Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die mees bedreigde katsoort op aarde

Die mees bedreigde katsoort op aarde

Die mees bedreigde katsoort op aarde

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

Die los is al lank daarvoor bekend dat hy goed kan sien en goeie reflekse het. Wanneer iemand ’n goeie insig in sake het, sê die Spanjaarde dat hy “die oë van ’n los” het. Ongelukkig is die Iberiese los (Lynx pardinus) nou vir iets anders bekend wat niks te doen het met die feit dat hy goed kan sien of slim is nie. Hy word beskou as “die mees bedreigde katsoort ter wêreld”. a

Jare gelede het die Iberiese los oral in Portugal en Spanje en waarskynlik tot in die Franse Pireneë voorgekom. Deesdae is daar net ’n paar verspreide groepe in die suidwestelike gebied van die Iberiese Skiereiland oor. Maar in slegs sowat twee van hierdie groepe is daar genoeg diere wat kan voortplant om hulle voortbestaan te verseker, en die aantal losse het kommerwekkend vinnig afgeneem.

Volgens party skattings het die aantal Iberiese losse nou tot onder 200 afgeneem. Wat het tot hierdie rampspoedige afname gelei? Volgens party is die hoofrede die ernstige tekort aan hulle vernaamste prooi, die konyn, wat deur verskeie miksomatose-epidemies afgemaai is. Daarbenewens is sommige losse in wilddiewe se strikke gevang of op die hoofpaaie doodgery. En gebiede met ’n geskikte habitat vir hulle raak al hoe meer versplinter. ’n Onlangse verslag van die Wêreld-natuurfonds sê dat hierdie probleme daartoe gelei het dat die krimpende bevolking nou net in afgesonderde groepies voorkom.

Hoewel sowat 230 miljoen rand opsygesit is om die bedreigde los te red, het ’n groep deskundiges die situasie onlangs as “dramaties” beskryf. Volgens Nicolás Guzmán, die koördineerder van die Nasionale Plan vir die Bewaring van die Iberiese Los, is daar ‘net tussen 22 en 32 wyfies wat kan voortplant’ onder die minder as 200 diere wat nog in die natuur oor is. Hy het bygevoeg: ‘Die behoud van die spesie sal van hulle afhang.’ Ongelukkig weerspieël die verhaal van die Iberiese los die situasie van gans te veel van die aarde se pragtige diere.

[Voetnoot]

a Die Iberiese, of Spaanse, los is as “ernstig bedreig” geklassifiseer in die Red List, die Internasionale Vereniging vir die Bewaring van die Natuur en Natuurlike Hulpbronne se lys van diere wat gevaar loop om uit te sterf.

[Foto-erkennings op bladsy 18]

Foto © Fernando Ortega

sos lynx