Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Peru se buitengewone grafte—Wat dit ons kan leer

Peru se buitengewone grafte—Wat dit ons kan leer

Peru se buitengewone grafte—Wat dit ons kan leer

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN PERU

’N MENS kan baie van ’n volk leer uit die manier waarop hulle hulle dooies behandel. Hierdie feit is veral duidelik in Peru, ’n land waarop baie volke hulle stempel afgedruk het—onder meer die Mochicas, die Chimu’s, die Nazcas, die Chachapoyas, die Collas en die Inkas. Elke kultuur het sy eie begrafnisgebruike gehad, wat hulle kenmerkende opvattings oor die hiernamaals weerspieël het.

Wetenskaplikes sowel as grafrowers het duisende grafte opgegrawe en goed bewaarde lyke gevind wat in etlike meters geweefde materiaal of ongeweefde katoen toegedraai is. Van die materiaal is pragtig geweef met verskillende patrone. Duisende goed bewaarde, gebalsemde lyke is al in die warm, droë woestynsand gevind, wat die grootste deel van Peru se Pasifiese kus bedek.

Grafte van vooraanstaandes

Lyke van koninklikes wat saam met fabelagtige rykdom, swaarde en koninklike embleme begrawe is, is al uit Mochica-grafte gehaal. Daar is ook ander mense saam met hulle begrawe. Knegte is blykbaar geoffer om hulle hoofman in die hiernamaals te vergesel. Sommige se voete is selfs afgesny. Waarom? Een teorie is dat die doel was om dit vir hierdie knegte onmoontlik te maak om hulle pos in die onderwêreld te verlaat.

Naby die Titicaca-meer, op ’n hoogte van 3 827 meter, is daar indrukwekkende grafkelders wat chullpas genoem word. Dit is kliptorings wat tot 12 meter hoog en bo wyer as onder is. Die lyke van die adellikes van die Colla-volk, wat deur die Inkas verower is, is waarskynlik daarin gehou. Op sommige van die grafte is daar graverings van slange, katte en ape. Hierdie diere is as bewakers van die onderwêreld aanbid.

By Karajia, naby die dorp Chachapoyas, is daar grafte wat die verbeelding aangryp. Twee meter hoë sarkofae wat van geharde klei gemaak is en waarop daar nog oorblyfsels van die oorspronklike eeue-oue verf is, staan op rotslyste. Dit lyk of die gesigte hooghartig frons terwyl hulle oor die groen vallei uitkyk asof hulle oor alles heers wat voor hulle blinde oë uitgestrek lê.

Bewyse van tragiese eindes

In ’n voorstad van Lima het argeoloë onlangs diep grafte ontdek waarin daar ongeveer 2 200 mummies was wat in bondels toegedraai is. Die bondels, wat blykbaar van Inka-oorsprong is, was in ’n uitstekende toestand. Een van hulle wat ontsaglik groot was, het 240 kilogram geweeg en was 1,8 meter hoog. Dit het twee lyke bevat—een van ’n Inka-edelman wat in 140 kilogram onverwerkte katoen toegedraai is en langs hom die lyk van ’n kind wat moontlik aan die volwassene verwant was. ’n Mens kan maar net wonder oor die omstandighede wat so lank gelede tot hierdie sterftes aanleiding gegee het.

Die lyke van kinders wat aan die gode van die Andesgebergte geoffer is, is minder raaiselagtig—maar nie minder tragies nie. Die ouers van hierdie kinders het dit moontlik as ’n voorreg beskou om hulle kinders na die “hiernamaals” te stuur, dalk as boodskappers vir die gode. Die kinders is gewoonlik by of naby ’n bergpiek begrawe. Die lyk van een jong meisie, wat eeue lank versteek was, is op ’n hoogte van ongeveer 5 000 meter op die sneeubedekte Sara Sara in Ayacucho gevind. Hierdie geofferde kinders is in mantels toegedraai, soms met geskenke en aandenkings, soos klein goue of silwer beeldjies van llamas, naby hulle.

Hoop vir die dooies—Waarop was dit gegrond?

Hierdie vergange beskawings in Peru is nie die enigstes met begrafnisrituele wat gegrond is op die opvatting dat daar ’n geheimsinnige hiernamaals bestaan nie. Selfs hedendaagse kulture toon op verskeie maniere dat hulle in lewe ná die dood belangstel.

Opvattings oor die hiernamaals verskil vandag grootliks. Baie mense glo byvoorbeeld in reïnkarnasie, sielsverhuising, die vaevuur, die helse vuur en die idee dat jy met die dooies kan kommunikeer. Hierdie leerstellings is almal gegrond op ’n algemene opvatting—dat net die liggaam sterf en dat iets onsterfliks ná die dood voortleef. Die Bybel ondersteun nie een van hierdie idees nie.—Prediker 3:18-20; 9:5, 10; Esegiël 18:4.

Die Bybel leer eerder dat die mens self ’n lewende siel is, ’n sterflike lewende wese (Genesis 2:7). Maar die Woord van God bied ook ’n wonderlike hoop vir die dooies. Dit leer dat daar “’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges sal wees” (Handelinge 24:15). Die Bybel praat nie net van so ’n hoop nie. Dit bevat die geskrewe ooggetuieverslae van ’n aantal opstandings (Johannes 11:17-47; 1 Korintiërs 15:3-6). Watter wonderlike vooruitsig is daar tog vir die miljoene wat deur die eeue heen geleef en gesterf het!

[Prent op bladsy 13]

Sarkofae by Karajia (bo)

[Erkenning]

© Mylene D’Auriol/PromPerú

[Prent op bladsy 13]

Graftorings wat 12 meter hoog is, naby die Titicaca-meer

[Erkenning]

© Carlos Sala/PromPerú

[Prente op bladsy 14]

’n Jong meisie se bevrore liggaam is hoog in die Andes gevind

Argeoloë het ongeveer 2 200 mummies naby Lima ontdek

[Erkennings]

Links bo: © Alejandro Balaguer/PromPerú; inlas: Ira Block/NGS Image Collection