Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gebore om te leer

Gebore om te leer

Gebore om te leer

“Voëls vlieg, visse swem; die mens dink en leer.”—JOHN HOLT, SKRYWER EN OPVOEDKUNDIGE.

’N PASGEBORE wildsbokkie het ’n instinktiewe drang om op sy lang, wankelrige bene te kom en sy ma te volg. Maar ’n mensebaba sal miskien eers ná ’n jaar begin loop. Die mens is egter begaaf met ’n waarlik ongelooflike brein wat oneindig voortrefliker is as dié van enige dier. Hierdie voortreflikheid word weerspieël in ’n kind se onversadigbare weetgierigheid en in sy gretigheid om dinge te ontdek en nuwe dinge te leer.

Normale, gesonde babas bevredig hierdie nuuskierigheid deur hulle wêreld in ’n soort laboratorium te omskep. Gee vir hulle enigiets en hulle sal dit met al hulle sintuie ondersoek, hulle sal selfs daaraan proe! En die eksperimentering hou nie daar op nie. Soos elke ouer weet, sal babas—dikwels met groot genot—dinge buig, slaan, skud en breek in ’n poging om hulle omgewing te verstaan en te ervaar.

Kinders se leergierigheid kom selfs duideliker na vore wanneer hulle begin praat—op sigself ’n ongelooflike prestasie! Dit lyk of kinders oornag die beliggaming van die vraagteken word. ’n Onophoudelike spervuur van vrae soos ‘Hoekom dit?’ ‘Hoekom dat?’ stroom uit hulle monde, en dit beproef baie ouers se geduld. “Baie van wat [hulle] leer, leer hulle in groot vlae van opgewondenheid en entoesiasme”, het die skrywer John Holt gesê.

Dan, ’n paar jaar later, betree kinders in baie lande ’n nuwe wêreld van studie, wat uit onderwysers, handboeke, lessenaars en moontlik honderde ander kinders bestaan. Ná jare van skoolgaan is baie kinders ongelukkig minder gretig om op hierdie manier te leer. Party begin skool selfs as spanningsvol en oninteressant beskou. Dalk verveel sekere vakke of onderwysers hulle. Of miskien veroorsaak die druk om goeie punte te behaal dat hulle geweldig angstig word.

Aangeleerde negatiewe gesindhede teenoor hierdie manier van leer, kan voortduur tot wanneer die persoon volwasse en selfs bejaard is, wat hom laat wegskram van enigiets wat diep dinkwerk, studie of navorsing verg. Bejaardes het ’n verdere struikelblok om te oorkom—die opvatting dat bejaardheid outomaties ’n mens se leervermoë belemmer. Maar soos ons sal sien, is hierdie beskouing ongegrond.

Wil jy graag, ongeag jou ouderdom, jou leervermoë verbeter en meer leergierig wees? Wil jy, as jy ’n ouer is, hê dat jou kinders beter studente moet wees en deur hulle skooljare heen en daarna genot daaruit moet put om te leer? Lees dan asseblief verder.

[Prent op bladsy 2]

Kinders is leergierig

[Prent op bladsy 3]

Ongelukkig ervaar baie jongmense spanning en angs by die skool