Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is dit moontlik om slegte gewoontes te bowe te kom?

Is dit moontlik om slegte gewoontes te bowe te kom?

Die Bybel se beskouing

Is dit moontlik om slegte gewoontes te bowe te kom?

DIE skrywer Mark Twain het eenkeer geskerts: “Om op te hou rook, is die maklikste ding ter wêreld. Ek weet, want ek het dit al duisende kere gedoen.” Baie mense kan hulle ongetwyfeld met Twain se opmerking vereenselwig. Terwyl hulle dalk ten volle besef dat sekere gewoontes sedelik verkeerd en selfs skadelik is, weet hulle ook dat dit heeltemal ’n ander saak is om dit te weerstaan en te bowe te kom. Gewoontes kan met die jare diep wortelskiet en kan baie moeilik wees om te verander. Dit kan uitputtend en selfs pynlik wees om sulke begeertes te probeer beteuel.

Dr. Anthony Daniels, ’n dokter wat by ’n tronk werk, sê dat misdadigers dikwels beweer dat hulle hopeloos verslaaf is aan hulle obsessies en verderflike begeertes. Wanneer ’n mens aan iets verslaaf is, redeneer hulle, “is hy in die greep van ’n verskriklike drang, wat hy glad nie kan weerstaan nie”. As hierdie redenasie reg was, sou ons nouliks verantwoordelik gehou kon word as ons aan ons drange toegee. Maar is dit waar dat ons hulpelose slagoffers van ons innerlike drange en begeertes is? Of kan slegte gewoontes werklik te bowe gekom word? Kom ons kry ’n gesaghebbende antwoord deur te kyk wat die Bybel sê.

Begeertes teenoor dade

Die Bybel stel dit duidelik dat God ons aanspreeklik hou vir ons dade (Romeine 14:12). Hy vereis ook dat ons aan sy regverdige standaarde voldoen (1 Petrus 1:15). As ons Skepper weet hy wat die beste vir ons is, en sy beginsels veroordeel baie van die gewoontes wat in hierdie wêreld algemeen is (1 Korintiërs 6:9, 10; Galasiërs 5:19-21). Maar hy is ook realisties en medelydend in wat hy van onvolmaakte mense verwag.—Psalm 78:38; 103:13, 14.

Die psalmis het dus geskryf: “As u op oortredings ag gegee het, o Jah, O Jehovah, wie sou kon bly staan?” (Psalm 130:3). Ja, Jehovah weet alte goed dat ‘die neiging van die mens se hart sleg is van sy jeug af’ (Genesis 8:21). Ons genetiese erfenis, aangebore swakhede en vorige ondervindinge maak dit vir ons onmoontlik om alle slegte gedagtes en begeertes te vermy. Daarom verwag Jehovah uit liefde nie volmaaktheid van ons nie.—Deuteronomium 10:12; 1 Johannes 5:3.

Hierdie bedagsaamheid van God onthef ons egter nie van ons verantwoordelikheid om slegte begeertes te beheer nie. Hoewel die apostel Paulus erken het dat hy ’n stryd teen slegte begeertes voer, het hy nie moed opgegee nie (Romeine 7:21-24). “Ek kasty my liggaam”, het hy gesê, “en lei dit as ’n slaaf.” Met watter doel? “Sodat ek . . . nie self op die een of ander wyse afgekeur sou word nie” (1 Korintiërs 9:27). Ja, selfbeheersing is noodsaaklik as ’n mens verkeerde neigings en gewoontes wil bestry en uiteindelik te bowe wil kom.

’n Mens kán verander

Gedragswetenskaplikes sê dat slegte gewoontes, net soos goeies, met verloop van tyd aangeleer en ontwikkel word. As dit waar is, kán slegte gewoontes beslis afgeleer word! Hoe? “Dink aan die voordele wat dit sal inhou as jy met die ou gewoonte breek”, sê die skrywers van ’n boek oor hoe om spanning te beheer. “Maak [dan] ’n lys van hoe dit jou lewe kan verbeter as jy jou gedrag verander.” Ja, wanneer ons ons toespits op die voordele wat dit sal inhou as ons ons negatiewe gedrag verander, kan dit ons aanspoor om veranderinge aan te bring.

Dink aan die apostel Paulus se vermaning dat ons ‘vernuwe moet word in die krag wat ons verstand aandryf’ (Efesiërs 4:22, 23). Hierdie krag is ons oorheersende geestesneiging. Jy verander hierdie krag deur nader aan God te kom en waardering vir sy standaarde op te bou. Die wete dat jy Jehovah behaag, help om jou aan te spoor om die nodige veranderinge aan te bring.—Psalm 69:30-33; Spreuke 27:11; Kolossense 1:9, 10.

Dit sal natuurlik moeilik wees om ontslae te raak van slegte gewoontes wat al jare lank ons lewe oorheers. Ons moenie die stryd wat vir ons voorlê, onderskat nie. Daar sal beslis terugslae en mislukkings wees. Maar jy kan seker wees dat dinge gewoonlik met verloop van tyd makliker word. Hoe meer jy jou daarop toelê, hoe meer sal jou nuwe gedrag ’n deel van jou word.

Iemand wat God liefhet, kan ook verseker wees van sy hulp en seën. “God is getrou,” belowe Paulus, “en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar . . . hy [sal] ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Korintiërs 10:13). Binnekort gaan Jehovah God hierdie goddelose stelsel van dinge met al sy verderflike versoekings, begeertes en drange vernietig (2 Petrus 3:9-13; 1 Johannes 2:16, 17). Alle onvolmaakte mense wat hierdie gebeurtenis oorleef, kan mettertyd ten volle en vir ewig genees word van alle ellendes—fisies, verstandelik en emosioneel. “Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie”, belowe God (Jesaja 65:17). Onder hierdie “vorige dinge” sal daar ongetwyfeld hunkeringe en begeertes wees wat moeilik is om te bowe te kom. Is dit nie ’n goeie rede waarom ons vandag ons uiterste bes moet doen om slegte gewoontes te weerstaan en te bestry nie?

[Venster/Prente op bladsy 21]

HOE OM SLEGTE GEWOONTES AF TE LÊ

1. Identifiseer en erken slegte gewoontes. Vra jou af: ‘Is hierdie gewoonte werklik vir my voordelig? Irriteer dit ander? Benadeel dit my gesondheid, finansies, welsyn, gesin of gemoedsrus? Hoeveel beter af sal ek daarsonder wees?’

2. Vervang die slegte gewoonte met iets positiefs. Bestee jy byvoorbeeld te veel tyd aan die Internet en kyk jy dalk na skadelike materiaal? Gebruik dan daardie tyd om opbouende stof te lees, te studeer of oefening te doen.

3. Monitor jou vordering. Dink elke dag ’n paar minute na oor jou vordering. As jy terugval, moet jy vasstel watter omstandighede tot die probleem aanleiding gegee het.

4. Vra ander om jou te help. Vertel vriende en gesinslede dat jy hierdie gewoonte probeer aflê en vra hulle om jou daaraan te herinner wanneer dit lyk asof jy weer daarin verval. Praat met ander wat dit reggekry het om dieselfde gewoonte te bowe te kom.—Spreuke 11:14.

5. Wees gebalanseerd en realisties. Moenie onmiddellik sukses verwag nie. Party gewoontes wat jare geneem het om te ontwikkel, sal moontlik moeilik wees om af te leer.

6. Bid tot God. Met God se hulp kan jy enige slegte gewoonte te bowe kom.—Psalm 55:22; Lukas 18:27.