Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom het ons hoop nodig?

Waarom het ons hoop nodig?

Waarom het ons hoop nodig?

GESTEL Daniel, die jong kankerlyer wat aan die begin van die vorige artikel genoem is, het hoopvol gebly. Sou hy sy stryd teen kanker gewen het? Sou hy vandag nog gelewe het? Selfs die grootste voorstanders van hoop sal waarskynlik nie so ver gaan om sulke bewerings te maak nie. En dit is ’n belangrike punt. Hoop moenie oorskat word nie. Dit is nie ’n wondermiddel, oftewel ’n geneesal, nie.

In ’n onderhoud met CBS News het dr. Nathan Cherney gewaarsku teen die gevaar om die krag van hoop te oordryf wanneer ’n mens met pasiënte te doen het wat ernstig siek is: “Ons het gevalle gehad waar mans met hulle vroue geraas het omdat hulle nie genoeg mediteer nie, omdat hulle nie positief genoeg dink nie.” Dr. Cherney het bygevoeg: “Hierdie hele denkrigting het die illusie geskep dat ’n mens beheer oor jou siekte het, en wanneer mense nie gesond word nie, is dit asof party dink dat hulle nie daarin geslaag het om hulle gewas goed genoeg te beheer nie, en dit is nie regverdig nie.”

Diegene wat met ’n terminale siekte worstel, is in werklikheid in ’n uitputtende, intense stryd gewikkel. Die laaste ding wat hulle geliefdes sekerlik wil doen, is om ook nog skuldgevoelens by hulle swaar las te voeg. Moet ons dan hieruit aflei dat hoop geen waarde het nie?

Hoegenaamd nie. Dieselfde dokter spesialiseer byvoorbeeld in palliatiewe sorg—dit wil sê vorme van behandeling wat nie regstreeks daarop gerig is om ’n siekte te beveg of selfs die lewe te verleng nie, maar eerder op maniere om die pasiënt se lewe geriefliker en aangenamer te maak solank die stryd voortduur. Sulke dokters glo vas in die waarde van behandeling wat tot ’n gelukkiger gemoedstoestand lei, selfs onder diegene wat baie siek is. Daar is baie bewyse wat toon dat hoop dít—en meer—kan doen.

Die waarde van hoop

“Hoop is kragtige terapie”, sê die mediese joernalis dr. W. Gifford-Jones. Hy het verskillende studies hersien wat gedoen is om die waarde van emosionele ondersteuning aan terminale pasiënte te bepaal. Hierdie soort ondersteuning help mense blykbaar om meer hoopvol en positief te bly. In een studie wat in 1989 gedoen is, is bevind dat pasiënte wat sulke ondersteuning ontvang het, langer gelewe het, maar onlangse navorsing het nie sulke definitiewe resultate opgelewer nie. Studies het egter bevestig dat pasiënte wat emosionele ondersteuning ontvang, minder depressie en pyn ondervind as dié wat dit nie ontvang nie.

Beskou ’n ander studie oor die rol wat optimisme en pessimisme in koronêre hartsiekte (KHS) speel. ’n Groep van meer as 1 300 mans is noukeurig geëvalueer om te bepaal of hulle ’n optimistiese of ’n pessimistiese lewensuitkyk het. Volgens ’n verdere studie tien jaar later het meer as 12 persent van hierdie mans aan die een of ander vorm van KHS gely. Onder hulle was daar byna twee keer soveel pessimiste as optimiste. Laura Kubzansky, ’n assistentprofessor van gesondheid en sosiale gedrag by die Harvard-universiteit se Fakulteit van Openbare Gesondheid, sê: “Tot dusver was die meeste van die bewyse vir die opvatting dat ‘positiewe denke’ goed is vir jou gesondheid, op ongestaafde verslae gegrond—hierdie studie voorsien van die eerste konkrete mediese bewyse vir hierdie opvatting op die gebied van hartsiekte.”

In party studies is bevind dat mense wat hulle eie gesondheid as swak beskryf, ná ’n operasie eintlik stadiger herstel as diegene wat hulle gesondheid as uitstekend beskryf. Selfs langlewendheid is al met optimisme verbind. Een studie het probeer vasstel hoe bejaardes deur positiewe en negatiewe beskouings van veroudering geraak word. Wanneer bejaardes blootgestel is aan kort boodskappe wat die verouderingsproses met groter wysheid en ondervinding verbind het, is daar bevind dat hulle daarna met meer krag en energie geloop het. Trouens, die verbetering was gelykstaande aan die resultate van ’n 12 weke lange oefenprogram!

Waarom lyk dit of emosies soos hoop en optimisme tesame met ’n positiewe uitkyk voordelig is vir ’n mens se gesondheid? Miskien verstaan wetenskaplikes en dokters nog nie die mens se verstand en liggaam goed genoeg om definitiewe antwoorde te gee nie. Deskundiges wat die onderwerp bestudeer, kan nietemin ingeligte raaiskote waag. Een neurologieprofessor sê byvoorbeeld: “Dit voel goed om gelukkig en hoopvol te wees. Dit is ’n aangename toestand wat baie min spanning veroorsaak, en die liggaam floreer onder sulke toestande. Dit is nog iets wat mense vir hulleself kan doen om gesond te probeer bly.”

Vir party dokters, sielkundiges en wetenskaplikes is dit dalk ’n heeltemal nuwe gedagte, maar vir studente van die Bybel is dit niks nuuts nie. Byna 3 000 jaar gelede is die wyse koning Salomo geïnspireer om hierdie gedagte op skrif te stel: “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel, maar ’n verslae gees droog die gebeente uit” (Spreuke 17:22). Let op hoe gebalanseerd hierdie woorde is. Hierdie vers sê nie dat ’n vreugdevolle hart enige kwaal sal genees nie, maar bloot dat dit “’n goeie geneesmiddel” is.

Trouens, dit is moontlik redelik om te vra: As hoop ’n geneesmiddel was, watter dokter sou dit nie voorskryf nie? Daarbenewens bied hoop voordele wat baie verder as goeie gesondheid strek.

Optimisme, pessimisme en jou lewe

Navorsers het gevind dat optimiste se positiewe uitkyk baie voordele vir hulle inhou. Hulle presteer gewoonlik beter op skool, by die werk en selfs op die sportveld. ’n Studie is byvoorbeeld van ’n vroueatletiekspan gemaak. Die afrigters het die vroue se suiwer atletiese vermoëns deeglik geëvalueer. Terselfdertyd is ’n opname onder die vroue self gedoen, en hulle vlak van hoop is noukeurig bepaal. Die resultate het getoon dat die vroue se vlak van hoop ’n baie juister aanduiding was van hoe hulle sou presteer as al die statistieke wat deur hulle afrigters ontleed is. Waarom het hoop so ’n kragtige invloed?

Mense het al baie geleer deur die teenoorgestelde van optimisme—pessimisme—te bestudeer. Gedurende die 1960’s het eksperimente ’n onverwagse bevinding omtrent dieregedrag opgelewer, wat daartoe gelei het dat navorsers die uitdrukking “aangeleerde hulpeloosheid” geskep het. Hulle het gevind dat mense ook aan ’n vorm van hierdie sindroom kan ly. Menslike proefkonyne is byvoorbeeld aan ’n onaangename geraas blootgestel en is toe vertel dat hulle kon leer om dit te laat ophou deur ’n reeks knoppies in die regte volgorde te druk. Hulle het daarin geslaag om die geraas te laat ophou.

’n Tweede groep het dieselfde instruksies ontvang—maar niks het gebeur wanneer hulle die knoppies gedruk het nie. Soos jy jou kan voorstel, het baie in daardie tweede groep gevoelens van hulpeloosheid ontwikkel. In latere toetse het hulle gehuiwer om enigiets te probeer doen. Hulle was oortuig dat niks wat hulle doen enige verskil sou maak nie. Maar selfs in daardie tweede groep het die optimiste geweier om voor sulke gevoelens van hulpeloosheid te swig.

Dr. Martin Seligman, wat met die voorbereiding van daardie vroeë eksperimente gehelp het, is beweeg om sy loopbaan aan die studie van optimisme en pessimisme te wy. Hy het ondersoek ingestel na die soort denke wat deur mense geopenbaar word wat geneig is om hulleself as hulpeloos te beskou. Sulke pessimistiese denke, was sy gevolgtrekking, kortwiek mense op baie lewensterreine of het selfs ’n verlammende uitwerking op hulle. Seligman som pessimistiese denke en die uitwerking daarvan so op: “Ná vyf-en-twintig jaar se navorsing is ek oortuig dat as ons, soos die pessimis, uit gewoonte dink dat teëspoed ons eie skuld is, dat dit blywend is en alles sal ondermyn wat ons doen, ons ons meer teëspoed op die hals sal haal as wanneer ons nie so dink nie.”

Sulke gevolgtrekkings is miskien vandag ook iets nuuts vir party mense, maar vir studente van die Bybel klink dit bekend. Let op hierdie spreuk: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 24:10). Ja, die Bybel toon duidelik dat ontmoediging, met die negatiewe gedagtes wat daarmee gepaardgaan, jou van die krag sal beroof om positief op te tree. Maar wat kan jy doen om teen pessimisme te stry en ’n meer optimistiese en hoopvolle uitkyk op die lewe te kry?

[Prent op bladsy 4, 5]

Hoop kan jou baie goed doen