Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Iets beters as hervorming

Iets beters as hervorming

Iets beters as hervorming

AS ’N boom waardelose vrugte voortbring, sal die probleem nie opgelos word deur ’n paar takke af te kap nie. Die boom moet afgekap en sy wortels uit die grond verwyder word. Dan moet ’n ander boom geplant word, een wat goeie vrugte voortbring.—Matteus 7:16-20.

So ook spreek die hervormers met selfs die edelste doelwitte net die simptome van die kwale in die samelewing aan—korrupsie, ongeregtigheid, verwaarlosing en diefstal. Die grondoorsaak van die probleem lê egter baie dieper. Die hele stelsel moet verander word. Dit is wat die Bybel belowe.

Die Koninkryk van God is ’n hemelse regering wat meer—baie meer—sal doen as om die mensegemeenskap eenvoudig te verander, te vernuwe, te herorganiseer of te hervorm. Onder daardie regering sal menseaangeleenthede op ’n heeltemal nuwe manier bestuur word en die hele mensdom sal onder sy heerskappy verenig word. Hierdie regering sal aandag gee aan onderwys, werk, behuising, voeding, gesondheid en die omgewing.

Psalm 72:12-14 gee ’n profetiese beskrywing van wat die Messiaanse Koning vir die mensdom sal doen: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos.”

Maar voordat die samelewing heeltemal vry van korrupsie, ongeregtigheid en verwaarlosing kan wees, sal nie net die regering nie, maar sekerlik ook die mense moet verander. Gevolglik sal die Koninkryk elke individu persoonlike leiding gee oor hoe om ’n gelukkige, doelgerigte en lonende lewe te lei. Die Bybel belowe dat God se Koninkryk sy aardse onderdane sal help om hulleself te verander. Hoe sal die Koninkryk dit doen?

Die Koninkryk sal sy onderdane in die weë van Jehovah God oplei en hulle sodoende help om geloof en liefde aan te kweek (Jesaja 11:9). Liefde vir God beweeg die hart tot optrede. In die eerste eeu het Jesus byvoorbeeld ’n hoofbelastinggaarder genaamd Saggeus ontmoet wat homself verryk het deur te veel belasting van die volk te hef. Jesus het nie druk op hierdie korrupte amptenaar uitgeoefen om hom te verneder sodat hy sy weë sou verander nie. Jesus het Saggeus eerder gehelp om self te besef dat hy gesondig het en om berou te toon. Saggeus is deur juiste kennis van goddelike beginsels en liefde vir God beweeg. Hy het merkwaardige veranderinge aangebring.—Lukas 19:1-10.

Is dit nie ’n beter oplossing vir die gebreke van die samelewing nie? ’n Volmaakte, regverdige regering om na die mensdom se aangeleenthede om te sien tesame met persoonlike motivering vir elke individu om sy weë te verander. Sal ons dan hervorming nodig hê? Dit sal nie meer nodig wees nie, aangesien God alles nuut sal maak. Die vorige dinge sal iets van die verlede wees.—Openbaring 21:4, 5.

[Prente op bladsy 10]

God se Koninkryk sal, nie hervorming nie, maar ’n algehele verandering bring

[Prent op bladsy 11]

Terwyl Jesus op die aarde was, het hy individue gehelp om persoonlike veranderinge aan te bring