Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Kykie na laktoseonverdraagsaamheid

’n Kykie na laktoseonverdraagsaamheid

’n Kykie na laktoseonverdraagsaamheid

DIT is amper ’n uur nadat jy aan jou geliefkoosde roomys of kaas gesmul het. Jou maag voel gespanne en seer, en jy is vol winde. Jy probeer weer eens verligting kry deur medisyne te drink wat jy byderhand begin hou het. Jy het nou die punt bereik waar jy jou afvra: ‘Waarom is my maag so gevoelig?’

As jy naar is, krampe het, opgeblaas voel, vol winde is of diarree kry nadat jy melk gedrink of suiwelprodukte geëet het, ly jy dalk aan laktoseonverdraagsaamheid. Laktoseonverdraagsaamheid is ’n algemene reaksie op suiwelprodukte. Die Nasionale Instituut vir Diabetes en Spysvertering- en Niersiektes sê dat “tussen 30 en 50 miljoen Amerikaners aan laktoseonverdraagsaamheid ly”. Volgens The Sensitive Gut, ’n boek wat deur die Mediese Fakulteit van die Harvard-universiteit uitgegee is, word daar geskat dat “tot 70 persent van die wêreldbevolking ’n probleem met laktose het”. Maar wat is laktoseonverdraagsaamheid?

Laktose is die suiker wat in melk voorkom. Die dunderm vervaardig ’n ensiem wat laktase genoem word. Dit breek laktose af tot twee eenvoudiger suikers wat glukose en galaktose genoem word. Sodoende kan die glukose in die bloedstroom opgeneem word. As daar nie genoeg laktase is om hierdie werk te doen nie, gaan die onafgebreekte laktose tot in die dikderm en begin dit gis, wat sure en gasse voortbring.

Hierdie toestand, wat laktoseonverdraagsaamheid genoem word, het party of al die bogenoemde simptome tot gevolg. Gedurende die eerste twee lewensjare word groot hoeveelhede laktase vervaardig, en daarna neem die vervaardiging daarvan geleidelik af. Gevolglik kan hierdie toestand by baie mense ontwikkel sonder dat hulle dit besef.

Is dit ’n allergie?

Weens hulle liggaam se reaksie op suiwelprodukte meen party dat hulle allergies vir melk is. Wat is dit dan, ’n allergie a of onverdraagsaamheid? Volgens party allergiedeskundiges is ware voedselallergieë seldsaam, aangesien net 1 tot 2 persent van die algemene bevolking dit het. Onder kinders is hierdie syfer hoër maar nogtans minder as 8 persent. Hoewel die simptome van ’n allergie en van laktoseonverdraagsaamheid soortgelyk kan wees, is daar verskille.

Die simptome van ’n voedselallergie kom voor wanneer die immuunstelsel die liggaam verdedig—met histamien—teen iets wat ’n mens geëet of gedrink het. Party simptome is swelling van die lippe of tong, ’n veluitslag of asma. Laktoseonverdraagsaamheid sal nie hierdie simptome veroorsaak nie, want dit het niks met die immuunstelsel te doen nie. Laktoseonverdraagsaamheid het te doen met die liggaam se onvermoë om ’n voedselsoort behoorlik op te neem, wat dan ’n reaksie tot gevolg het.

Wat kan jou help om tussen die twee te onderskei? Die boek The Sensitive Gut antwoord: “Werklike allergiese reaksies . . . vind plaas binne minute nadat iemand iets geëet het waarvoor hy allergies is. Simptome wat meer as ’n uur later voorkom, dui heel waarskynlik op onverdraagsaamheid.”

Die uitwerking op babas

Wanneer melk ’n reaksie by ’n baba of ’n jong kind veroorsaak, kan dit vir die kind sowel as die ouers ontstellend wees. As ’n kind diarree kry, kan dit tot ontwatering lei. Dit sal dalk verstandig wees as die ouers ’n kinderarts raadpleeg. Wanneer onverdraagsaamheid gediagnoseer word, beveel party dokters aan dat ’n aanvulling in die plek van melk gebruik word. Dit het vir baie verligting van die ontstellende simptome gebring.

In die geval van ’n allergie is daar meer om oor bekommerd te wees. Party dokters gee ’n antihistamien hiervoor. Maar as die asemhaling belemmer word, sal ’n dokter meer moet doen om die situasie te verlig. In seldsame gevalle kan daar ’n toestand voorkom wat anafilaksie genoem word en dodelik kan wees.

As ’n baba begin opgooi, is nog ’n bekommernis ’n seldsame toestand wat galaktosemie genoem word. Soos vroeër gemeld is, word die galaktose deur laktase geïsoleer, maar die galaktose moet in glukose omgesit word. As galaktose opbou, kan dit ernstige lewerskade, niermisvorming, verstandelike vertraging, bloedsuikertekort en selfs katarakte tot gevolg hê. Gevolglik is dit noodsaaklik dat laktose so vroeg moontlik en geheel en al uit die baba se dieet uitgeskakel word.

Hoe ernstig is laktoseonverdraagsaamheid?

’n Jong vrou het gedurig met winderigheid en maagkrampe gesukkel. Haar toestand het so ernstig geword dat sy dokter toe gegaan het. Ná ’n reeks toetse is sy met inflammatoriese dikdermsiekte (IBD) gediagnoseer. b Medisyne is voorgeskryf om hierdie siekte onder beheer te hou. Maar sy het aangehou om elke dag suiwelprodukte in te neem, en gevolglik het sy nog steeds die simptome gehad. Nadat sy self navorsing gedoen het, het sy besef dat haar dieet moontlik die probleem veroorsaak, en daarom het sy stelselmatig sekere voedselsoorte begin vermy. Toe sy uiteindelik suiwelprodukte uitgeskakel het, het haar simptome begin verdwyn! Binne ’n jaar—en nadat sy meer toetse ondergaan het—het haar dokter vir haar gesê dat sy nie IBD het nie. Sy het aan laktoseonverdraagsaamheid gely. Jy kan jou voorstel hoe verlig sy was!

Daar is tans geen behandeling wat die vervaardiging van laktase in die menseliggaam kan stimuleer nie. Daar is egter gevind dat laktoseonverdraagsaamheid nie lewensgevaarlik is nie. Wat kan jy dus doen om die simptome van laktoseonverdraagsaamheid te verlig?

Party het deur eksperimentering uitgevind hoeveel suiwelprodukte hulle kan inneem. As jy let op hoeveel suiwelprodukte jy inneem en hoe jou liggaam daarop reageer, kan jy vasstel hoeveel jy kan verteer.

Party het besluit om suiwelprodukte heeltemal te vermy. Deur self navorsing te doen of ’n dieetkundige te raadpleeg, het sommige ander maniere gevind om in hulle kalsiumbehoeftes te voorsien. Sekere groen groentes en party soorte vis en neute is ryk aan kalsium.

Vir diegene wat wil aanhou om suiwelprodukte te geniet, is daar middels op die mark in die vorm van tablette of vloeistof wat kan help. Hierdie produkte bevat laktase om die ingewande te help om laktose af te breek. As ’n mens dit neem, kan dit jou help om die simptome van laktoseonverdraagsaamheid te voorkom.

In vandag se wêreld is dit ’n uitdaging om na ons gesondheid om te sien. Maar danksy mediese navorsing en ons liggaam se herstelvermoë kan ons met hierdie toestand saamleef totdat die tyd aanbreek wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24; Psalm 139:14.

[Voetnote]

a Ook oorgevoeligheid genoem.

b Daar is twee soorte IBD—Crohn se siekte en verswerende dikdermontsteking. Hierdie siektes is baie ernstig en kan daartoe lei dat ’n deel van die ingewande verwyder moet word. Komplikasies van IBD kan dodelik wees.

[Venster/Prente op bladsye 26]

DIE VOLGENDE KAN OOK LAKTOSE BEVAT:

◼ Brood en broodprodukte

◼ Koeke en koekies

◼ Lekkers

◼ Kitsaartappel

◼ Margarien

◼ Baie voorskrifmedisyne

◼ Toonbankmedisyne

◼ Mengsels vir pannekoeke, beskuitjies en koekies

◼ Verwerkte ontbytgraan

◼ Slaaisous

◼ Koue vleis

◼ Sop