Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het ’n oorstroming oorleef!

Hulle het ’n oorstroming oorleef!

Hulle het ’n oorstroming oorleef!

Deur Ontwaak!-medewerker in SWITSERLAND

IN Oktober 2000 is berigte van oorstromings uit verskillende wêrelddele ontvang. Swaar reën het berghange deurdrenk en grondverskuiwings veroorsaak wat allerhande soorte puin en selfs bome meegesleur het!

So ’n ramp het die kanton Wallis in Suid-Switserland getref. Hierdie landstreek word in sy lengte verdeel deur die Rhône, ’n rivier wat van die Rhône-gletser in die Sentrale Alpe weswaarts vloei na die Meer van Genève—’n afstand van ongeveer 170 kilometer. Afloopwater van die bergreekse aan weerskante van die rivier loop deur middel van talle spruite van verskillende groottes in die rivier in. Hierdie afvloeistelsel werk gewoonlik goed. Maar wanneer daar te veel reën oor die hele gebied val, het dit dikwels ’n ramp tot gevolg.

Gondo, op die grens van Italië, is veral swaar getref. Hierdie bergdorp met 150 inwoners is deur ’n grondstorting van modder en klip getref wat ’n groot deel van die dorp verwoes het. Kort voor lank is ander dele van Wallis deur die swaar reën oorstroom. Paaie en spoorlyne was onbegaanbaar, en huise het vol modder en klippe geword. Op party plekke het modderige slyk tot vier meter hoog gelê. ’n Vrou het gekyk hoe ’n modderstorting wat meer as 30 meter hoog was, yslike rotse en staande bome reguit na haar dorp toe meesleur!

Markus en Tabitha, ’n egpaar, het tydens die ramp in Mörel gewoon. “Ons het net ná 6:00 vm. wakker geword van ’n holklinkende slag en ’n skudding”, vertel Markus. “Ek het met ’n flitslig uitgegaan om ondersoek in te stel en was verstom oor wat ek gesien het. Huise en brûe is deur hope rotse beskadig, en ’n motor is teen ’n buurman se huis gegooi. ’n Entjie verder was ’n man en sy vrou in hulle huis vasgekeer. Ek het hulle gehelp om deur ’n venster uit te kom. Nadat ek teruggekeer het huis toe, het ek en Tabitha net genoeg tyd gehad om ’n paar besittings bymekaar te kry.”

Markus en Tabitha is Jehovah se Getuies, en hulle het skuiling gevind by medegelowiges buite die gevaargebied. “Al het ons die oorstroming oorleef”, sê Markus, “was Tabitha nog dae lank in skok.” Wat het haar gehelp om die traumatiese ondervinding te verduur? “Die geselskap en ondersteuning van ons broers en susters in die geloof”, antwoord Tabitha, en sy voeg by: “Ook die belangstelling wat deur baie in ons omgewing getoon is.”

Markus en Tabitha is aan Spreuke 18:24 herinner, wat praat van “’n vriend wat sterker aanhang as ’n broer”. Hoe waardevol is sulke vriende tog tydens ’n ramp!

[Kaart op bladsy 20]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Rampgebied

Gondo

[Prent op bladsy 20]

Markus en Tabitha

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Mise à disposition par www.crealp.ch