Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Suikers van die lewe

Suikers van die lewe

Suikers van die lewe

SUIKER—jy gebruik dit heel waarskynlik om enigiets van koeke tot koffie te versoet. Maar het jy geweet dat suiker ’n omwenteling in die biologie kan teweegbring wat so net so groot soos dié weens die ontdekking van DNS kan wees?

In onlangse tye het wetenskaplikes ’n studie gemaak van die manier waarop selle eenvoudige suikers soos glukose gebruik om reusemolekules te bou “wat in grootte en kompleksiteit met DNS en proteïene meeding”, sê die tydskrif New Scientist. “Suikers is by omtrent elke aspek van die biologie betrokke, van die herkenning van patogene tot bloedstolling, tot die vermoë van spermselle om ’n eiersel binne te dring.” Terselfdertyd is gebreke in hulle samestelling verbind met ’n toenemende aantal siektes, soos spierdistrofie en gewrigsrumatiek. “Bioloë begin hierdie suikers nou eers werklik verstaan”, sê die berig, “maar namate hulle meer leer, vind hulle dat hulle lank gehuldigde idees oor die ingewikkelde werking van die lewe moet heroorweeg.”

Wetenskaplikes het die woord “glikoom” geskep om na die volledige stel suikers te verwys wat deur ’n sel of ’n organisme vervaardig word, net soos die woord “genoom” die hele stel gene insluit. Maar ’n sel se glikoom is “waarskynlik derduisende kere komplekser as die genoom”, sê Ajit Varki, hoof van die Glikobiologiese Navorsing- en Opleidingsentrum by die Universiteit van Kalifornië, San Diego, VSA. Waarom is die glikoom so kompleks?

In die selle verbind eenvoudige suikers—monosakkariede—om polisakkariede te vorm. Dit word dan saamgevoeg tot reusemolekules wat uit meer as 200 eenhede eenvoudige suikers kan bestaan. As gevolg van die driedimensionele samestelling van hierdie suikers, wat belangrik is in hulle werking, “kan ’n suiker wat uit net ses eenhede bestaan, ’n ongelooflike 12 miljard kombinasies hê”, sê New Scientist.

Varki het die groot uitdagings beskryf waarvoor navorsers op hierdie nuwe gebied, wat glikobiologie genoem word, te staan kom en het gesê: “Dit is asof ons so pas die vasteland Noord-Amerika ontdek het. Nou moet ons verkenners uitstuur om uit te vind hoe groot dit is.”

Dit is duidelik dat die komplekse meganismes van die lewende sel bewys lewer van die uitnemendste intelligensie. Hierdie feit wek by baie ’n gevoel van eerbiedige ontsag. Is dit hoe jy voel?—Openbaring 4:11.