Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gee God werklik om vir kinders?

Gee God werklik om vir kinders?

Die Bybel se beskouing

Gee God werklik om vir kinders?

HONDERDMILJOENE kinders word elke jaar uitgebuit, mishandel en aangerand. Baie werk feitlik as slawe onder gevaarlike toestande. Ander word ontvoer en gedwing om soldate of kinderprostitute te word. Die vertroue van baie kinders word verder geskend deur bloedskande en ander afgryslike dade van kindermishandeling.

Dit is te verstane dat opregte, besorgde mense ontsteld is oor die benarde situasie waarin kinders hulle bevind. Hoewel sommige erken dat sulke mishandeling hoofsaaklik die gevolg is van die mens se selfsug en verdorwenheid, vind hulle dit dalk nog steeds moeilik om te aanvaar dat ’n God van liefde so ’n onreg sal toelaat. Hulle voel moontlik dat God hierdie kinders aan hulle lot oorgelaat het en dat hy dalk nie werklik omgee nie. Is dit waar? Beteken die tragiese feit dat kinders uitgebuit en dikwels mishandel word dat God nie vir hulle omgee nie? Wat sê die Bybel?

God veroordeel kindermishandelaars

Dit was nooit Jehovah God se voorneme dat kinders deur gewetenlose volwassenes uitgebuit word nie. Kindermishandeling is een van die tragiesste gevolge van die mens se opstand in die tuin van Eden. Daardie verwerping van God se soewereiniteit het daartoe gelei dat mense hulle naaste wreed uitbuit.—Genesis 3:11-13, 16; Prediker 8:9.

God verafsku diegene wat swak en weerlose mense misbruik. Baie eertydse nasies wat Jehovah nie gedien het nie, het kinderofferandes gebring, maar Jehovah het gesê dat dit iets is ‘wat hy nie beveel het nie en wat in sy hart nie opgekom het nie’ (Jeremia 7:31). God het sy eertydse volk gewaarsku: “As jy [die vaderlose seun] hoegenaamd verdruk, dan sal ek, as hy enigsins tot my roep, sy geroep sekerlik hoor; en my toorn sal inderdaad ontvlam.”—Eksodus 22:22-24.

Jehovah het kinders lief

God se besorgdheid oor kinders blyk duidelik uit die wyse voorskrifte wat hy aan menseouers gee. Kinders wat grootword in ’n huis waar hulle geborge voel, het ’n beter kans om ryp, goed aangepaste volwassenes te word. Daarom het ons Skepper die huwelik ingestel, ’n lewenslange reëling waarvolgens ‘’n man sy vader en sy moeder sal verlaat, sy vrou sal aankleef en hulle een vlees sal word’ (Genesis 2:24). Volgens die Bybel is geslagsomgang slegs binne die huwelik geoorloof sodat enige kinders wat gebore word, in ’n stabiele milieu kan opgroei.—Hebreërs 13:4.

Die Skrif beklemtoon ook hoe belangrik ouerlike opleiding is. “Seuns is ’n erfdeel van Jehovah”, sê die Bybel, “die vrug van die moederskoot is ’n beloning. Soos pyle in die hand van ’n sterk man, so is die seuns van die jeug” (Psalm 127:3, 4). Kinders is ’n kosbare gawe van God, en hy wil hê dat hulle moet floreer. God vermaan ouers om hulle kinders goeie leiding in die lewe te gee, net soos ’n boogskutter versigtig mik wanneer hy sy pyle afskiet. “Vaders”, beveel God se Woord, “moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.”—Efesiërs 6:4.

Nog ’n manier waarop Jehovah toon dat hy lief is vir kinders, is deur ouers te leer om hulle kinders teen kindermisdadigers te beskerm. In eertydse Israel is selfs “die kindertjies” beveel om na die Wet te luister, wat onder andere geoorloofde en ongeoorloofde seksuele gedrag beskryf het (Deuteronomium 31:12; Levitikus 18:6-24). God wil hê dat ouers alles in hulle vermoë moet doen om hulle kinders te beskerm teen enigeen wat hulle dalk sal uitbuit of mishandel.

’n Hoop vir kinders

Jehovah se blywende liefde vir kinders is op ’n wonderlike wyse geopenbaar deur Jesus Christus, wat sy Vader se persoonlikheid volmaak weerspieël (Johannes 5:19). Toe Jesus se apostels, in ’n misplaaste poging om hom te help, ouers verhinder het om hulle klein kindertjies na hom toe te bring, het Jesus hulle met verontwaardiging berispe. “Laat die jong kinders na my toe kom”, het hy gesê. Toe het “hy . . . die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën” (Markus 10:13-16). Kinders is nie gering in die oë van Jehovah God of sy Seun nie.

Trouens, God sal binnekort deur middel van sy aangestelde Koning, Jesus Christus, optree om kinders wat mishandel word, te red. Diegene wat ander selfsugtig uitbuit en gewetenloos mishandel, sal vir ewig verwyder word (Psalm 37:10, 11). Aangaande die sagmoediges wat Jehovah soek, sê die Bybel: “Hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.

Intussen toon God nou sy liefde deur geestelike en emosionele hulp aan te bied vir almal wat uitgebuit en mishandel word. “Die een wat verlore is, sal ek soek”, belowe hy, “en die een wat weggedryf is, sal ek terugbring en die een wat gewond is, sal ek verbind en die sieke sal ek versterk” (Esegiël 34:16). Deur sy Woord, sy heilige gees en die Christengemeente vertroos Jehovah verdrukte en armoedige kinders. Wat ’n vreugde is dit tog om te weet dat “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting . . . ons [nou] in al ons verdrukking vertroos”, net soos hy in die toekoms sal doen.—2 Korintiërs 1:3, 4

[Foto-erkenning op bladsy 18]

© Mikkel Ostergaard /Panos Pictures