Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Toegeritsde wonde

Dit is doeltreffender om wonde met ’n mediese ritssluiter toe te maak as om gewone steke te gebruik, berig die Frankfurter Allgemeine Zeitung. “’n Snykundige verband met ’n ritssluiter kan net soos ’n normale pleister vasgeplak word. Die verband, met sy rye tande, word aan albei kante van die wond geplak en dan toegemaak soos ’n ritssluiter van ’n kledingstuk.” In ’n studie wat by die Universiteitskliniek van Göttingen, Duitsland, gedoen is, is twee groepe pasiënte vergelyk wat operasies gehad het om velgewasse te verwyder. By albei groepe is die weefsel onder die vel op die gewone manier met steke toegewerk. Maar die boonste lae vel van een groep is met mediese ritssluiters toegemaak, terwyl die ander groep se wonde met gewone steke toegewerk is. Die wonde waarop ritssluiters gebruik is, het aansienlik dunner littekens agtergelaat en minder dikwels onooglike littekens veroorsaak.

Miere wat onkruiddoder vervaardig

“Party miere wat swamme as kos kweek, maak ook ’n onkruiddoder om van ’n parasiet ontslae te raak”, berig die Bloomberg-nuusdiens. Swamkwekermiere kan nie die blare en afval verteer wat hulle in hulle nes indra nie. Die verrottende plantmateriaal wat hulle insamel, word in kamers geberg en gebruik om swamtuine te kweek. Maar die swam wat deur die miere geoes word, word deur ’n mikroparasiet aangeval, wat hulle voedselvoorraad kan verminder of kan uitwis. Om die swam te beskerm, kweek die miere ’n bakterie op hulle liggaam. “Wanneer die ongewenste swam [parasiet] verskyn, vryf die swamkwekermiere hulle liggaam daarteen, sodat die onkruiddoder in aanraking daarmee kom”, sê die berig.

Kerkbywoning in Kanada daal nog steeds

“Sekularisme seëvier in Kanada”, het die Frans-Kanadese skrywer Yann Martel in ’n onderhoud met Publishers Weekly gesê. Wat meer is, ’n berig in The New York Times sê dat “kerkbywoning [in Montreal] so vinnig afneem dat ten minste 18 kerke in die afgelope drie jaar hulle deure permanent toegemaak het of in woonstelle en selfs, in een geval, in ’n pizzarestaurant omskep is”. Volgens Marguerite van Die, ’n teologieprofessor aan Queen’s-universiteit in Kingston, Ontario, “is dit ’n gemeenskap waarin godsdiens nie meer kulturele gesag uitoefen nie”.

Weerlig in Venezuela help die osoonlaag

Hoewel 90 persent van die osoon om die aarde deur ultravioletstraling van die son gevorm word, word die ander 10 persent deur elektriese storms vervaardig. En daar is baie elektriese storms in die moerasse van die Catatumbo- Nasionale Park, Zulia-staat, Venezuela. The Daily Journal van Caracas berig dat daar “gedurende 140 tot 160 dae [per jaar] elektriese storms” oor die deltastreek van die Catatumborivier is. Die algemene mening is dat metaan, ’n byproduk van verrottende plantmateriaal en ander stowwe in die omliggende strandmere en moerasse, tesame met lae wolke en slegte weer die weerlig veroorsaak. ’n Ander interessante kenmerk van die weerlig in Catatumbo is dat dit so ver weg is dat ’n mens nie die donderweer kan hoor nie. Dit is volgens Lost World Adventures se webwerf “’n natuurverskynsel wat nêrens anders in die wêreld gevind word nie”.

Die duurste stede

Tokio, Moskou en Osaka is die duurste stede in die wêreld. Dit is die gevolgtrekking van ’n studie deur Mercer Human Resource Consulting. Die opname, wat 144 stede dek, het die vergelykbare koste van meer as 200 produkte en dienste in ag geneem, insluitende behuising, klere, vervoer, vermaak, meubels en huishoudelike artikels. Die helfte van die 20 duurste stede is in Asië. Genève, Londen en Zürich is ná Moskou onder die duurste stede in Europa. New York is tiende op die lys van die duurste stede, terwyl geen Kanadese stad onder die eerste 100 verskyn nie. Wat die goedkoopste stede betref, is Asunción in Paraguay bo-aan die lys.

Tale wat uitsterf

“Die aantal ‘lewende’ tale in die wêreld verdwyn vinniger as die planeet se natuurlewe”, berig ’n studie wat in The Independent van Londen aangehaal is. Taalkenners skat dat daar wêreldwyd 6 809 tale gepraat word, en 90 persent daarvan word deur minder as 100 000 mense gepraat. Daar is 357 tale met minder as 50 sprekers, terwyl 46 net een moedertaalspreker het. Kolonisasie het daartoe gelei dat 52 van die 176 tale van Noord-Amerikaanse stamme en 31 van die 235 inheemse tale van Australië verdwyn het. Volgens professor Bill Sutherland van die Universiteit van Oos-Anglia, Engeland, kan aansienlik meer tale as “baie bedreig”, “bedreig” of “kwesbaar” beskryf word as dit op dieselfde manier geklassifiseer word as bedreigde diere. Hy voeg by: “Die bedreigings vir voëls en soogdiere is welbekend, maar in werklikheid is tale in baie groter gevaar.”

Die oorsaak van verkoue

Baie mense meen dat jy ’n verkoue sal opdoen as jy koud kry. Maar “wetenskaplikes bestee al meer as ’n eeu ’n geweldige hoeveelheid tyd en energie daaraan om hierdie ou opvatting verkeerd te bewys”, berig The New York Times. “Maar ten spyte van hulle pogings dink mense nog steeds dat daar ’n verband tussen verkoues en die weer is en lei dit nog steeds tot meer navorsing.” Sedert die tyd van Louis Pasteur, in 1878, is duisende eksperimente al uitgevoer om vas te stel of daar enige verband tussen die afkoeling van die liggaam en verkoues bestaan. Dit is nie verbasend nie dat navorsers nog onseker oor die antwoord is. Dr. Jack Gwaltney, jr., een van die wêreld se vooraanstaande kenners op die gebied van verkoues, doen aan die hand dat dit vogtigheid eerder as koue is wat verkoues bevorder. Dit kom daarop neer dat “verkoue baie ingewikkeld is—dit is nie net een siekte nie, maar baie soortgelyke siektes, en almal van hulle gaan na gelang van die weer deur siklusse wat nog steeds nie verstaan word nie”, sê die Times.

Sielkundige probleme by die werksplek

“Die redes vir ongeskiktheid by die werksplek is besig om merkbaar te verander van fisiese na sielkundige oorsake”, sê die Kanadese koerant Globe and Mail. Meer as 180 Kanadese maatskappye het aan ’n opname oor die hantering van ongeskiktheid deelgeneem. Die resultate het getoon dat “79 persent van respondente sielkundige toestande as die hoofoorsaak van korttermynongeskiktheid beskou het en 73 persent het gesê dat daardie siektes die grootste oorsaak van langtermynongeskiktheid is”. Party redes wat aan die hand gedoen is vir die toename in spanning, angs en depressie by die werksplek sluit in ouer werkers wat dit moeiliker vind om by te bly, swaarder werkslaste en moderne tegnologie wat werknemers by hulle werk betrokke hou en tot ’n “oneindige werksdag” lei. Volgens dr. Richard Earle, van Toronto se Kanadese Spanningsinstituut, kan werkgewers hulle werkers help “deur bestuurders opleiding te gee oor hoe om sielkundige siektes te identifiseer en te hanteer en deur hulpproggramme en ander dienste vir werknemers te voorsien”.