Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waar kan jy ware hoop vind?

Waar kan jy ware hoop vind?

Waar kan jy ware hoop vind?

JOU horlosie het gaan staan, en dit lyk of dit stukkend is. Maar wanneer jy dit wil laat regmaak, kom jy voor ’n magdom keuses te staan. Daar is volop advertensies vir horlosieherstelwerk, en hulle almal maak indrukwekkende beloftes, waarvan party teenstrydig is. Maar gestel jy vind uit dat een van jou bure jare gelede die vindingryke ontwerper van daardie spesifieke horlosie was? Wat meer is, jy vind uit dat hy bereid is om jou kosteloos te help. Jou keuse sal voor die hand liggend wees, nie waar nie?

Vergelyk daardie horlosie nou met jou eie vermoë om hoopvol te bly. As jy vind dat jy—soos baie in hierdie moeilike tye—hoop verloor, tot wie sal jy jou om hulp wend? Baie mense beweer dat hulle die probleem kan oplos, maar die tallose voorstelle kan verwarrend en teenstrydig wees. Jy kan jou gerus tot die Een wend wat die mensdom in die eerste plek met die vermoë geskep het om hoop te hê. Die Bybel sê dat “hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie” en dat hy graag wil help.—Handelinge 17:27; 1 Petrus 5:7.

’n Omvattender definisie van hoop

Die Bybel se konsep van hoop is breër en omvattender as die een wat algemeen is onder hedendaagse dokters, wetenskaplikes en sielkundiges. Die woorde wat in die oorspronklike tale van die Bybel gebruik word en met “hoop” vertaal word, beteken om gretig te wag en die goeie te verwag. Hoop bestaan basies uit twee elemente. Dit behels die begeerte na iets goeds sowel as die grondslag vir die oortuiging dat iets goeds sal kom. Die hoop wat die Bybel bied, is nie blote wensdenkery nie. Dit is stewig gegrond op feite en bewyse.

In hierdie verband is daar ’n ooreenkoms tussen hoop en geloof, wat gegrond moet wees op bewyse—nie op liggelowigheid nie (Hebreërs 11:1). Die Bybel onderskei nietemin tussen geloof en hoop.—1 Korintiërs 13:13.

Ter toeligting: As jy ’n goeie vriend ’n guns vra, hoop jy dalk dat hy jou sal help. Jou hoop is nie ongegrond nie, want jy het geloof in jou vriend—jy ken hom goed en jy het in die verlede gesien hoe goedhartig en vrygewig hy is. Jou geloof en jou hoop hou nou met mekaar verband, en is selfs onderling afhanklik, maar hulle is afsonderlike eienskappe. Hoe kan jy sulke hoop op God stel?

Die grondslag vir hoop

God is die bron van ware hoop. In Bybeltye is Jehovah “die hoop van Israel” genoem (Jeremia 14:8). Enige betroubare hoop wat sy volk gehad het, het van hom gekom; gevolglik was hy hulle hoop. Sulke hoop het nie net uit wense bestaan nie. God het hulle ’n vaste grondslag vir hoop gegee. Hy het deur die eeue heen in sy handelinge met hulle ’n reputasie opgebou as iemand wat sy beloftes nakom. Hulle leier Josua het vir Israel gesê: “Julle weet goed . . . dat nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, onvervuld gebly het nie.”—Josua 23:14.

Duisende jare later geld dit nog. Die Bybel is vol van God se merkwaardige beloftes asook die akkurate geskiedkundige verslae van hulle vervulling. Sy profetiese beloftes is so betroubaar dat dit soms opgeteken is asof dit reeds vervul is toe dit gemaak is.

Dit is waarom ons van die Bybel as die boek van hoop kan praat. Namate jy meer omtrent God se handelinge met mense leer, sal jy al hoe meer redes vind om jou hoop op hom te stel. Die apostel Paulus het geskryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê.”—Romeine 15:4.

Watter hoop gee God ons?

Wanneer het ons die grootste behoefte aan hoop? Is dit nie wanneer ons voor die dood te staan kom nie? Maar baie voel dat dit juis op so ’n tyd—wanneer die dood byvoorbeeld ’n geliefde wegneem—die moeilikste is om hoopvol te bly. Wat kan immers hopeloser wees as die dood? Ons lewe voortdurend in die skadu daarvan. Ons kan dit net so lank vermy, en ons kan dit nie ongedaan maak nie. Die Bybel noem die dood dus heel gepas “die laaste vyand”.—1 Korintiërs 15:26.

Hoe kan ons dan hoop vind wanneer ons voor die dood te staan kom? Wel, die Bybelvers wat die dood die laaste vyand noem, sê ook dat dit ‘tot niet gemaak sal word’. Jehovah God is sterker as die dood. Hy het dit al by verskeie geleenthede bewys. Hoe? Deur die dooies op te wek. Die Bybel beskryf nege verskillende gevalle waar God sy krag gebruik het om dooies op te wek.

In ’n uitsonderlike geval het Jehovah sy Seun, Jesus, die krag gegee om sy geliefde vriend genaamd Lasarus op te wek, wat al vier dae lank dood was. Jesus het dit nie in die geheim gedoen nie, maar openlik, voor ’n skare toeskouers.—Johannes 11:38-48, 53; 12:9, 10.

Jy wonder dalk: ‘Waarom is mense opgewek? Het hulle nie in elk geval uiteindelik oud geword en weer gesterf nie?’ Hulle het. Maar omdat ons betroubare verslae van opstandings soos hierdie een het, kan ons meer as net die begeerte hê dat ons afgestorwe dierbares weer moet lewe; ons het rede om te glo dat hulle weer sal lewe. Met ander woorde, ons het ware hoop.

Jesus het gesê: “Ek is die opstanding en die lewe” (Johannes 11:25). Hy is die Een vir wie Jehovah die krag sal gee om mense op ’n wêreldskaal op te wek. Jesus het gesê: “Die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is, [Christus se] stem sal hoor en sal uitkom” (Johannes 5:28, 29). Ja, almal wat in die graf slaap, het die vooruitsig om tot lewe op ’n paradysaarde opgewek te word.

Die profeet Jesaja het hierdie roerende beskrywing van die opstanding gegee: “U dooies lewe, hulle liggame sal weer opstaan. Dié wat in die aarde slaap, sal wakker word en jubel; want u dou is ’n dou van skitterende lig, en die aarde sal weer geboorte skenk aan diegene wat lankal dood is.”—Jesaja 26:19, The New English Bible.

Is dit nie vertroostend nie? Die dooies is in die veiligste situasie denkbaar, soos ’n baba wat veilig in die moederskoot is. Ja, diegene wat in die graf rus, word volmaak bewaar in die eindelose geheue van die almagtige God (Lukas 20:37, 38). En binnekort sal hulle opgewek word in ’n gelukkige, vreedsame wêreld net soos ’n pasgebore baba deur ’n liefdevolle, wagtende gesin verwelkom word! Daar is dus hoop selfs wanneer ’n mens voor die dood te staan kom.

Wat hoop vir jou kan doen

Paulus leer ons baie omtrent die waarde van hoop. Hy het gesê dat hoop ’n noodsaaklike deel van die geestelike wapenrusting is—die helm (1 Tessalonisense 5:8). Wat het hy daarby bedoel? Wel, in Bybeltye het ’n soldaat ’n metaalhelm op die slagveld gedra, dikwels bo-oor ’n vilt- of leermus. Danksy die helm sou die meeste houe teen die kop gedeflekteer word sonder om die soldaat noodlottig te wond. Wat was Paulus se punt? Net soos ’n helm die kop beskerm, beskerm hoop die verstand, die denkvermoë. As jy ’n vaste hoop in ooreenstemming met God se voorneme het, hoef jou gemoedsrus nie versteur te word deur paniek of wanhoop wanneer jy met probleme te kampe het nie. Wie van ons het nie so ’n helm nodig nie?

Paulus het nog ’n goeie illustrasie gebruik vir hoop wat met God se wil verband hou. Hy het geskryf: “Hierdie hoop het ons as ’n anker vir die siel, seker sowel as vas” (Hebreërs 6:19). Paulus was meer as een keer ’n skipbreukeling en was derhalwe goed vertroud met die waarde van ’n anker. In ’n storm het die matrose die skip se anker laat sak. As dit ’n plek op die seebodem gekry het om aan vas te haak, het die skip ’n kans gehad om veilig deur die storm te kom pleks van na die kus gewaai te word en op die rotse te loop.

As God se beloftes eweneens vir ons ’n ‘sekere sowel as vaste’ hoop is, kan daardie hoop ons help om veilig deur hierdie stormagtige tye te kom. Jehovah belowe dat daar binnekort ’n tyd sal wees wanneer die mensdom nie meer deur oorloë, misdaad, droefheid en selfs die dood geteister sal word nie. (Sien die venster op bladsy 10.) As ons aan daardie hoop vashou, kan dit ons help om rampspoed te vermy en ons die aansporing gee wat ons nodig het om volgens God se standaarde te lewe en nie te swig voor die chaotiese, onsedelike gees wat in vandag se wêreld heers nie.

Die hoop wat Jehovah bied, raak jou ook persoonlik. Hy wil hê dat jy die lewe moet ondervind soos hy wou hê jy dit moes geniet. Hy wil hê dat “alle soorte mense gered moet word”. Hoe? Eerstens moet elkeen “tot juiste kennis van die waarheid . . . kom” (1 Timoteus 2:4). Die uitgewers van hierdie tydskrif spoor jou aan om daardie lewegewende kennis aangaande die waarheid van God se Woord op te doen. Die hoop waarmee God jou sal vervul as jy dit doen, is ver verhewe bo enige hoop wat jy in hierdie wêreld kan vind.

Met hierdie hoop hoef jy nooit hulpeloos te voel nie, want God kan jou die nodige krag gee om enige van jou doelwitte te bereik wat in ooreenstemming met sy wil is (2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:13). Het jy nie hierdie soort hoop nodig nie? As jy dus hoop nodig het, as jy daarna soek, skep moed. Hoop is byderhand. Jy kan dit vind!

[Venster/Prent op bladsy 10]

Redes vir hoop

Hierdie skriftuurlike gedagtes kan jou help om jou hoop te versterk:

God belowe ’n gelukkige toekoms.

Sy Woord sê dat die hele aarde ’n paradys sal word waarin ’n gelukkige, verenigde mensegesin sal woon.—Psalm 37:11, 29; Jesaja 25:8; Openbaring 21:3, 4.

God kan nie lieg nie.

Hy haat alle soorte leuens. Jehovah is oneindig heilig of rein; dit is dus onmoontlik vir hom om te lieg.—Spreuke 6:16-19; Jesaja 6:2, 3; Titus 1:2; Hebreërs 6:18.

God het onbeperkte krag.

Jehovah alleen is almagtig. Niks in die heelal kan hom keer om sy beloftes te vervul nie.—Eksodus 15:11; Jesaja 40:25, 26.

God wil hê dat jy vir ewig moet lewe.

Johannes 3:16; 1 Timoteus 2:3, 4.

God kyk na ons met hoop.

Hy kies om nie sy aandag op ons foute en swakhede te vestig nie, maar eerder op ons goeie eienskappe en pogings (Psalm 103:12-14; 130:3; Hebreërs 6:10). Hy hoop dat ons sal doen wat reg is en is gelukkig wanneer ons dit doen.—Spreuke 27:11.

God belowe om jou te help om jou godvrugtige doelwitte te bereik.

Sy knegte hoef nooit hulpeloos te voel nie. God maak sy heilige gees, die sterkste krag wat daar is, ruimhartig beskikbaar om ons te help.—Filippense 4:13.

Hoop op God is nooit misplaas nie.

Omdat hy heeltemal betroubaar is, sal hy jou nooit in die steek laat nie.—Psalm 25:3.

[Prent op bladsy 12]

Net soos ’n helm die kop beskerm, beskerm hoop die verstand

[Prent op bladsy 12]

’n Hoop met ’n vaste grondslag kan soos ’n anker stabiliteit voorsien

[Erkenning]

Courtesy René Seindal/Su concessione del Museo Archeologico Regionale A. Salinas di Palermo