Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Pornografie Dankie vir die reeks “Pornografie—Skadelik of onskadelik?” (22 Julie 2003). Ek het hierdie reguit raad nodig gehad. Ek het ’n Christen geword lank nadat ek my aan pornografie blootgestel het. Die artikels het my gehelp om duideliker as ooit tevore te sien hoe skadelik dit is en watter daadwerklike stappe nodig is om los te breek van die kragtige aantrekkingskrag wat dit het.

E. P., Verenigde State

My gelukkige huwelik van 22 jaar het twee jaar gelede in ’n egskeiding geëindig. Pornografie het ’n wonderlike eggenoot en liefdevolle vader letterlik van ons af weggeneem. Hierdie aaklige verslawing het sy liefdevolle en saggeaarde persoonlikheid verander en hom ’n kwaai, oneerlike en dierlike persoon gemaak. As ’n slagoffer van pornografie het ek eers baie alleen gevoel, maar nou besef ek dat dit ’n krisis is wat baie mense raak. Dankie vir hierdie uitstekende reeks.

L. T., Verenigde State

Voordat ek die Bybel begin studeer het, was ek meer as ’n dekade lank aan pornografie verslaaf. Ongeag wat die voorstanders daarvan beweer, is daar beslis niks positiefs daaromtrent nie. Voordat ek een van Jehovah se Getuies geword het, was ek aan byna al die bekende dwelms verslaaf. Van al my verslawings was pornografie verreweg die moeilikste om van los te breek. Hou asseblief aan om sulke artikels te druk.

J. A., Verenigde State

Jongmense vra Ek bedank julle uit die diepte van my hart vir die artikel “Jongmense vra . . . Waarom voel ek dat ek volmaak moet wees?” (22 Julie 2003). Ek is ’n 25-jarige voltydse bedienaar. Ek vergelyk my al van kleins af met my broer en suster, wat onderskeidelik drie en vier jaar ouer is as ek. Ek het met ’n minderwaardigheidskompleks geworstel en gedink dat ek niks werd is nie. Om hierdie gevoelens die hoof te bied, het ek na volmaaktheid gestreef. Hierdie artikel het beskryf presies hoe ek voel. Ek wil my denkwyse verander.

M. J., Japan

Ek is 16 jaar oud en is onlangs met depressie gediagnoseer. Ek het altyd dinge volmaak probeer doen en verwyt my dikwels omdat ek ’n mislukking is. Hierdie artikel het net op die regte tyd gekom. Ek kon nie ophou huil terwyl ek dit gelees het nie. Ek het nooit besef dat baie ander met dieselfde gevoelens worstel nie. Dankie vir die “Jongmense vra”-reeks. Ek sien uit na die volgende artikel.

L. S., Verenigde State

Sebramossels Ek is 12 jaar oud, en ek het die artikel “Lastige watersuiweraars” (22 Julie 2003) regtig geniet. Dit was vir my interessant dat ’n wyfie 500- 000 eiers in ’n jaar kan voortbring en dat daar in net een vierkante meter tot 700 000 mossels kan wees. Ons moet respek hê vir die see, want dit is waar sebramossels en ander diertjies bly. Só toon ons ook respek vir Jehovah God. Hou asseblief aan om sulke interessante artikels te skryf!

E. T., Italië

Ouer nommers My volwasse dogter is onlangs met Parkinson se siekte gediagnoseer. Ek het ’n artikel oor hierdie siekte in die Ontwaak! van 8 Januarie 1988 gelees. Ons hele gesin het die artikel al ’n paar keer saam met my dogter deurgelees. Dit het ons gehelp om ons situasie kalm te benader. Al is hierdie artikel meer as 15 jaar oud, het ons baie daarby baat gevind. Soms bespreek die Ontwaak! siektes waarvan ons nog nooit gehoor het nie, en hierdie artikels moet ’n geweldige aanmoediging wees vir diegene wat deur sulke siektes geteister word. My opregte dank aan julle vir die werk wat julle doen.

E. M., Japan