie die eerstes wat die voordele van hierdie strategiese plek besef het nie. Argeoloë sê dat die terrein meer as 4 000 jaar gelede deur antieke volke bewoon is. Toe die Fenisiërs omstreeks 1000 v.G.J. daar gekom het, het Acinipo ’n belangrike deel van hulle handelsbedrywighede geword, aangesien dit ’n ideale binnelandse verbindingspunt was tussen Málaga en Cádiz, wat aan die kus geleë is.

’n Wag was aan diens by die ingang van die ruïnes, en ná ’n kort gesprek het hy ons toegelaat om deur die ou poort te gaan. Aan die regterkant was daar oorblyfsels van ronde woonplekke uit die agtste en sewende eeu v.G.J. Ons het teen die heuwel begin uitklim en op klippe afgekom wat deel uitgemaak het van die markplein wat deur die Romeine gebou is. Argeoloë het uit die ruïnes wat opgegrawe is, afgelei dat openbare geboue hier gestaan het en dat die plein (plaza) die ware hart van die stad was.

’n Unieke teater

Die hoë muur op die heuwel het weer eens ons aandag getrek. Ons het gewonder wat dit in Romeinse tye kon gewees het. Terwyl ons nader gekom het, het ons besef dat dit die agtermuur van ’n teater se verhoog is. Dit was van klip gemaak en het ’n groot boog en ’n toring gehad. Volgens die Romeinse gebruik is die klippe gekap en sonder sement gelê. Toe ons onder die boog deurgestap het, was ons op die verhoog en het ons trappe en sitplekke vir sowat duisend mense gesien. Dit was uit die heuwel gekap. Die gedagte dat ons gestaan het waar Romeinse akteurs en redenaars opgetree het, het ons voorwaar beïndruk!

Die Romeine het geweet hoe om berghange ten beste te benut deur dit in teaters te omskep. Oorblyfsels van Romeinse teaters en amfiteaters kan gesien word in plekke so ver uitmekaar soos Mérida in die weste van Spanje, Trier in Duitsland, Nîmes en Arles in Frankryk en selfs so ver noord as Caerleon in Wallis. Daar is ook bekendes in Pompeji en Rome. Die Romeinse Kolosseum het sitplek vir 50 000 mense gehad! Ruïnes van meer as 75 Romeinse amfiteaters is deur die hele gebied van die voormalige Romeinse Ryk versprei. Groepe akteurs het van een teater na die ander gereis en mense met hulle opvoerings vermaak.

Die teater in Acinipo is die bes bewaarde deel van die stad. Die sitplekke volg die heuwel se helling en is beskut teen die wind wat ’n paar meter hoër op oor die platorand waai. Die teater is ontwerp om die natuurlike akoestiek ten beste te benut.

Ons het tot bo-op die platorand geklim. Die uitsig in elke rigting was asemrowend. Ver na links, in die suide, was Ronda, en na regs, of in die noorde, was die antieke stad Olvera. Met onheilspellende donker wolke op die agtergrond het ons in die teater op hierdie eensame heuwel gaan sit en ons probeer voorstel hoe dit omtrent 2 000 jaar gelede in die besige maar afgeleë Romeinse stad Acinipo moes gelyk het. Ons het gewonder wat nog omtrent hierdie unieke terrein geleer kan word. Miskien sal sy geheime in die toekoms onthul word as sy eertydse inwoners ’n opstanding kry.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

[Kaart op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MADRID

Acinipo

Ronda

Málaga

[Prent op bladsy 15]

Teken by die ingang: “Argeologiese terrein Acinipo”

[Prent op bladsy 15]

Agtermuur van verhoog

[Prent op bladsy 15]

Puinhope van Romeinse huise

[Prent op bladsy 15]

Teater en verhoog

[Prent op bladsy 15]

Heuwel waarop Acinipo geleë is

[Prent op bladsy 15]

Hoektoring van teater

[Prent op bladsy 16]

Op die voorgrond, fondamente van voor-Romeinse huise