Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan teen pessimisme stry

Jy kan teen pessimisme stry

Jy kan teen pessimisme stry

HOE beskou jy die terugslae wat jy ondervind? Baie deskundiges meen nou dat die antwoord op daardie vraag baie verraai omtrent of jy ’n optimis of ’n pessimis is. Ons kom almal voor swaar beproewinge in die lewe te staan, party van ons meer as ander. Maar waarom lyk dit of party mense maklik van teëspoed herstel, reg om weer te probeer, terwyl dit lyk of ander ná selfs betreklike klein probleme moed opgee?

Stel jou byvoorbeeld voor dat jy werk soek. Jy gaan vir ’n onderhoud, maar jy word nie in diens geneem nie. Hoe voel jy ná die tyd daaroor? Jy kan dit as ’n persoonlike belediging sien en as ’n permanente probleem beskou terwyl jy vir jouself sê: ‘Niemand sal iemand soos ek in diens neem nie. Ek sal nooit werk kry nie.’ Of, nog erger, jy kan toelaat dat hierdie enkele terugslag ’n negatiewe uitwerking het op jou beskouing van elke aspek van jou lewe deur te dink: ‘Ek is ’n volslae mislukking. Ek is vir niemand iets werd nie.’ In elke situasie is sulke denke die toppunt van pessimisme.

Hoe om teen pessimisme te stry

Hoe kan jy teen pessimisme stry? ’n Noodsaaklike eerste stap is om te leer om sulke negatiewe gedagtes te identifiseer. Die volgende stap is om daarteen te stry. Soek na redelike alternatiewe verduidelikings. Byvoorbeeld, is dit werklik so dat jou aansoek van die hand gewys is omdat niemand jou in diens wil neem nie? Of is dit moontlik dat die werkgewer eenvoudig na iemand met ander kwalifikasies gesoek het?

Konsentreer op spesifieke feite om duidelik te toon watter van daardie pessimistiese gedagtes oorreaksies is. Beteken die feit dat jy in een situasie onsuksesvol was werklik dat jy ’n volslae mislukking is, of kan jy aan ander aspekte van jou lewe—soos geestelike strewes, gesinsverhoudings of vriendskappe—dink waarin jy ’n mate van sukses behaal? Leer om jou negatiewer voorspellings as blote “oordrywings” te verwerp. Trouens, hoe kan jy werklik weet dat jy nooit ’n werk sal vind nie? Daar is ook ander dinge wat jy kan doen om negatiewe denke te verdryf.

Positiewe, doelgerigte denke

In onlangse jare het navorsers ’n interessante, hoewel ietwat beperkte, definisie van hoop ontwikkel. Volgens hulle verwys hoop na die oortuiging dat jy jou doelwitte sal kan bereik. Soos die volgende artikel sal toon, behels hoop eintlik baie meer, maar hierdie definisie is in verskeie opsigte nuttig. As ons ons aandag op hierdie aspek van persoonlike hoop toespits, kan dit ons help om positiewer, meer doelgerigte denke te ontwikkel.

Om onsself te oortuig dat ons ons doelwitte vir die toekoms kan bereik, moet ons begin om boek te hou van die doelwitte wat ons gestel en bereik het. As jy nie aan enige doelwitte kan dink wat jy bereik het nie, sal dit dalk die moeite werd wees om ernstig na te dink oor die doelwitte wat jy vir jouself stel. Eerstens, het jy enige doelwitte? Dit is maar alte maklik om vasgevang te raak in die roetine en gejaagdheid van die lewe en nooit stil te staan en na te dink oor wat ons werklik uit die lewe wil hê, wat vir ons die belangrikste is nie. Aangaande hierdie praktiese beginsel dat ’n mens duidelike prioriteite moet stel, vind ons weer eens dat die Bybel dit al lank gelede goed uitgedruk het: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’—Filippense 1:10.

Wanneer ons eers ons prioriteite gestel het, word dit makliker om op ’n paar sleuteldoelwitte op verskillende gebiede te besluit, soos in ons geestelike lewe, ons gesinslewe of ons sekulêre lewe. Dit is egter belangrik dat ons aan die begin nie te veel doelwitte stel nie en dat elke doelwit iets is wat ons weet ons maklik kan bereik. As ’n doelwit te moeilik is om te bereik, kan dit ons ontmoedig en sal ons dalk tou opgooi. Dit is dus dikwels die beste om groter, langtermyndoelwitte in kleiner, kortermyndoelwitte op te breek.

“Waar ’n wil is, is ’n weg.” So lui ’n ou spreekwoord, en dit lyk asof daar ’n mate van waarheid daarin steek. Wanneer ons eers sleuteldoelwitte in gedagte het, het ons die wilskrag—die begeerte en die vasbeslotenheid—nodig om daarna te streef sodat ons dit kan bereik. Ons kan daardie vasbeslotenheid versterk deur na te dink oor die waarde van ons doelwitte en die belonings wat ons sal ontvang as ons dit bereik. Daar sal natuurlik struikelblokke wees, maar ons moet dit as uitdagings beskou en nie as onoorkombare hindernisse nie.

Ons moet egter ook aan praktiese maniere dink om ons doelwitte te bereik. Die skrywer C. R. Snyder, wat ’n omvattende studie van die waarde van hoop gemaak het, stel voor dat ’n mens aan verskillende maniere dink om ’n gegewe doelwit te bereik. Wanneer een nie uitwerk nie, kan ons dus ’n tweede of ’n derde manier probeer, ensovoorts.

Snyder beveel ook aan dat ’n mens leer wanneer om ’n doelwit met ’n ander een te vervang. As ons werklik nie ’n doelwit kan bereik nie, sal dit ons net ontmoedig as ons onsself daaroor verknies. Maar as ons dit met ’n realistieser doelwit vervang, sal dit ons iets anders gee om ons hoop op te vestig.

Die Bybel bevat ’n insiggewende voorbeeld in hierdie verband. Koning Dawid het die doelwit gekoester om ’n tempel vir sy God, Jehovah, te bou. God het egter vir Dawid gesê dat sy seun Salomo hierdie voorreg sou kry. Dawid het hom nie hieroor ontstel of hardnekkig aangehou om dit ondanks hierdie teleurstellende verwikkeling te probeer nastreef nie, maar hy het eerder sy doelwitte verander. Hy het al sy kragte ingespan om die fondse en materiaal bymekaar te kry wat sy seun nodig sou hê om die projek te voltooi.—1 Konings 8:17-19; 1 Kronieke 29:3-7.

Al slaag ons daarin om ons persoonlike vlak van hoop te verhoog deur teen pessimisme te stry en positiewe, doelgerigte denke te ontwikkel, sal ons moontlik nog steeds ’n diepgaande gebrek aan hoop hê. Hoe so? Wel, baie van die wanhoop waarvoor ons in hierdie wêreld te staan kom, word veroorsaak deur faktore wat heeltemal buite ons beheer is. Hoe kan ons dan ’n hoopvolle uitkyk behou wanneer ons dink aan die oorweldigende probleme wat die mensdom teister—die armoede, die oorloë, die onregte, die immerdreigende gevaar van siekte en die dood?

[Prent op bladsy 7]

Wanneer jy nie die werk kry wat jy wou hê nie, neem jy aan dat jy nooit werk sal kry nie?

[Prent op bladsy 8]

Koning Dawid was aanpasbaar wat doelwitte betref