Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Metusalag op die berg

Metusalag op die berg

Metusalag op die berg

IN DIE Witberge in die weste van die Verenigde State, 3 000 meter bo seespieël, groei ’n boom wat vermoedelik die oudste ter wêreld is—’n stekelden wat die Metusalagboom genoem word, ook bekend as die Ou Man. Metusalag, wat volgens skatting meer as 4 700 jaar oud is, is die oudste boom in ’n oeroue bos stekeldenne wat as die Metusalagbos bekend staan. a

Hierdie bome moet strawwe toestande verduur. “Die gemiddelde neerslag per jaar is minder as 30 sentimeter, waarvan die meeste as sneeu val, en dus is daar baie min vog”, sê ’n verslag in die tydskrif New Scientist. “En die bome groei op dolomiet, ’n soort kalksteen wat baie min voedingstowwe bevat.” Daarbenewens “is daar uiterste temperature en sterk winde”.

Maar dit is juis hierdie toestande wat daartoe bydra dat die bome so lank lewe. “Dit is so droog dat selfs virusse en bakterieë dit moeilik vind om aan die lewe te bly. En die hout van die [stekelden] is so dig en harsagtig dat insekplae dit nie kan binnedring nie. Weerlig is ’n gevaar, maar die bome is ver genoeg van mekaar af sodat ’n brand nie versprei nie”, verduidelik New Scientist.

Die bome se groeiseisoen is omtrent 45 dae lank. Hulle spaar hulle beperkte energiereserwes deur baie stadig te groei. In ’n eeu groei hulle net 25 millimeter in omtrek en hulle naalde (blare) hou tot 30 jaar lank. Die hoogste boom is omtrent 18 meter hoog. Navorsers skat dat die oudste denne nog vyf eeue kan lewe.

In onlangse jare het diegene wat die mens se lewensduur wil verleng, gretige belangstelling in die stekelden getoon, in die hoop dat hulle sy geheime sal ontrafel. Die werklike sleutel tot ’n lang lewe is egter baie makliker bekombaar as iets wat hoog op ’n berg in ’n knoetserige ou boom gevind kan word. Die wêreld se oudste boek, die Bybel, sê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Daardie kennis is aan almal beskikbaar. Ondersoek dit gerus self.

[Voetnoot]

a Metusalag, Noag se oupa, het 969 jaar gelewe—langer as enige ander mens wat in die Bybelverslag genoem word.—Genesis 5:27; Lukas 3:36, 37.

[Prent op bladsy 15]

Een van die stekeldenne in die Metusalagbos